Salarisse hou nie meer by met inflasie

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Suid-Afrikaners se salarisse het dalk op ʼn jaargrondslag gestyg, maar nie genoeg om met inflasie tred te hou nie. Inteendeel, die inflasiekoers is nou so straf dat Suid-Afrikaners slegter daaraan toe is as vyf jaar gelede toe hulle maandeliks eintlik minder verdien het.

Redes hiervoor sluit in die sukkelende ekonomie, ʼn hoë werkloosheidsyfer, die uitwerking van die Covid-19-pandemie en natuurlik die voortslepende kragkrisis.

BankservAfrica het vandeesweek sy vyfjaaroorsig van salarisse en private pensioene in Suid-Afrika vir die tydperk Februarie 2018 tot Februarie vanjaar bekendgemaak – dit skets ʼn droewige prentjie.

Shergeran Naidoo, BankservAfrica se hoof van belangegroepe, sê die opname het bevind dat Suid-Afrikaners se gemiddelde nominale salaris in 2018 van R12 573 tot R15 438 in Februarie vanjaar gestyg het. Dit is gesamentlike groei van 22,8%.

“In vergelyking met die 26,6%-verhoging in die verbruikersprysindeks (VPI) bevestig hierdie syfers dat die gemiddelde nominale salaris nie met inflasie kan byhou nie.”

Tussen 2018 en 2021 het salarisse minstens bygehou met die koers waarteen inflasie gestyg het, maar verlede jaar het salarisgroei skielik gestagneer. Dit het beteken dat mense se salarisse nie met stygende lewenskoste kon byhou nie.

Oor die afgelope 18 maande het sakeondernemings verskeie uitdagings ondervind en fondse moes dikwels herlei word net om kop bo water te hou.

“Die ongebreidelde beurtkrag, hoë produksiekoste weens stygende brandstofpryse, swakker geldeenheid, verhoogde rentekoerse en die matige vraag na goedere het alles bygedra tot die treurige groei,” sê Elize Kruger, ʼn onafhanklike ekonoom.

“Sakeondernemings het aangedui dat daar die afgelope ruk ʼn verskuiwing in prioriteite is. Pleks van uitbrei, wil sakeondernemings eerder minder afhanklik van Eskom wees. Kapitaal wat gewoonlik gebruik is vir beleggings, is aangewend om meer selfvoorsienend te word.

“Hierdie konserwatiewe benadering is nie bevorderlik vir indiensnemingsgroei in Suid-Afrika nie, en het ook ʼn wurggreep op salarisverhogings.”

Die hoeveelheid nuwe salarisse wat in Suid-Afrikaners se bankrekening betaal word, is ook ʼn vroeë aanduiding van die droewige stand van die arbeidsmark.

Nuwe salarisbetalings oor die afgelope vyf jaar.

Pensioenbetalings vaar beter as salarisse

In teenstelling met die stand van salarisgroei in die land, wys BankservAfrica se private pensioenindeks (BPPI) dat die nominale BPPI in Februarie 2018 van R7 001 tot meer as R10 000 in Februarie vanjaar gestyg het.

Dít verteenwoordig ʼn styging van byna 45% in die BPPI wat sowat die helfte meer is as die VPI in dieselfde tydperk.

Hoewel pensioenbetalings goed teen inflasie gevaar het, is dit steeds laer as die gemiddelde salaris in Suid-Afrika.

“Die proporsie gemiddelde pensioenbetalings relatief tot die gemiddelde salarisbetaling, het van 55,7% in Februarie 2018 tot 65,1% in Februarie vanjaar gestyg, wat die bevinding bevestig dat hierdie betalings beter gevaar het as gemiddelde salarisbetalings in hierdie moeilike ekonomiese omgewing,” sê Kruger.

“Die beleggingsprestasie was moontlik ʼn bydraende faktor, gekombineer met die veerkragtigheid wat aan die samestelling van pensioenontvangers toegeskryf word.”

Kruger sê alle aanduidings is dat vanjaar se ekonomiese groei nog slegter gaan wees in vergelyking met verlede jaar se groei.

“Die ekonomiese omgewing sal heel waarskynlik beroerd bly, wat ʼn uitdagende arbeidsmark en min ruimte vir salarisverbeterings tot gevolg sal hê,” sê sy.

“Verwag dus dat die nominale salarisbetalings in die komende maande steeds weens inflasie aan die agterspeen sal suig, anders as private pensioene, wat sal voortgaan om beter te presteer as salarisse.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

JvR ·

Loadshedding het die paadjie gelê vir covid, en maak nou klaar waar covid opgehou het. Almal wat kan dink, weet ons is n n reset. Maar min besef hierdie is eintlik n grand reset. Maar daar is n paar elemente wat nie daar is vir die grand reset. Ongelukkig is dit reeds in momentum.

Wondermaarnet ·

Die rentekoers het 7x in 14 maande gestyg, om nie eers van die petrol en kospryse te praat nie. Hoe oorleef mens? Ek moes my medies kanseleer en hou net-net by met my versekering premie.

Goldy ·

Die inflasiesyfer is in werklikheid al by die 16 persent alreeds vir baie jare. StatsSA se syfers is verkeerd.

