SAL Tegnies sal Comair help

Argieffoto (Foto: Eluveitie – Eie werk/Wikimedia Commons)

Comair het met SAL Tegnies (Saat) gereël om instandhouding van sy vliegtuie te hanteer ná ʼn onlangse hersiening van Lufthansa Technik deur die Burgerlugvaartowerheid (BLO).

Alhoewel Lufthansa Technik (LTMI) ʼn roetine BLO-oudit in Februarie vanjaar geslaag het, het ʼn ongeskeduleerde hersiening ʼn aantal bevindings gemaak wat binne 24 uur aangespreek moet word, of die lisensie as goedgekeurde instandhoudingsorganisasie word opgeskort.

Comair gebruik tans Saat en LTMI om sy vliegtuie in stand te hou.

“Ons prioriteit in hierdie stadium is om ʼn volledige, betroubare vlugskedule vir ons kliënte te herstel sodat hulle vol vertroue kan bespreek en vlieg,” sê Glenn Orsmond, uitvoerende hoof van Comair. “Ons het dadelik opgetree toe ons in kennis gestel is dat die lisensie moontlik opgeskort kan word.”

Alhoewel Comair die BLO respekteer en ten volle ondersteun om sy mandaat uit te voer en vlugveiligheidstandaarde in Suid-Afrika te handhaaf, word Lufthansa en sy tegniese instandhoudingsfasiliteit wêreldwyd as een van die mees gerespekteerde lugdienste en instandhoudingsorganisasies beskou. “Lufthansa Technik word deur meer as 40 van die wêreld se voorste lugwaardigheidsowerhede gesertifiseer; het meer as 800 kliënte, 22 000 werknemers en meer as 4 500 eksklusiewe kontrakte wêreldwyd,” het Comair in ʼn verklaring gesê. “Buiten vliegtuig-instandhouding en herstelwerk, bedien Lufthansa Technik wêreldwyd ook BBP’s, spesiale missies en militêre kliënte.”

Daar was intussen opnuut ʼn versoek dat Comair se bedryfslisensie opgeskort moet word ná ʼn British Airways-vlug Saterdag tegniese probleme met sy landingstoerusting ervaar het. Die vlug, van Gqeberha na Kaapstad, het gesukkel om by die lughawe te land en dit het ʼn 15 minuut lange vertraging tot gevolg gehad.

“Ons kan bevestig dat die vlieënier, ná hy ʼn waarskuwing op BA6324 op die finale nadering van Gqeberha na Kaapstad- internasionale lughawe ontvang het, standaard veiligheidstoetse gedoen het. Sodra die korrekte lesing behaal is, is ʼn normale landing uitgevoer,” het Comair bygevoeg.

Dit volg ná die BLO se skorsing van Comair, wat die plaaslike British Airways en kulula.com bedryf, opgehef het. Die BLO het Comair se bedryflisensie opgeskort oor veiligheidsverwante kwessies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Fluisterwind ·

Hoe gaan SAL tegnies ComAir help? Van die wal in die sloot?

Jacobus ·

Die BLO vlieg met hul eie vliegtuig teen die berg vas, maar hulle probeer hul bes om Comair en Lufthansa te sluit, sodat SAL weer alleen mag vlieg.

Nie Verbaas ·

En SAL sal ek nie weer vlieg nie. Brussels vlug behoort mense bang vir n sekere groep SAL vlieëniers te maak.

Gawie ·

Maroela, waarom word daar gereeld ‘n foto van ‘n Boeing 747 gebruik in die Comair berigte? Comair het nog nooit Boeing 747s bedryf nie, maar slegs Boeing 737s vir alle British Air vlugte.

Hannes ·

Net snaaks niemand maak melding daarvan dat al 3 die vliegtuie wat die insidente gehad het, oorgekom het na LTMI vanaf SAAT na groot versienings (deur SAAT). Hoe was hierdie vliegtuie gestoor gedurende die “hard lockdown” en daarna voordat hulle weer in diens gestel was?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.