SAL staak vlugte na Hongkong

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gaan sy vlugte tussen Johannesburg en Hongkong vir amper ʼn maand lank opskort.

Die SAL se vlugte na Hongkong sal van Saterdag 23 November tot 14 Desember gestaak word.

Die besluit is geneem om beduidende finansiële verliese op die roete te bekamp, wat deur die voortslepende politieke spanning in Hongkong vererger word.

“Die besluit om dienste na Hongkong op te skort is betreurenswaardig, maar word genoodsaak deur die huidige afswaai in sake weens die uitdagings in die streek. Deur hierdie vlugte op te skort, kan ons daarop konsentreer om meer streeksdienste so gou as moontlik te hervat en al ons hulpbronne beter te benut,” het Philip Saunders, bedryfshoof van die SAL, gesê.

Die SAL sal kliënte wat reeds vir die tyd vlugte bespreek het, binnekort kontak. Die lugdiens bedryf tans elke week vier vlugte tussen Johannesburg en Hongkong.

Volgens Saunders is die SAL egter nie die enigste lugdiens wat vlugte na Hongkong afskaal nie. Cathay Pacific, Air China, Singapore Airlines, All Nippon Airways en United Airlines is van die lugrederye wat glo ook bedrywighede afgeskaal het.

“Die uitwerking van hierdie verminderde bedrywighede word verder versterk deur ’n jaar-tot-jaar-daling van 13% in passasiersvolumes wat in Oktober 2019 op die Hongkong‑ Internasionale Lughawe aangeteken is.”

Die SAL sal deur die loop van Donderdag verdere aankondigings doen oor die hervatting van bedrywighede na ander streke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gert ·

Nou het die 11000 SAL werknemers wat 10000 te veel is, nog minder werk.

Gemaskerde Sopbeen ·

Nou moet die Chinese van ander lugrederye gebruik maak om na hulle beleggings in Suid Afrika te kom kyk? Dit was nie deel van die ooreenkoms nie?

Hennie ·

Is dit SAA of SAL? Lyk my as dit goed gaan dan is dit SAA maar as dit sleg gaan dan is dit SAL..

Attie. ·

Ek is ‘n swak Suid Afrikaner want wanneer ek wel moet vlieg gaan ek defnitief nie van SAL se vlugte gebruik maak nie. Alles in SA is ‘n gemors, nou waarom sal die gehuurde vliegtuie van SAL dan 1 ste wêreldse instandhouding ontvang? Niemand gaan my oortuig dat die dienste reg uitgevoer word nie….punt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.