SAL Tegnies bereik ooreenkoms met Mango, SAL

(Foto: Mango/Facebook)

SAL Tegnies (SAAT) het ʼn ooreenkoms met van sy kliënte, waaronder die laekostelugredery Mango, bereik en vliegtuiginstandhoudingsdienste begin hervat.

SAAT het verlede maand instandhoudingsdienste aan vier van sy kliënte opgeskort weens uitstaande betalings op dienste wat reeds gelewer is.

“Ons is verheug dat ons ʼn ooreenkoms met minstens twee van ons kliënte bereik het en sal voortgaan om met die ander twee te gesels om ʼn oplossing te vind,” het Adam Voss, uitvoerende hoof van SAAT, gesê.

Volgens Voss is die besluit om dienste op te skort nie ligtelik geneem nie. “Ons moes ons kommersiële belange beskerm, waaronder die welstand van ons werknemers wat nadelig geraak is deur ons kontantvloei-uitdagings wat daartoe gelei het dat hulle net 25% van hul salarisse in September ontvang het.”

SAAT beraadslaag met vakbonde om te reël om die uitstaande bedrag vir September aan werknemers te betaal.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is een van die lugrederye wat geraak is deur die opskorting van SAAT se dienste. Die SAL het intussen ʼn betaling aan SAAT gedoen en die opskorting van dienste is Woensdag opgehef. SAL se huurvlugte wat vir vandeesweek beplan word, word gevolglik nie meer beïnvloed nie.

Mango het intussen ook ʼn ooreenkoms met SAAT bereik en daar is reeds Vrydag met instandhoudingswerk aan die lugdiens se vloot begin.

Volgens Voss het SAAT begrip vir die invloed van die Covid-19-pandemie en dat baie van sy kliënte nie tydens die afsonderingstydperk sake kon doen nie. “As deel van die herstelstrategie en ʼn pad vorentoe het ons met hierdie kliënte ooreengekom dat SAAT voorafbetaling sal ontvang vir dienste wat gelewer moet word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lindi ·

Sal beslis nie my voete op daai vliegtuie sit nie! Half pay – half work? No pay – NO work?

Vernon ·

En so gaan dit aan en aan,altyd n ooreenkoms.Intussen laai die skuld net op en op. SAL met Mango SAL NOOIT TOT stilstand ruk nie want dis werkskepping met belasting geld! Hier is n groot ongeluk wat wag om te gebeur!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.