Saldanha sê weer ‘nee dankie’ vir Karpower

Kleinskaalse vissers en kusgemeenskappe is gekant teen Karpowership weens kommer oor die impak op die oseaan – iets waarop hulle staat maak vir hul lewensbestaan. (Foto verskaf deur Green Connection)

Die omgewingsgroep Green Connection verwelkom nuus dat die departement van bosbou, visserye en omgewingsake Karpowership SA se versoek vir die projek in Saldanhabaai van die hand gewys het.

“As ʼn eko-geregtigheidsorganisasie wat saam met kleinskaalvissers werk – wat die meeste deur die teenwoordigheid van dié skepe in die hawe geraak sal word – is ons baie tevrede dat Karpower nóg ʼn keer in Saldanha geweier is,” sê Neville van Rooy, koördineerder van gemeenskapsuitreiding by Green Connection.

Die departement het die nuus Dinsdag onthul, net toe Green Connection en ander burgerregteorganisasies navraag gedoen het en gereedgemaak het om die departement se besluit teen te staan indien Karpowership nog ʼn geleentheid gebied sou word om hul omgewingsimpakverslag vir Richardsbaai te wysig.

Karpowership het sy omgewingsimpakverslag op 26 April 2023 teruggetrek en op dieselfde datum aansoek gedoen vir goedkeuring, in ʼn poging om tekortkominge te takel. Die departement het egter in ʼn skrywe aan Green Connection bevestig dat die aansoek nou in sy geheel beskou word as teruggetrek en volgens die departement is die aansoek gesluit. “Dit het gevolglik aan die lig gekom dat die departement Karpowership se goedkeuringsaansoek van die hand gewys het.”

Kleinskaalse vissers en kusgemeenskappe is gekant teen Karpowership weens kommer oor die impak op die oseaan – iets waarop hulle staat maak vir hul lewensbestaan. (Foto verskaf deur Green Connection)

Van Rooy sê dit is goeie nuus, maar Karpowership het reeds appèl aangeteken teen die besluit. “Ons bestudeer die appèl en is in gesprek met ons regspan en is van voornemings om binnekort ʼn appèl in repliek in te dien.”

Van Rooy sê die Green Connection en die gemeenskappe wat hy dien kom uit alle kringe. “Ons is ten volle bewus daarvan dat Suid-Afrika dringend ʼn oplossing benodig vir die kragkrisis. Maar ons glo ook dit is noodsaaklik om seker te maak dat daar aan alle wetlike vereistes voldoen moet word voor enige oplossing oorweeg word. Dit is om die mense van die land oor die langtermyn te beskerm.

“Alhoewel Karpowership as ʼn topoplossing beskou word vir die land se kragkrisis, kon hierdie maatskappy – vir die afgelope drie of meer jaar – nog nie voldoen aan die wetlike vereistes nie. Dit is hoekom Suid-Afrikaners waaksaam moet bly. Ons is almal desperaat vir bietjie elektrisiteit, maar ons kan nie net agteroorsit en ons regering toelaat om die land in enige ooreenkoms te wikkel wat elektrisiteit onbekostigbaar kan maak nie.”

Volgens Van Rooy kan Karpowership boonop nie die situasie vir hierdie winterseisoen verlig nie, omdat dit tussen ses tot twaalf maande lank duur om die kus-na-skip-infrastruktuur op te rig – en dit is slegs wanneer alle goedkeurings toegestaan is. “Hierdie vaartuie kan boonop die oseaan skade aanrig en dus kleinskaalse vissers en ander mense se lewensbestaan aan die kus in gevaar stel. In ʼn land wat lamgelê word deur werkloosheid, lyk dit net nie soos ʼn sinvolle besluit nie.”

  • Die Green Connection het ook ʼn petisie om buitelandse olie- en gaseksplorasie in die see te stop en vra vir volhoubare, hernubare energieoplossings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Dankie Saldanha. Die enigste wat stink ryk gaan word is Gwede Mantashe se vroulief! Daai skeep gaan geensins Saldanha of sy mense help nie.

Samuel ·

Ek is dom. Hoe kom Mantashe se vroulief in die prentjie. Verduidelik asseblief.

Elizabeth ·

Gwede Mantashe is nie ons mense se brood en botter nie. Hy sorg net vir homself. KARpowership verlig ons net van EEN fase beurtkrag. Ons kan beter doen in SA vir baie goedkoper.

annie ·

Wat Mantashe, die baas van SA besluit, sal gebeur. Hy het Cyril bygestaan toe dié se Phala hom amper gepooitjie het. Dit is hoe kaders sorg om behoue te bly in top poste. En nou moet Cyril hom weer ‘n gunsie bewys. So boer die vrot voort. Die land sal bankkrot gesuig word deur die skepe en ons gaan sit met vuil strande en onbekostigbare kragrekeninge. Mantashe sal skatryk aftree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.