Staal ·

Nou wanneer het ‘n mens se salaris dan bygehou met inflasie? Seker voor my tyd.

Stofdonkie ·

Beslis voor my tyd. Al hoe mens kan byhou is om te moet elke 2 jaar soek vir nuwe werk met hoër salaris, verhogings is gewoonlik nie genoeg om by te hou met jou uitgawes se verhogings nie. Petrol, Elektrisiteit, Medies, Versekering en Skoolfonds styg almal jaarliks baie meer as wat jy verhoging kry.

Goldy ·

Maak gereed vir of vlug, of selfbeskikkingsonderhandelinge, of chaos soos die massas se SASSA almoesse gaan opdroog soos die ekonomie verder inkrimp, dis die patroon regdeur die geskiedenis.

Faraway ·

Gaan lees gerus Derek Prince se boek Prohetic guide to the end times wat jy ook net sal verstaan as jy in die WOORD glo. Isreal se gebeure is ook van kardinale belang en n duidelike riglyn

Martie Smartie ·

Hierdie syfers is maar duimsuig. Groot dele vd privaat sktor het nie die verhogings gegee wat daar genoem word nie en selfs die staat het kleiner verhogings gegee.

Martie Smartie ·

En wie moet ons bedank vir die hoë inflasie: Groot kettingwinkel groepe wat aanmekaar die pryse opstoot v lewensmiddele. Verhogings van tussen 200 en 800 % deur die bank vir ‘n trollie.

Vonkprop ·

En ons ministers se salarisse het vêr bo inflasie gestyg en hulle betaal vir niks nie, so hulle weet nie wat die probleem is nie. Solank hulle nie swaarkry nie, voel hulle vere.

Stofdonkie ·

As daar gekyk word na so paar items op meeste salaristrekkers se uitgawes dan verminder hulle besteebare inkomste jaarliks. Kyk net na mediesefondse en versekering se eskalasies en skoolgeld verhogings, dan is die gemiddelde salaristrekker se jaarlikse verhoging nie eers genoeg om die 3 eskalasies te dek nie en moet hy dus sy kosgeld gebruik om die verhogings te dek.

Kwikkie12 ·

Amerika se werkloosheid syfer is so 3.4% en hulle het ook covid eintlik baier erger gehad???
Die CEO’s en bestuurders leef nog steeds in weelde op hulle golf estates met hulle solar panels en al maar het nie veel empatie vir die mense onder hom/haar nie. Laat my dink aan die Franse revolusie toe die gepeupel uiteindelik genoeg gehad het.

Pieter ·

Ons het 5 jaar laas n verhoging of bonus gekry. Werk vir n multinational company . Als tel ongelukkig teen ons, ons velkleur, BBEEE , so jy hou maar jou mond en sukkel aan. Kanseleer maar elke jaar n polis om aan die lewe te bly

lodewyk ·

En daar is al klaar weer sprake van 50 basis punte verhoging in die rentekoerse volgende week,ek kan nie meer by hou nie en glo my die armes raak nou net armer!!

Manie ·

22.8% verhoging oor 5 jaar, beteken gemiddeld 4.56% per jaar verhoging terwyl die pryse van feitlik alle kommoditeite seker 50%+ gestyg het oor die afgelope 5 jaar. Die man in die straat moet jaarliks van al meer afsien, net om aan die lewe te bly.

Michele ·

Ons het presies 5 jaar terug enige verhogings gehad. Die base dink seker ons kan oorleef op ons salarisse solank hul net hul salarisse en bonusse kan kry is die saak Hollands

Marius ·

Ek het vir ‘n maatskappy 10 jaar gewerk. Ek het as ‘n tegnikus begin en myself opgewerk tot bestuurder. Die hartseer is dat ek minder as ‘n bestuurder verdien het as ‘n tegnikus. Daar is altyd een of ander bog verskoning voorgehou waarom daar nie verhogings is. Inteendeel salarisse is gesny vir die onbenulligste redes.

Lillian ·

Ons mense verloor elke dag meer van dit wat hulle opgebou het agv wanbesteding, Eskom, inflasie wat verhoog en rentekoerse nadelig beinvloed. Mag die lewe Vader ons kom help uit hierdie greep

Theresa ·

Ek het DStv gekanselleer, my polis dekking verminder, en versekering verminder, my huis in die mark gesit….wat meer kan ek doen…

Veronika ·

Ja en ons wat “op pensioen” is se geld word nooit ooit weer meer nie, daar is nie meer verhoging nie want jy is nou op pensioen, so jy moet maar net besluit waarmee jy sonder maar net MOET klaar kom, want jy het n inkomste so jy kwalifiseer nie vir oumens pensioen nie, alhoewel jy jare jou gat af betaal het aan tax. Als word duurder en jy het het daai bietjie inkomste vir die res van jou lewe en moet nou in jou kinders se oë kyk vir hulp. Dit als net omdat die regering nie ons land kan bestuur nie wat nog te sê regeer!!

quartus ·

staatsdiens pensionarisse het n magtige 5% verhoging gekry. Wat gaan hulle met al die geld doen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.