SAL-werknemer vas oor voorskrifmedikasie

Argieffoto

Argieffoto

ʼn SAL-bemanningslid het Maandag in die Kemptonpark-landdroshof verskyn nadat hy op die OR Tambo Internasionale Lughawe glo met meer as 35 000 voorskriftablette in sy bagasie betrap is.

Brig. Selvy Mohlahla, woordvoerder van die polisie, het gesê Samuel Thami Mthembu (32) is Saterdag in hegtenis geneem nadat doeanebeamptes tydens ʼn roetine-soektog op die tablette afgekom het. Mthembu het nie die medikasie by die doeane-beamptes verklaar nie.

Volgens Mohlahla is dit teen die wet om só ʼn groot hoeveelheid medikasie by jou te dra, aangesien voorskrifmedikasie binne sekere temperature vervoer moet word om te verseker dat dit nie ʼn gevaar vir ander passasiers inhou nie. Mohlahla het gesê altesaam 35 902 tablette wat vir die behandeling van epilepsie en aambeie gebruik word, is in Mthembu se bagasie gevind.

“Die geraamde waarde van die tablette kan nog nie bevestig word nie. Ons weet ook nie wat die verdagte beplan het om met die medikasie te doen nie. Hy was op ʼn vlug van Londen na OR Tambo,” het Mohlahla gesê.

Hy het gesê Mthembu het in die hof op ʼn aanklag van dwelmhandel verskyn en is op borgtog van R1 000 vrygelaat. Hy sal op 3 Februarie weer in die hof verskyn.

In ʼn onverwante voorval is nog ʼn reisiger Saterdag op OR Tambo in verband met dwelmhandel vasgetrek nadat dwelms ter waarde van meer as R3 miljoen glo in haar besit gevind is. Volgens Mohlahla is kokaïen ter waarde van R3 123 000 in Idaia Abudo Ussene (38), ʼn Mosambiekse burger, se bagasie gevind.

Ussene het pas van Sao Paulo in Brasilië teruggekeer en was op pad na Maputo in Mosambiek toe die dwelms in versteekte kompartemente in haar tas gevind is. Sy het ook Maandag in die Kemptonpark-landdroshof verskyn waar sy borgtog geweier is. Sy sal weer op 3 Februarie in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

zoom zoom ·

Dalk het die man n groot ambei probleem wat lank gaan aanhou. Hoop hy word ook gefire voor hy tjoekie toe gaan

cor ·

Lyk vir my hy het erge aambeie van die lank sit op die vliegtuig. en dan kry hy nog erge epilepsie daar by.

snoefie ·

epilepsie lyer toegelaat om n loods te wees? tydens die NP se bewind was hulle nie eers toegelaat om motorbestuurders-lisensies te kry nie.

Francie ·

Epilepsie kom in baie verskillende vorme en grade voor. Die meeste van lyers wat medikasie gebruik gaan normaal voort met hulle lewe.

Francie ·

‘n Mediese dokter rapporteer gevalle waar persone se voertuiglisensies ingetrek moet word. Dieselfde reel geld steeds. Dis onwys om altyd van voor- en na- die tyd te veralgemeen. Suid-Afrika is steeds ‘n land waar wette geld, sommige word ongelukkig net oortree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.