Sama verheug oor eerste besending entstof

(Argieffoto ter illustrasie: Ted S. Warren/AP)

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) het die departement van gesondheid en dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Donderdag geloof oor die verkryging van die land se eerste 1,5 miljoen dosisse entstof teen Covid-19.

“Ons is natuurlik verheug oor hierdie nuus en doen ʼn beroep op al ons lede en alle gesondheidswerkers reg oor die land om hieraan deel te neem en hulself teen Covid-19 te beskerm,” sê dr. Angelique Coetzee, voorsitter van Sama.

Coetzee sê hoewel elke persoon in Suid-Afrika teen die koronavirus ingeënt moet word, dit van kritieke belang is dat gesondheidswerkers in die voorste linie dit dringend ontvang.

Mkhize het vanoggend aan die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid gesê die departement van gesondheid het lankal reeds vertroulik begin onderhandel oor verskeie entstowwe, en die eerste 1,5 miljoen dosisse is van die entstof wat in Indië ontwikkel is en internasionaal reeds wyd gebruik word.

Die eerste miljoen dosisse sal voor 31 Januarie in Suid-Afrika aankom en die volgende 500 000 sal die land in Februarie bereik. Werkers in sowel die openbare as private mediese sektor sal eerste gehelp word. Daarna sal mense ouer as 60 jaar aan die beurt kom, en dan diegene met onderliggende siektes.

Coetzee meen dit is ʼn groot stap in die regte rigting en moet verwelkom word. “Terwyl hierdie proses besig is om te ontvou, is dit nou nodig dat verdere entstowwe verkry word om te verseker dat elke persoon in die land ingeënt en beskerm word.”

Die DA het ook Mkhize se aankondiging verwelkom hoewel hy daarop wys dat die verkryging van die enstof maar die eerste stap is en daar nog baie ander aspekte is wat so gou as moontlik uitgestryk moet word. Meer besonderhede rakende die verkryging van die enstof moet ook bekend gemaak word, meen die opposisieparty.

“Indien ons 40 miljoen Suid-Afrikaners teen die einde van die jaar wil inent, moet ons hierdie proses tot akkuraatheid ontwikkel. Ons kan nie vermybare agterstande bekostig nie en ook nie selfvoldaanheid nie,” sê Siviwe Gwarube, die DA se woordvoerder oor gesondheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.