Sama eis kop van dokter wat pasiënt glo verkrag

hospitaal

Argieffoto: Erkan Utu/Pexels.com

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) het Donderdag gesê hy is erg geskok oor die beweerde verkragting van ʼn pasiënt deur ʼn dokter by die Dr. Yusuf Dadoo-hospitaal in Krugersdorp aan die Wes-Rand.

Bewerings van ʼn verkragting by die hospitaal doen sedert Maandag die ronde.

Dr. Mzukisi Grootboom, Sama-voorsitter, het gesê die liggaam veroordeel dié bewerings ten sterkste. Hy het gesê die verkragting van ʼn pasiënt deur ʼn dokter is “ʼn blatante en hoogs strafbare misdaad”.

“ʼn Persoon wat in die mediese beroep werk het ʼn eed afgelê en word gebind deur etiese en professionele kodes met betrekking tot sy of haar pasiënte. Hierdie bewerings werp ʼn swak lig op die mediese beroep,” het hy gesê.

Sama het ʼn beroep op die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) gedoen om onmiddellik die betrokke dokter se kwalifikasies na te gaan en ʼn dissiplinêre proses teen hom aan die gang te sit.

Volgens Grootboom is die polisie reeds by die saak betrek en ʼn ondersoek na die voorval is reeds van stapel gestuur.

“Ons bied ons opregte simpatie met die beweerde slagoffer en dié se gesin vir die sielkundige, emosionele en fisieke skade wat weens hierdie beweerde voorval ervaar is,” het hy gesê.

Gwen Ramokgopa, LUR vir gesondheid in Gauteng, het Dinsdag met skok en afgryse gereageer op bewerings dat ʼn pasiënt deur ʼn sessie-dokter by dié hospitaal verkrag is.

Ramokgopa het gesê die beweerde verkragting het glo Maandag plaasgevind.

“Ek is hartseer oor die aantygings en dit is vir my moeilik om te begryp hoe ʼn professionele persoon wat vertrou word met die versorging van ons kwesbare pasiënte so ʼn verskriklike daad kan pleeg,” het Ramokgopa gesê.

“Hoewel ons die polisie toelaat om hulle werk te doen moet ons ʼn sterk boodskap uitstuur na ons werknemers en die breër gemeenskap dat seksuele aanrandings menseregteskending is wat ten sterkste veroordeel word en oortreders moet die volle mag van die reg in die gesig staar.”

Ramokgopa het gesê die voorval word in ʼn ernstige lig beskou en sedert die aantygings aan die lig gekom het, het die departement die dienste van die beweerde oortreder met onmiddellike effek beëindig.

Die polisie in Krugersdorp het bevestig dat ʼn saak geopen is en dat ʼn ondersoek na die voorval aan die gang is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarel swartbrand ·

Ek hoop die skurk is gearesteer, dink ek nou weer aan Presedent Trump en wat hy sê oor Afrika.

Sean bowie ·

En as die pasient lieg???? Is die dokter se loopbaan verby??? Onskuldig tot skuldig bevind word

Anti-Sean Bowie ·

En as die pasient NIE lieg nie? dan is haar LEWE verwoes!

Irene ·

Ek kan nie verstaan nie, as ‘n dokter ‘n pastient gaan sien is daar nie veronderstel om n suster saam te gaan nie, sy moet instruksies dan neem.
Hoe lank neem dit om iemand te verkrag, niemand gesien of gehoor nie
Nee wat ek weet nie so lekker nie.

Theresa ·

Of dit nou verkragting van ‘n pasiënt is en of dit moord is in jou wettige tuiste of op jou grond – dis als verregaande en word hierdie land sieker by die dag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.