Sama vies oor Nobel-steun vir Kubaanse dokters

Medici van Kuba kom in April verlede jaar in Suid-Afrika aan. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) sê hy is teleurgesteld dat die pogings van duisende dokters wat hul lewens daagliks in die stryd teen Covid-19 op die spel plaas, nie deur die regering erken word nie. Dít terwyl die kabinet sy steun toegesê het aan die benoeming van die Kubaanse Mediese Brigade vir die Nobelprys vir vrede. Die Noorweegse regering het die dokters benoem.

Die besluit het reeds groot kritiek veroorsaak, met die vakbond Nehawu wat onder meer gesê het die regering moet sy eie gesondheidswerkers met ordentlike salarisse en voordele beloon.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag gesê uit erkenning vir die Kubaanse dokters se pogings het die kabinet besluit om die benoeming te steun. Meer as 3 700 Kubane is wêreldwyd ontplooi om in die stryd teen Covid-19 te help.

Die Suid-Afrikaanse regering dok egter miljoene rande op vir dié mediese werkers om in Suid-Afrika te werk.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van Sama, sê die vereniging gee toe dat die Kubaanse mediese brigade wêreldwyd wonderlike werk doen. “Ons het nog nooit hul vaardighede bevraagteken óf hul verbintenis om ander te help nie. Ons kritiseer ook allermins die Kubaanse dokters.

“Wat teleurstellend is, is dat ons eie dokters oënskynlik nie dieselfde waardering van hul eie regering geniet nie,” het Coetzee gesê.

Sy sê dit is ʼn klap in die gesig vir dokters om te hoor dat die regering die benoeming vir so ʼn verhewe toekenning steun, terwyl plaaslike gesondheidswerkers sonder behoorlike of genoeg persoonlike beskermingstoerusting (PPE) moet werk, óf moet werk in mediese fasiliteite wat nie eens die mees basiese hulpbronne het nie.

“Hoe vergeet ons dat meer as 200 junior dokters óf nie aan die einde van Januarie betaal is nie, óf in sommige gevalle te min betaal is.

“In ander gevalle word gekwalifiseerde Suid-Afrikaanse dokters gedwing om onbetaald te werk weens poste wat gevries is en ander logistieke probleme. Dié dokters behandel baie siek pasiënte in hoësorgeenhede gratis.

“Hoe is dit regverdig of billik,” sê Coetzee.

Sy sê volgens Ramaphosa het die 187 Kubaanse dokters meer as 38 000 pasiënte in Suid-Afrika behandel – minder as 5% van die nagenoeg 800 000 gevalle wat teen die einde van November aangemeld is.

“Regverdig dit ʼn benoeming vir die Nobelprys vir vrede?”

Coetzee sê ook daar moenie vergeet word dat die Kubaanse dokters teen ʼn prys kom nie.

“Ons besef die Kubaanse dokters vorm deel van ʼn groter projek – maar kom ons vergeet nie dat die Suid-Afrikaanse belastingbetaler meer as R400 miljoen opdok om hulle hier te hê nie. Ons kan werklik nie verstaan waarom hulle vir die Nobelprys benoem word as hulle betaal word om ʼn diens te lewer nie.”

Coetzee sê die vereniging verwag van die regering om sy benoeming terug te trek en eerder ʼn poging aan te wend om meer erkenning aan sy eie dokters te gee.

Sy sê ʼn poging om die werksomstandighede van Suid-Afrikaanse dokters te verbeter, gaan ʼn reuseverskil maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Pierre ·

Daar kom sekerlik n goeie paar rande terug na die regerende party se koffers.

JohanR ·

Wel julle weet nou as dit weer kom by tyd om die X op die stem brief te sit, waar om hom NIE te sit nie!

KB ·

Mmm…”In die land van die blindes, is EenOog koning.”
Ek vat hierdie nominasie met ‘n sak sout (nie ‘n ” knippie sout” nie).

My siening ·

Ramaposa het die land se medisie verraai en hul n klap in die gesig gegee, dit is wat kommunisme doen, maar jul anc breinlose stem maar weer vir hom.

Althes ·

Dis ñ skande dat dis regering nie ons plaaslike medici erken nie.
Nou ja, skaamte het hul nie.

Kokerboom ·

Ek skaam my vir die totale mislukking van ‘n regering.

Anti-Verkramp ·

Hulle is mos nie net benoem omdat hulle in SA werk nie. Hulle werk oral ter wereld, dis hoekom hullle deur Noorwee benoem is. Ons regering het eintlik maar net die benoeming gesekondeer, ek sien niks daarmee verkeerd nie. Ander lande gaan ook die benoeming steun.

Die Wolf ·

Jy is geregtig op jou opinie. Gee asb jou opinie vir ons hoekom mediese personeel so sukkel om hulle salaris te kry, terwyl miljoene op die kubane bestee word?

Anti-Verkramp ·

Wat het dit te doen met die internasionale benoeming deur Noorwee? Die punt is dat die Kubane vereer word vir hulle mediese hulp oral ter wereld in krisistye, ens. Hulle doen dit al vir jare en het ‘n trotse tradisie in die verband. In baie gevalle is dit humanitere werk waar hulle nie eers betaal word deur die armstes van arm lande nie.

Smiley ·

Ag twak man. Waar is die armste van arm lande waar hulle werk en nie betaal word nie ? En as daar is word hulle ruimskoots vergoed deur lande soos Suid Afrika wat dit eweneens nie kan beskostig nie.

Anti-Verkramp ·

Doen navorsing voor jy jou naam met ‘n plank slaan.

Louis ·

Wel die kubane is al die jare kommuniste waarteen ons ook geveg het in SWA.mens kan dit verstaan van n anc regering wat ook komminuste is.

Lizelle ·

Klink vir my meer na gatkruip met ‘n doel as enige iets anders

Hannes ·

Patetiese klomp net soos die regering. Ons Biologie klasse in 1989 maak ons beter wat anatomie aanbetref as die klomp sigaarrollers.

Wil ·

Altyd gedog een van die kriteria van hierdie prys wat toegeken word is vir onbaatsugtelike en nie lonende diens aan jou medemens, Maar net gewonder,

christo ·

Ramaphosa bly ‘n kommunis en sosialis wat lekker leef met kapitalistiese voordele, net soos Mandela en Kie voor hom. Die Kubane wat die vloot Weermag voertuie ‘ herstel ‘ het, se kapitalistiese goedere ( yskaste, wasmasjiene ens.) is terug gevlieg in ‘n SA Lugmag C-130 na Kuba toe, op belastingbetalers se koste. Kuba dis niks ‘ verniet’ nie – die ontplooiing van die Kubaanse medici was net ‘n politieke set van Ramaphosa om vir Ace Magashule en die ander ANC topbestuur te wys dat Ramaphosa nog ‘steeds’ sosialistiese en kommunistiese beginsels ‘ ondersteun ‘. Niks anders as ‘n politiekery nie. CR druk eintlik vir die SA medici en ander hulpverleningsorganisaies soos ‘ Gift of the givers’ ‘n groot pit!

LANA is ELANè ·

Dit is ‘n skande, daar is ‘n hele klomp jr dokters wat nog nie eers uitgeplaas is om hul huisdr jr te begin nie, maar intussen voer ons land ten duurste buitelandse dr’ s in om hier te kan werk, terwyl dit onnodig is en dan word hulle werksaamhede besing asof ons eie dr’s wat in haglike omstandighede werk niks beteken en terwyl hulle aan die agterspeen suig. So tipies vd ANC regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.