SAL wil tot helfte van sy werksmag aflê

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het ʼn artikel 189-kennisgewing aan vakbonde gestuur om met konsultasies te begin rakende grootskaalse afleggings.

Die lugredery voer in die kennisgewing aan dat hy nie finansieel of ekonomies lewensvatbaar is soos hy tans bedryf word nie. Drastiese verandering is nodig ten einde te verhoed dat die lugredery gelikwideer moet word en alle werknemers sonder werk sit.

Die SAL meen om ’n kommersieel lewensvatbare onderneming te bou sal hy sy vloot van 48 vliegtuie tot 19 moet afskaal en die roetes wat hy tans vlieg drasties moet verminder.

“Die voorgestelde herstrukturering noodsaak ʼn vermindering in poste. Alle poste word geraak. Die poste wat behoue sal bly in die nuwe struktuur se diensvoorwaardes [veral rakende salaris en voordele] sal wesenlik verskil, terwyl die afwesigheid van voormalige posisies in die nuwe struktuur sal beteken dat dié poste nie meer sal bestaan nie. Elke werknemer sal dus geraak word.”

Volgens die lugredery word verwag dat slegs 2 440 van die huidige 4 708 poste nog sal bestaan, moontlik ook in ʼn ander vorm, indien met die herstrukturering voortgegaan word. Die voorstel kan egter nie suksesvol deurgevoer word sonder die samewerking van die onderskeie vakbonde nie.

Die SAL het op 1 Februarie ʼn totaal van 5 135 werknemers wêreldwyd gehad, van wie 4 708 in Suid-Afrika. Die moontlikheid bestaan dat tot 2 268 werknemers afgelê kan word. Dit sluit in 49 werknemers op bestuursvlak, 36 spesialiste, 344 vlieëniers, 811 bemanningslede en 1 028 ander personeel.

Die SAL het intussen aansoek gedoen vir die aanwysing van ʼn fasiliteerder van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) om die partye in die konsultasieproses by te staan. Dié proses sal reeds op 12 Maart begin en teen 8 Mei ten einde loop.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het in reaksie op die artikel 189-kennisgewing gesê dit is onverskillig om dié kennisgewing uit te reik sonder ʼn omkeerstrategie.

“Afleggings kan net binne die konteks van ʼn groter plan beoordeel word. Solidariteit is van mening dat natuurlike personeelomset en vrywillige prosesse voldoende sal wees om personeelkoste te sny. Die huidige kennisgewing skep onsekerheid by almal, gaan tot arbeidsonrus lei en die beste mense gaan eerste loop.

“Die sakereddingspraktisyns se lomp hantering van die proses en die regering se voortdurende inmenging skep onsekerheid by werknemers, krediteure en moontlike vennote. Solidariteit gaan sy regspan vra om regsaksie te ondersoek om afleggingsprosesse te stuit hangende ʼn behoorlike omdraaiplan.”

Volgens die SAL ervaar hy steeds verskeie uitdagings, insluitend befondsing en likiditeit, hoë rentekoste op lenings, kontantgenerering, operasionele ondoeltreffendheid, internasionale en streekskompetisie, ʼn verouderde vloot en enorme finansiële verliese.

Die lugredery het die afgelope ses jaar ʼn kumulatiewe verlies van R26,1 miljard gely. Sy inkomste het met R884 miljoen geval van begin November 2019 tot einde Januarie in vergelyking met dieselfde periode in die vorige tydperk.

Vlugte en kaartjiebesprekings het sedert 2015 ook erg afgeneem. Ook in bestuurstrukture het die lugredery die afgelope paar jaar onstuimigheid beleef

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johan Venter ·

Maar ek sien die SAL en nie die lugmag nie, gaan die SA mense in Sjina haal. So dis nog ‘n geleentheid om geld van die regering te ontvang. Ek dink die besluit is suiwer geneem om die SAL geldelik by te staan en nie omdat die lugmag bang is nie.

Nico ·

Die lugmag het niks wat tot in China kan vlieg nie. En jy wil nie op ‘n jumpseat in ‘n C 130 sit vir soveel ure nie.

Niklaas ·

Hul moes jare gelede al die poste verminder het. Daars teveel passasiers wat net salaris ontvang vir 20% werk gedoen.

Leon ·

En antie Dudu en haar pêlle glimlag al die pad bank toe want hulle het lekker geskep vir hulle aftrede.

nicolaas ·

5135 personeel om 48 vliegtuie in die lug te hou?????????????////

Stof ·

En nou, broers en broerinne, verstaan julle waarom die stowwerige nog al die jare, heeltemal gelukkig is om met Interkaap te reis.

Stefan ·

Geen simpaite na die laatste staking om hoër as inflasie verhogings van my belasting geld terwyl die plek bankrot is.

Bloedhond ·

Duduzile Cynthia Myeni (born 29 October 1963) also known as Dudu, is a South African businesswoman, the former chairperson of South African Airways SOC Limited, and the Executive Chairperson of the Jacob G Zuma Foundation since September 2008. She is known for her controversial involvement with South African Airways and as a close friend of South African president Jacob Zuma. During the Zondo Commission of inquiry into state capture the former Chief operating officer of Bosasa testified that Myeni received monthly illicit payments of R300,000 in cash from them a month that was to be given to then president Zuma.

Benn ·

Om afgele te word is skrikwekkend. Nie net vir die werknemer nie maar ook sy hele familie. Ons werkloosheids syfer is klaar so hoog! Jy kan nie werknemers laat betaal vir die “topbestuur” se geskep nie. So iets kan mens se lewe verwoes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.