SAL verbied ook Samsung Galaxy Note 7

Samsung Galaxy Note 7 (Foto: Samsung)

Samsung Galaxy Note 7 (Foto: Samsung)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het aangekondig dat passasiers nie Samsung Galaxy Note 7-slimfone op die lugredery se vliegtuie mag vat nie.

Samsung het verlede maand die fone begin herroep ná klagtes dat die battery oorverhit. Talle gebruikers het ook gesê hul slimfone het aan die brand geslaan terwyl dit gelaai het.

SAL het Dinsdag in ʼn verklaring gesê hy het om veiligheidsredes die besluit geneem dat die slimfone nie op sy vliegtuie mag wees nie. Passasiers mag nie die fone by hulle aan boord of in hul bagasie hê nie. SAL het reeds verlede maand versoek dat passasiers met dié fone dit nie op die lugredery se vliegtuie gebruik nie.

Talle ander lugrederye wêreldwyd het ook reeds aangekondig dat passasiers nie die fone op hul vliegtuie mag neem nie. “SAL word deur die internasionale lugvervoerorganisasie (Iata) se algemene veiligheidsbepalings genoodsaak om stappe te doen om die veiligheid van sy bedrywighede te verseker wanneer goedere of produkte nie aan veiligheidsvereistes voldoen nie.”

SAL het om verskoning gevra aan sy kliënte vir enige ongerief wat die besluit tot gevolg kan hê. Die lugredery het egter gewaarsku dat diegene wat nie aan die verbod gehoor gee nie se selfone afgeneem kan word en hulle ʼn boete kan ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Mmmmmm. Beteken dit Dudu mag ook nie SAL vlieg nie siende sy ook n enorme bedreiging vir die SAL en sy vloot is? En NEE….geeeeeen verbintenis tot die “slim” gedeelte nie.

Koos1 ·

Johann, die slimfoon moet op die vliegtuig wees om dit te laat val, sy sit op die grond en laat hordes SAL vliegtuie en die maatskappy “val”.

André ·

Hoekom haal hulle nie net die battery uit die foon nie. Dan is daar mos nie meer ‘n probleem om dit op die vliegtuig te hê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.