SAL-vlugte gekanselleer ná tegniese probleme ook Comair se vlerke knip

Argieffoto (Foto: Comair/Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het nou óók van sy vlugte opgeskort sodat van sy vliegtuie nagegaan kan word in ooreenstemming met bepalings van die Burgerlugvaartowerheid (BLO).

Tlali Tlali, SAL-woordvoerder, sê die besluit is geneem ná ʼn oorsig-inspeksie by sy tegniese afdeling, SAA Tegnies (SAAT).

Die BLO het Comair, wat British Airways en die laekostelugredery Kulula in Suid-Afrika bedryf, Maandagaand kennis gegee dat daar tydens ʼn onlangse oudit van sy instandhoudings- en tegniese diensteverskaffer, SAAT, onreëlmatighede gevind is.

“Die vliegtuie wat geraak word, mag nie vlieg tot die nodige regstellende stappe gedoen is nie,” het Comair in ʼn verklaring gesê.

Comair sê hy het gebeurlikheidsplanne gereed om ontwrigting tot die minimum te beperk en het onderneem om klante op hoogte van sake te hou. “Ons vra ons klante om verskoning vir enige ontwrigting aan hul reisplanne en waardeer hul steun. Ons werk nou saam met SAAT om die probleme uit te stryk en ons vlugte so gou moontlik weer terug op skedule te kry.”

Die redery sê hy is verbind tot die verskaf van ʼn veilige, betroubare en ʼn hoë gehalte diens aan klante en sê die veiligheid van passasiers en sy personeel is sy topprioriteit. Comair sê ook hy handhaaf steeds sy bedryfsveiligheidsakkreditasie van die Internasionale Lugvaartvereniging (Iata) en word deur British Airways International, Boeing én die BLO geoudit.

Die SAL sê hy het vier plaaslike vlugte gekanselleer en het sommige vlugte gekombineer of gaan gebruik maak van groter vliegtuie om passasiers te akkommodeer. “Dit het die ongerief vir klante beduidend verminder,” het Tlali gesê.

Die SAL moes inderhaas planne beraam om passasiers te akkomodeer. Dié vlugte word geraak.

Die redery het klante ook om verskoning gevra.

“Die SAL verstaan dat die BLO se inspeksie in ooreenstemming met sy bepalings gedoen is en nodig is om voldoening en veiligheid te verseker.”

Die BLO se bevinding is net een van die jongste probleme wat die SAL en SAAT van een krisis na die volgende laat steier.

Maroela Media het vroeër berig die SAL het verlede week ontken dat sy tegniese afdeling (SAAT) nagemaakte onderdele gebruik wanneer vliegtuie van sy laekoste-redery Mango – of vliegtuie van enige ander redery wat hy bedien – versien word.

Die SAL se reaksie het gekom ná ʼn Sunday Times-berig oor ʼn ondersoek wat gedoen word nadat ʼn Boeing van Mango tydens ʼn vlug tussen Johannesburg en Kaapstad skielik begin duik het. Luidens die berig is die skuld vir die voorval gepak op ʼn defektiewe onderdeel wat SAAT geïnstalleer het.

Die SAL-raad het toe gesê alle komponente en onderdele word van goedgekeurde verskaffers verkry en dat alle ondersteunende dokumente voldoen aan die BLO se vereistes.

Comair het verlede jaar aangekondig hy gaan sy instandhoudingswerk toenemend na die buiteland skuif, terwyl hy sy eie werkswinkels in samewerking met die Duitse redery Lufthansa op die been kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Aarde ·

o nee hel, dis nie meer veilig om te vlieg nie. My neef werk by tegnies maar hy sê hulle hande is afgekap want die ANDER wil als doen en werk aan die vliegtuie en hulle mag niks sê nie. Baie dames ook wat nie eers weet wat hulle doen nie. Skokkend!!

Retha Basson ·

Dit is nie veronderstel om te gebeur. Totaal onaanvaarbaar. Is daar enige diens in SA waarop ons trots kan wees.
Instandhouding moes nou al in plek gewees het met die vakansies. Hulle stel nie net SA in gevaar nie, maar oorsese besoekers ook.
Gaan dit help om te se, skaam julle SAL?

C VL ·

Die realiteit vir reisigers is dat daar ‘n groter kans op ‘n vlugramp is as elders waar vliegtuie na behore onderhou word. Mag ons nie na daardie plek gaan nie.

Leon ·

Koop seker hulle onderdele by ‘n tenderpreneur in Diepsloot og Nyanga.

Michael P ·

Mense as jy. jou Fortuner nie diens nie gaan jy probleme langs die pad kry en jou Fortuner gaan breek en jy kan aftrek en n insleep diens bel en hulle kom haal jou Wat die SAL nie verstaan nie n VLIEGTUIG wat nie gediens word nie gaan uit die lug val met al sy passesiers en staff Of dinik hulle n vliegtuig kan daar bo parkeer en ingesleep word.Mense ek hoop nie ons sit een van die dae met n klomp lug rampe nie.

Gert van Wierdapark ·

Soos dit nou gaan, behoort SAL binnekort net n “taxi-diens kan bedryf = so sal hul ten minste baie geld kan spaar en ophou om bakhand vir Miljarde Rande te staan om hoog te bly vlieg! He-he-he!

JMC ·

Ontspan mense, hierdie is die internasionale norm in die lugvaartbedryf wat al vir dekades so aangaan. Onderdele en arbeid was nog altyd twyfelagtig. Groot rederye in Amerika se vliegtuie word deesdae in El Salvador, Meksiko en Sjina herstel en gediens deur goedkoper arbeid, die owerheid het nie meer tande nie en die rederye gee nie om nie. Europese rederye maak ook van Sjina gebruik. So as jy weer spog met jou goedkoop kaartjie, vra jouself waar is kortpad geneem om jou daardie afslag te bied. Voeg daarby dat ‘n baie groot deel van jou kaartjie uit belastings en heffings bestaan, moet jy nóg harder wonder. Daar is daagliks 100 000 kommersiële vlugte in die wêreld met net twee of drie groot rampe per jaar. 70% van ongelukke is die loods se skuld en meeste ongelukke is met privaat vliegtuie, dan is jy nog steeds veiliger as in jou motor om gou melk te gaan koop. Johannesburg – Kaapstad is die 11de besigste binnelandse roete ter wêreld met meer as 90 vlugte per dag. Tel hierby al die ander vlugte tussen al ons groot lughawens en dinge lyk nie so donker soos sommige van julle se gemoed nie.

Hanno ·

JMC, Suid-Affikaners kla bloot omdat kla kla is. Hulle kla oor ALLES.
Hulle sal kla as hulle geld erf, want nou moet hulle persoonlik al die pad prokureur toe gaan om hul identiteit en bankbesonderhede te bevestig.
Hulle het nie redes nodig om te kla nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.