SAL trek verklaring oor skorsing terug

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het sy mediaverklaring wat Vrydag uitgereik is oor die skorsing van sy bedryfshoof, Sylvain Bosc, teruggetrek en gesê dit is “voortydig” uitgereik.

“Die SAL het mnr Bosc geskors in die lig van ernstige bewerings dat hy ʼn wanvoorstelling aan die raad gemaak het wat betref die Abu Dhabi-roete en ʼn ondersoek deur ENS Forensics oor dié bewerings,” het die lugredery in ʼn verklaring gesê.

“Mnr Bosc moet nog kennisgewing ontvang van die dissiplinêre ondersoek en formele klagtes wat spruit uit die skorsing. Die besluit of mnr Bosc skuldig is aan die beweerde wangedrag, sal deur die voorsitter van die dissiplinêre ondersoek geneem word.”

Die SAL het gesê dit is betreurenswaardig dat die persverklaring moontlik daarop kon dui dat Bosc skuldig bevind is aan wangedrag, en die bedoeling was nie om Bosc se naam te skend nie.

Die lugredery het Vrydag in ʼn verklaring gesê Bosc is geskors ná ʼn wenk ontvang is oor moontlike wangedrag.

ʼn Forensiese ondersoek deur ENSafrica, Suid-Afrika se grootste regsfirma, oor verskeie bewerings wat deur Deloittes se wenklyn ontvang is, bevestig glo dat een van die bewerings water dra. Volgens dié bewering het Bosc die syfers vir Abu Dhabi gedokter om seker te maak dat die roete beskikbaar gemaak word. “Hy het doelbewus die raad mislei deur die getalle te oordryf sonder bewyse en het die raad van netwerkspesialiste geïgnoreer,” lui die bewering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.