SAL vies oor vlieëniersvereniging se opmerkings

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sê hy het met “diepe teleurstelling” kennis geneem van die Vlieëniersvereniging van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (Saapa) se opmerkings oor die aanstelling van Zuks Ramasia as tydelike hoof van die beleërde staatslugdiens.

Kapt. Grant Back, voorsitter van Saapa, het Maandag in ʼn verklaring gesê Ramasia se aanstelling is rede tot groot kommer en onrus en dat ʼn leier met die nodige ervaring en finansiële vernuf SAL moet lei.

Ramasia is ná Vuyani Jarana se bedanking in die pos aangestel.

Saapa het Maandag gedreig om te staak as SAL nie sy huis in orde kry nie. “SAL-vlieëniers gaan nie terugsit terwyl die kringloop van agteruitgang toegelaat word om voort te duur nie. Soos ander vakbonde, moet ons ʼn streep trek en regmaak om op te tree.

“Ons sal ʼn besluit oor optrede nie ligtelik neem nie. Ons bedoeling is nie om verdere probleme by die lugredery te skep nie; dit is om die verdere vermorsing van belastingbetalers se geld stop te sit en SAL uiteindelik op ʼn pad na herstel te plaas,” het Back gesê.

SAL sê Saapa se stellings kan die redery skade berokken, omdat die lugvaartbedryf uiters gevoelig is vir negatiewe sentiment, veral wat sakekontinuïteit betref.

“In die omstandighede waarin die redery hom tans bevind, help die opmerkings glad nie. Sulke stellings is onnodig, opportunisties en skynheilig,” het SAL in ʼn verklaring gesê.

“Terwyl die opmerking professioneel minagtend teenoor me. Ramasia is, blyk dit by nadere ondersoek of dit ook dui op ʼn stem van wantroue in die raad. Dit is ʼn poging om die raad se gesag en verantwoordelikhede te kaap en moet verwerp word.”

SAL sê Ramasia is sy mees senior en ervare uitvoerende hoof en was vantevore sy internasionale operasionele bestuurder. Sy het ook waargeneem wanneer Jarana nie beskikbaar was nie en het haar goed van haar taak gekwyt.

Die redery sê diegene wat haar kritiseer, het dit gedoen nadat sy nog nie eens ʼn week lank in haar pos was nie en dat die bewerings oor haar gebrek aan vaardighede en geskiktheid vir die pos voortydig en ongegrond is.

“Die houding wat Saapa ingeneem het, wek die indruk dat hulle ʼn teen-transformasie-agenda verteenwoordig,” het SAL gesê.

“Ons is teleurgesteld, maar nie verras nie.”

SAL sê hy het ʼn omgewing geskep waar alle interne betrokkenes, veral vakbonde, hulle stem kan lug en sê dit is ontstellend dat dié platform verontagsaam is.

“Saapa se opmerkings is skadelik vir die lugredery. Dit skep angstigheid in die mark wat met leierskaponsekerheid verband hou. Die uiteindelike slagoffers van die onophoudelike aanslae op die handelsmerk is die lugredery en gewone werkers.”

SAL sê hy het te veel uitdagings en doen ʼn beroep op betrokkenes om dreigemente van stakings te laat vaar.

Hy sê ook daar moet eerder daarop gefokus word om SAL se omkeerplan te implementeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
En nou?

SAL kan net vir een persoon kwaad wees en dit is hulself!

Johan

En dadelik word die rassekaart gespeel : naamlik “teen transformasie”!!! Dit terwyl ek die boodskap lees as nié as transformasie ten ALLE koste nie. Daar was in elk geval geen verwysing na kleur nie. Maar net ‘n beklemting van bekwaamheid en ervaring. En dis tog ‘n rasionele vraag?

Dries du Toit

Presies wat dit is. Niemand het gepraat van kleur nie maar van bevoegdheid. Nou speel die SAL raad die rassekaart. Hulle bly maar verdoem tot n mislukking soos Eskom

Willem Grobler

As iemand nie baie spoedig begin om van hierdie “transformasie”-twak ontslae te raak nie, is Suid-Afrika gedoem. Jy kan nou maar eenmaal nié van ‘n donkie ‘n renperd maak nie al transformeer jy hom dat sy hare uitval.

Johan

OMKEERPLAN, nou net weer lekker gelag