SAL-staking beëindig

Foto: ANA

Suid-Afrikaanse kajuitpersoneel het Woensdag gesê hulle sal terugkeer werk toe nadat ‘n arbeidshofinterdik ʼn einde aan hul staking gebring het.

Ongeveer 200 kajuitpersoneel het vandag buite SAL se hoofkantoor in Kempton Park saamgedrom in protes teen hul internasionale kostoelae wat volgens hulle nog nie in die afgelope ses jaar aangepas is nie. Die stakende kajuitpersoneel eis dat hul internasionale kostoelaag van $130 (R1 710) na $170 (R2 236) verhoog word.

SAL het vandag die hof met ʼn dringende aansoek genader om die staking onwettig te verklaar en die kajuitpersoneel te dwing om hul pligte te hervat. Die lugredery het vroeër gesê altesaam 32 vlugte moes gekanselleer word weens die staking.

SAL het die South African Cabin Crew Association (SACCA) ingelig dat hulle beplan om die hof te nader waarna SACCA by die hof uitstel versoek het om hulle in staat te stel om hofdokumente in antwoord op SAL se hofaansoek in te dien. SACCA het egter versuim om die spertyd van 13:00 te haal om die interdik teen te staan.

SAL het in sy hofdokumente gesê die personeel het op ʼn onbeskermde staking gegaan en het die hof versoek om ʼn bevel uit te reik om werknemers te verhoed om aan die staking deel te neem. SAL het ook versoek dat die hof in sy bevel SACCA verbied om deelname aan die staking aan te moedig.

Alf Lees, die DA se skaduminister van finansies, het gesê hy verwelkom die hofinterdik wat ʼn einde aan die staking gebring het. Lees het gesê die staking is slegs ʼn simptoom van ʼn baie groter krisis by SAL. “Die feit is dat Dudu Myeni, wat meer soos ʼn korporatiewe oorlogslid as ʼn voorsitter optree, hierdie lugredery ten gronde laat gaan het en SAL bankrot gemaak het,” het hy gesê.

“ʼn Skokkende verlies van R4.5 miljard word vir 2016/17 voorspel, wat bygevoeg word by die R1,5 miljard verlies in 2015/16 en R5,6 miljard verlies in 2014/15.”

Lees het gesê altesaam R19,1 miljard se regeringswaarborge is reeds gebruik, wat beteken SAL sal waarskynlik nog ʼn finansiële reddingsboei binne die volgende 12 maande benodig. “Die feit is dat SAL nou in ʼn krisis is wat Suid-Afrika se kredietgradering affekteer,” het Lees gesê.

“Ek het daarom aan die voorsitter van die staande komitee oor finansies, Yunus Carrim, geskryf om ʼn dringende vergadering met SAL op 4 of 5 Mei in die parlement te belê.”

NUMSA het gesê hy sal regsadvies oor die hofinterdik inwin. “Ons glo die interdik is foutief omdat ons as ʼn erkende vakbond by SAL nie deel van die aansoek was nie,” het Phakhamile Hlubi, NUMSA se woordvoerder, gesê. “SAL is verplig om seker te maak dat alle belanghebbendde partye die geleentheid gegun word om te reageer en dit het nie gebeur nie. Ons hoor nou by ons prokureurs wat ons volgende stap sal wees.”

SACCA het gesê sy lede sal terugkeer werk toe terwyl onderhandelinge met die bestuur van SAL voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leo ·

Hulle lyk nie honger nie. Dit lyk of hulle te veel eet sou ek se.

Liefie ·

Dit het my gister 12 ure gevat om huis toe kom en dit moes my eintlik net 2 ure gevat het. Ek moes van Lusaka af Kigali toe vlieg en toe van Kigali af OR Tambo toe. Ons het vanoggend 3h27 op OR Tambo gestop. Ek reis vir n lewe en is dus n voyager Platinum lid maar na gister kan SAA hulle voyager lidmaatskap en punte druk waar die son nie skin nie. Ek persoonlik gaan hulle nou book or sover ek kan. As ek nie SAA hoef te gebruik nie gaan ek nie en as ek moet gaan ek seker maak elke liewe SAA lid op die vliegtuig gaan die hele tyd rond draft agter my aan want ek gaan verseker dat hulle die hele tyd werk. Ek slaap nooit weer op n SAA vlug nie en ek gaan nooit weer dink aan die arme crew nie. Nee van nou af gaan ek hulle laat werk vandag ek op klim tot ek land!!!

AJ ·

Blykbaar word Qatar Airlines se bemanning $87 per dag S&T. Saam personeel eis ‘n verhoging van $130 na $170. Klink vir my bra vraatsugtig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.