Sam Mbatha-bylmoord: Derde verdagte nie in hof

Sam Mbatha (Foto: Sam Mbatha/Twitter)

Die saak waarin drie verdagtes vir die moord op Sam Mbatha teregstaan, is tydens ’n hooggeregshofsitting in die Ga-Rankuwa-streekshof tot 26 September vir ’n voorverhoor uitgestel.

Een van die beskuldigdes wat in polisieaanhouding is, Mahlatsi Nkunda (22), het nie vir die hofverrigtinge opgedaag nie. Geen redes is vir sy afwesigheid aangevoer nie.

Die staat sal ’n rekwisisie uitreik sodat hy by die voorverhoor teenwoordig is.

Volgens Henry Mamothame, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag in Noordwes, is die klag teen ʼn vierde beskuldigde, Junior Modise (21), intussen teruggetrek aangesien daar nie voldoende bewyse is wat hom met Mbatha se moord verbind nie.

Die staat en die verdediging sal na verwagting alle toepaslike dokumentasie – insluitend die inhoud van dossiere – tydens die voorverhoor met mekaar deel, waarna ʼn verhoordatum vasgestel sal word.

Thato Mosetlha (22) is op 7 Julie borgtog geweier en bly in aanhouding. Arthur Khoza (19) en Mahlatsi Nkuna (21) is op borgtog van R500 elk vrygelaat. Borgtogvoorwaardes bepaal dat hulle elke Woensdag en Sondag tussen 17:00 en 18:00 by die Klipgat-polisiestasie moet aanmeld. Hulle mag ook nie met enige staatsgetuies inmeng nie.

Maroela Media het vroeër berig dat Mbatha se liggaam op 17 Junie 2021 in ʼn uitgebrande Hyundai i20 gevind is by ʼn sokkerveld in Ikageng, Klipgat. DNS-toetse het sy identiteit bevestig.

Die polisie se ondersoek het hulle op 21 Junie 2021 gelei na ʼn huis in Phutha. “Die huis is deursoek en daar is bloedvlekke op die vloer, onder en bo-op die bed en op die mat gevind. ʼn Byl, wat vermoedelik tydens die moord gebruik is, is op die dak van die huis gevind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marius ·

R500 borg vir moord ???? Verduidelik dit aan die familie patetiese onregs plegers !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.