SAL steeds onder tesourie se vlerk

Argieffoto

Die presidensie het Sondag ontken dat die Suid-Afrikaanse Lugredery (SAL) onder die Nasionale Tesourie se vlerk uitgeskop is.

“Die presidensie neem kennis van mediaberigte wat daarop aandui dat die regering besluit het om die SAL van die Nasionale Tesourie na die departement van vervoer te skuif. Die berigte is onwaar en daar is geen so ’n besluit deur die regering gemaak nie,” het dr. Bongani Ngqulunga, woordvoerder van die presidensie, Sondag gesê.

Ngqulunga het gesê alhoewel daar baie standpunte is oor waar sekere entiteite beter geallokeer kan word in die regering se voorgesette pogings om die prestasie van staatsbeheerde onderneming te verbeter, die standpunte nie noodwendig ʼn beslissing is nie.

“Die SAL bly onder die Nasionale Tesourie waar dit steeds ondersteuning en leiding sal ontvang om homself te herbou ná die aanstelling van ʼn nuwe direksie en uitvoerende hoof.”

Maroela Media het vroeër berig die staatslugredery se finansiële hoof het Woensdag in die parlement gesê SAL se verliese vir die huidige boekjaar sal na verwagting by R4 miljard draai.

Phumeza Nthantsi het gesê die rede waarom die maatskappy se verliese die verwagte R2,8 miljard sal oorskry, hou grootliks verband met vyf vliegtuie wat uit diens onttrek is, en die lugredery genoop het om sekere vlugte te kanselleer. SAL se instandhoudingsrekening vir die tweede kwartaal het sy begroting met R300 miljoen oorskry.

Vuyani Jarana, die lugredery se nuwe uitvoerende hoof, het aan die parlement se staande komitee oor finansies gesê die maatskappy sal R4 miljard in die hande moet kry om buitelandse en plaaslike skuldeisers teen die einde van Maart 2018 terug te betaal. Dit sluit ʼn lening in by die Amerikaanse Citibank.

Hy het gesê die grootste taak is om “likiditeit terug te bring” na die maatskappy wat tans uitstaande skuld van R13,8 miljard het. SAL het sy laaste reddingsboei van die regering in September ontvang toe Malusi Gigaba, minister van finansies, R3 miljard uit die nasionale inkomstefonds beskikbaar gestel het om te verhoed dat SAL agterstallig raak met sy Citibank-skuldbetalings.

Gigaba het in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober bevestig SAL sal ʼn R10 miljard kapitaalinspuiting ontvang. SAL het Woensdag gesê hy sal R7 miljard daarvan gebruik om skuldeisers terug te betaal en die res om “korttermyn-bedryfskapitaaluitdagings” aan te spreek.

Jarana het egter bevestig dat die maatskappy selfs met die herkapitalisasie steeds ondergekapitaliseer sal wees, met ʼn negatiewe ekwiteitsposisie van meer as R9 miljard.

Dit was Jarana se eerste verskyning voor die finansieskomitee sedert hy aan die stuur van sake by die lugdiens is. SAL word gesien as een van die grootste fiskale risiko’s vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Yunus Carrim, voorsitter van die komitee, het die gees van die vergadering, insluitend die beamptes se gewilligheid om vrae te beantwoord, as ʼn welkome skuif bestempel. Die komitee was deel van talle wat geëis het dat Dudu Myeni, die omstrede voormalige SAL-voorsitter, in die pad gesteek word. Myeni is daarvan beskuldig dat sy by bedryfskwessies ingemeng het en sy is ʼn maand gelede afgedank.

Nthantsi het gesê die maatskappy is nie van plan om onmiddellik sy vyf jaar-omdraaistrategie onder Jarana se leierskap te hersien nie, maar sal dit op die proef stel. SAL moet teen 30 Desember ʼn implementeringsplan vir die strategie aan Gigaba voorlê as deel van die voorwaardes van die herkapitalisering.

Jarana het beklemtoon hy is vasbeslote om die lugredery ʼn kommersiële sukses te maak en gesê hy het bemoedigende entoesiasme van die personeel gesien om te help om SAL weer winsgewend te maak.

SAL se langverwagte algemene jaarvergadering is vir 19 Januarie 2018 geskeduleer.

Die lugredery se uitvoerende beamptes het Woensdag die maatskappy se swaar afhanklikheid van skuld toegeskryf aan sy swak kapitaalstruktuur, hoë kostestruktuur, verhoogde mededinging en oormatige afhanklikheid van huurvliegtuie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann Marx ·

Net soos by Eskom…..hopeloos teveel mense teen hopeloos te hoë salarisse vir hopeloos te min werk. “Productivity Meltdown”. Lees James-Brent Styan se artikels. Hulle bly net al hoe meer mense aanstel wat nie die werk kan doen nie, wat dan elkeen ‘n konsultant aanstel om hulle tekortkominge weg te steek. As jy meer uitgee as wat jy verdien…………is die uiteinde bankrotskap. Eenvoudig.

Gustav ·

Johann, jy slaan die spyker op sy kop en dit is wat met die meeste instansies gebeur

Hansie slim ·

Maak hulle toe. Daar is baie ander wat kan oorneem en beter diens lewer.

Boet Fasie ·

Solank SAL onder die regering se vlerk is sal hulle nie wins maak nie,wonder hoeveel amptenare en kabinet lede vlieg verniet.

Johann ·

Die absurde gemak wat bedrae soos MILJARDE links en regs gegooi word sonder n benul van die beginsel van begrote besteding…skokkend! Maar dan is dit seker een van DIE ANC legacies wat SA sal onthou; die verwoes en afbreek en wanbestuur van eens wonsgewende instellings. Ter wille van n paar magsbehepte vergrypers, ten koste van n samelewing. SHAME IN YOU ANC!!!!

Annette Botha ·

Ek wonder of hulle weet hoeveel n miljard is. Selfs miljoene is soos ek sal praat van R20 Geen hoop vir die land nie. Alles is nou al bankrot.

elize naude ·

as jy meer uitgee as wat jy verdien is die uiteinde bankrotskap… tja dan is die oorgrote persentasie van suid afrikaners bankkrot…

Jacques venter ·

Ons hoor jaarliks van die ” turn around strategy” maar die situasie by SAA raak al hoe slegter

Het SA n lugdiens nodig wat die land help bankrot maak?

Wax ·

Wat n skande! Saterdagaand se SAL vlug van ACCRA na JHB is daar net n sekere hoeveelheid mense toegelaat op die vlug. Geen bagasie is gelaai. Sal glo hopelik jou bagasie eers Maandag of Dinsdag of nooit kry. Vliegtuig glo te vol petrol gemaak. SAL seker een van die swakste en mees onbeholpe lugreederye in die wereld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.