SAL/Takatso: Gordhan het weinig respek vir parlementêre oorsig – DA

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan. (Argieffoto: Phill Magakoe/AFP)

Die DA waarsku dat die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, nie belastingbetalersgeld moet gebruik om enige regstappe teen die parlement se gelyknamige portefeuljekomitee van stapel te stuur nie.

Dr. Mimmy Gondwe, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, sê Gordhan het “verkies om besonderhede van die gedoemde” ooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en die maatskappy Takatso “geheim van die publiek en die parlement, nasionale tesourie en die kantoor van die ouditeur-generaal te hou”.

Gordhan het Woensdag in ʼn vertroulike brief aan die komitee gedreig dat sou LP’s die verslag oor die beweerde ongerymdhede rakende die ooreenkoms aanvaar en bekend maak, die departement dit in ʼn hof sal laat hersien.

“Die dreigbrief, saam met Gordhan se voortgesette aandrang om die bepalings en voorwaardes van die nou opgeskorte ooreenkoms geheim te hou, wys verder dat Gordhan weinig of geen respek vir die wetgewende oorsigrol van die parlement … het nie,” sê Gondwe.

Gordhan het onlangs bekend gemaak dat die ooreenkoms tussen SAL en Takatso opgeskort is. Dit nadat Kgathatso Tlhakudi, die departement se voormalige direkteur-generaal, aangevoer het daar was verskeie ongerymdhede tydens die transaksie. Die minister hou voet by stuk daar was geen ongerymdhede nie en het die departement se besluit – op Takatso as vennoot – verdedig.

Tlhakudi het al verlede jaar aangevoer Gordhan het Takatso “met die hand uitgesoek” vir die SAL-ooreenkoms.

Gondwe sê die minister en die departement is aan die portefeuljekomitee verantwoordbaar.

“Die komitee het nog nooit en sal nooit aan Gordhan verantwoordbaar wees nie. Sy dreigemente van regstappe teen die komitee ondermyn en skaad die wetgewende gesag en aansien van die komitee as ʼn verlengstuk van die parlement.

“Teen die tyd dat die verslag op hersiening geneem word, gaan Gordhan ieder geval waarskynlik nie meer ʼn openbare amp beklee nie nadat hy verlede maand bekend gemaak het dat hy ná die einde van die huidige administrasie uit die regering gaan bedank.

“Dit is dus onduidelik in watter kapasiteit hy dié ondeurdagte en rampsalige regstappe teen die parlement gaan indien.”

Gondwe sê as die minister inderdaad niks het om weg te steek nie en daar geen fout is met die ooreenkoms wat hy en sy departement met die Takatso-konsortium aangegaan het nie, het hy niks om oor bekommerd te wees nie en moet hy ophou om dreigemente te maak.

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) moet ook toegelaat word om sy ondersoek oor die ooreenkoms te doen, sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andries ·

Iets om weg te steek. ANC kan maar net nie van korrusie weg bly nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.