SAL steeds in die moeilikheid ondanks reddingsboei

Argieffoto

SAL se verliese vir die huidige boekjaar sal na verwagting by R4 miljard draai, het die staatslugredery se finansiële hoof Woensdag in die parlement gesê.

Phumeza Nthantsi het gesê die rede waarom die maatskappy se verliese die verwagte R2,8 miljard sal oorskry, hou grootliks verband met vyf vliegtuie wat uit diens onttrek is, en die lugredery genoop het om sekere vlugte te kanselleer. SAL se instandhoudingsrekening vir die tweede kwartaal het sy begroting met R300 miljoen oorskry.

Vuyani Jarana, die lugredery se nuwe uitvoerende hoof, het aan die parlement se staande komitee oor finansies gesê die maatskappy sal R4 miljard in die hande moet kry om buitelandse en plaaslike skuldeisers teen die einde van Maart 2018 terug te betaal. Dit sluit ʼn lening in by die Amerikaanse Citibank.

Hy het gesê die grootste taak is om “likiditeit terug te bring” na die maatskappy wat tans uitstaande skuld van R13,8 miljard het. SAL het sy laaste reddingsboei van die regering in September ontvang toe Malusi Gigaba, minister van finansies, R3 miljard uit die nasionale inkomstefonds beskikbaar gestel het om te verhoed dat SAL agterstallig raak met sy Citibank-skuldbetalings.

Gigaba het in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober bevestig SAL sal ʼn R10 miljard kapitaalinspuiting ontvang. SAL het Woensdag gesê hy sal R7 miljard daarvan gebruik om skuldeisers terug te betaal en die res om “korttermyn bedryfskapitaaluitdagings” aan te spreek.

Jarana het egter bevestig dat selfs met die herkapitalisasie sal die maatskappy steeds ondergekapitaliseer wees met ‘n negatiewe ekwiteitsposisie van meer as R9 miljard.

Dit was Jarana se eerste verskyning voor die finansieskomitee sedert hy aan die stuur van sake by die lugdiens is. SAL word gesien as een van die grootste fiskale risiko’s vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Yunus Carrim, voorsitter van die komitee, het die gees van die vergadering, insluitend die beamptes se gewilligheid om vrae te beantwoord, as ʼn welkome skuif bestempel. Die komitee was deel van talle wat geëis het dat Dudu Myeni, die omstrede voormalige SAL-voorsitter, in die pad gesteek word. Myeni is daarvan beskuldig dat sy by bedryfskwessies ingemeng het en sy is ʼn maand gelede afgedank.

Nthantsi het gesê die maatskappy is nie van plan om onmiddellik sy vyf jaar-omdraaistrategie onder Jarana se leierskap te hersien nie, maar sal dit op die proef stel. SAL moet teen 30 Desember ʼn implementeringsplan vir die strategie aan Gigaba voorlê as deel van die voorwaardes van die herkapitalisering.

Jarana het beklemtoon hy is vasbeslote om die lugredery ʼn kommersiële sukses te maak en gesê hy het bemoedigende entoesiasme van die personeel gesien om te help om SAL weer winsgewend te maak.

SAL se langverwagte algemene jaarvergadering is vir 19 Januarie 2018 geskeduleer.

Die lugredery se uitvoerende beamptes het Woensdag die maatskappy se swaar afhanklikheid van skuld toegeskryf aan sy swak kapitaalstruktuur, hoë kostestruktuur, verhoogde mededinging en oormatige afhanklikheid van huurvliegtuie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

HPV ·

Verkoop asseblief die las aan ‘n privaat instansie wat dit tot ‘n winsgewende besigheid kan omskep. Staan dan terug en kyk en leer!

Frikkie Geld en huis ·

Moeilik om niks te verkoop. Behalwe skuld en te veel personeel, het SAL eintlik niks. Die vliegtuie word gehuur en die huurgeld is 10/1 agterstallig.

Paul ·

Dit sal finansieel sin maak om dit teen R1 aan enigiemand wat dit wil koop, te verkoop, terwyl die koper dan slegs soveel van SAA se skuld daarmee saam kry as wat deur die lugdiens se bates gedek word.

Met ander woorde, as SAA se bates sê maar R5 miljard werd is, verkoop dit dan aan iemand vir R1 en daardie persoon moet dan ook R5 miljard van die skuld van SAA voor pa staan.

Die res van die skuld sal dan deur die SA regering (belastingbetaler) gedek moet word, maar ten minste sal die bodemlose put van aanhoudend groeiende skuld weens SAA se bedryfsverliese dan nie meer die belastingbetaler se probleem wees nie. En dalk sal die koper van die lugdiens dit winsgewend kan bedryf, wat ‘n bonus sal wees.

Anna ·

Asb verkoop alles dat daar gewys word wat down met al daai geld

Elsa vd Berg ·

Hulle sal nooit uit die moeilikheid kom nie. Verkoop die SAL aan iemand wat dit kán bestuur

Vryheid ·

Kan julle nie sien nie daars niks om te verkoop nie !!!!!!

ANC SE SOMME WERK SO 1+1=9

Zumie ·

Hallo Jerm
Tyd vir ‘n spotprent van ‘n rokende SAL vliektuig oppad grond toe met ‘n venter waentjie en dakrak en liewe Dudu aan die stuur dwarsoor die vliegtuig …..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.