SAL-staking: 32 vlugte gekanselleer

Foto: ANA

Minstens 32 SAL-vlugte moes Woensdag gekanselleer word nadat nagenoeg 1 300 kajuitpersoneel, wat eis dat hul internasionale kostoelaag verhoog word, begin staak het.

Die gekanselleerde vlugte sluit 28 plaaslike vlugte, drie streeksvlugte en een internasionale vlug in.

Honderde desperate reisigers het by die SAL-toonbanke by die OR Tambo Internasionale Lughawe tou gestaan nadat hulle gehoor het dat hul vlugte vertraag of heeltemal gekanselleer is. Die stakende kajuitpersoneel eis dat hul internasionale kostoelaag van $130 (R1 710) na $170 (R2 236) verhoog word.

Gift Bilankulu, tesourier van die South African Cabin Crew Association (SACCA), het gesê kajuitpersoneel se kostoelae is nie voldoende wanneer hulle na internasionale bestemmings moet reis waar die lewensomstandighede anders as in Suid-Afrika is nie. Ongeveer 80% van SAL se kajuitpersoneel is lede van SACCA.

Die kajuitpersoneel het Woensdagoggend gesê hulle het geen ander keuse as om te staak nie, aangesien hul kostoelae in die afgelope ses jaar nog nie aangepas is nie.

Ann Skelton, ʼn SAL-passasier wat veronderstel was om ʼn vlug vanaf Johannesburg na Port Elizabeth te haal, het gesê sy is kalm, maar gefrustreerd dat sy in ʼn ry moet wag. “Hulle het nou vir ons gesê die vlug is gekanselleer,” het sy gesê.

Nog ʼn reisiger, Hendry Mathonsi, het gesê hy het vanaf Nelspruit gery om ʼn vlug na Kaapstad te haal vir ʼn werksgeleentheid. “SAL het niks gesê nie. Ons het reeds besprekings aan daardie kant gemaak en as ons nie vandag opdaag nie, weet ons nie of ons vergoed sal word nie,” het hy gesê.

Intussen berig EWN SAL het Woensdagmiddag ʼn hofinterdik bekom om die staking te beëindig en werkers te dwing om onmiddellik terug te keer werk toe.

SAL het vroeër in ʼn verklaring gesê hy het SACCA ingelig dat hy die hof sal nader om ʼn einde aan die staking te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Ada ·

Sal in my lewe nooit SAL vlieg nie. Te korrup ,vraatsug en uitgevreet.

Henry ·

Kan nie glo dat daar steeds siele is wat met SAA/SAL van een punt na die ander strompel nie!!!

Walt ·

As ek so na die fotos kyk lyk dit vir my of nóg kos die laaste sing is wat hulle nodig het. Jammer om dit te sê.

Walt ·

Ek bedoel ding, nie sing nie. So geskok nou oor sulke blatantheid ek kan nie eers reg tik nie.

Oosie ·

Dit is uiters laag en gemeen. Die personeel het lankal alles noukeurig beplan. Hulle het met opsit die langnaweek gekies om soveel as moontlik onskuldige mense seer te maak. Daar is studente wat graag wou huis toe gaan, mense oppad na begrafnisse, werksonderhoude, ens. Geleenthede wat verlore gegaan het a.g.v. selfsugtige mense wat al voor of na die langnaweek kon gestaak het as dit dan nou moes gebeur. ‘n Paar dae terug was dit die landswye busstaking ook voor die langnaweek… Die mense werf geen simpatie met hulle saak nie en hul optrede het die teenoorgestelde uitwerking. Hulle is en bly ‘n klomp boewe wat vir niks en niemand omgee nie. Waar is die dae wat ‘n mens hul sommer sou kon wegjaag en die werk vir iemand kon gee wat dit met waardering sou doen.

Mike ·

So how much do yòu earn every month? The SAA staff are not the selfish ones?

Pim09 ·

Gaan soek dan ander werk Mike! SAL se staff is ‘overpaid’

Pieter ·

Verhoging van $130 na $170 wat freet die lot, Burger king meal kos max $10. Dis spending money vir die lot, almal by SAL vertel hoe die lot baklei om buitelandse vlugte te kry en vat dan hul gesinne saam, goed om te sien die lot gee ook nie om dat hul binnekort sonder week gaan sit nie! Lekker man!

Ouma ·

Nouja! Ons wat op pensioen is, moet dan ook ekstra vir ons etes kry. Of hoe?

George ·

Vrate.Die SAL moet seker vir kos vir offspring en anties en uncles ook betaal en moennie die ouma en oupa vergeet nie.Die vlugte is seker so vol familie dat daar nie plek is vir passasiers nie?Wie betaal vir familie se reiskostes?

Sies ·

Die vliegtuie is in elk geval so vuil geen mens kan die kos wat hulle aanbied eet nie. Ek bied graag myne ete aan!

popeye ·

Dit laat my dink aan “Drie kaalkoppe eet tesame” van Jan Rabie.

Willemien ·

Gee eerder vir hulle vouchers dan weet ons hulle eet kos daarmee en koop nie allerhande ander luukse artikels daarmee nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.