Sama vra spesiale howe vir mediese regsake

(Argieffoto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) vra dat spesialishowe in werking gestel word om mediese regsake te hanteer. Sama sê ook hy steun oproepe vir ʼn dringende hersiening van wetgewing oor strafbare manslag en die toepassing daarvan in ʼn gesondheidsorgomgewing.

“Onlangse sake het weereens die tekortkominge in die bestaande wetsraamwerk met betrekking tot mediese sake gedemonstreer. Landdroste word dikwels in die onbenydenswaardige posisie geplaas om te beslis oor uiters ingewikkelde kliniese ingrypings sonder dat hulle die nodige opleiding of mediese kennis het,” sê dr. Angelique Coetzee, voorsitter van Sama.

“Dit het ernstige en verreikende gevolge vir dokters en uiteindelik pasiënte. Iets moet gedoen word, en spoedig, om die situasie om te keer.”

Sama steun die siening van agt van die voorste gesondheidsorginstellings wat onlangs aan die minister van justisie en korrektiewe dienste geskryf het om te vra vir ʼn hersiening van die bestaande wetsraamwerk.

Die organisasies het in hul brief aan die minister gesê hulle is verbind tot die hoogste vlak van veiligheid van pasiënte in Suid-Afrika.

“Dit sal egter die huidige kultuur van blaam en vrees met een van opleiding – waar gesondheidswerkers die vrymoedigheid het om verskoning te vra en uit hul foute te leer – moet vervang, asook bydra om die aantal foute te verminder en beter pasiëntveiligheid te bevorder.

“Wanneer gesondheidswerkers toegelaat en ondersteun word om uit foute te leer, word lesse geleer en pasiënte sodoende voortaan beter beskerm.”

Die organisasies sê hulle besef die kwessies is ingewikkeld en moeilik om op te los, maar dit is daarom juis belangrik dat gesondheidswerkers meer duidelikheid kry – ook oor wetgewing.

Coetzee sê sonder behoorlike uitsprake oor mediese sake gaan dokters toenemend huiwerig wees om sekere prosedures te doen. Dit skep ʼn ernstige situasie wat ook negatiewe gevolge vir pasiënte kan inhou.

“Ons het reeds dokters wat al opgesluit is weens swak prosedures wat sê hulle gaan nie langer praktiseer nie. Wanneer ander dokters dié gebeure sien ontvou en dokters tot sondaars gemaak word sonder behoorlike mediese ondersoek van hul werk, raak hulle angstig en kies eerder om die land te verlaat of nie meer die prosedures te doen nie.

“Ons kan nie toelaat dat dit voortgaan nie en spesialishowe wat van kundige getuienis gebruik maak, moet geskep word om dié sake te hanteer,” sê Coetzee.

Volgens Coetzee behels alle operasies ʼn mate van risiko en dokters moet dikwels in ʼn breukdeel van ʼn oomblik onder enorme druk ʼn besluit neem. Opgeleide mediese praktisyns moet altyd ingeroep word om sulke besluite te oorweeg omdat hulle opgelei is en die vaardigheid het om hierdie besluite te assesseer.

“Daar is nie ʼn ding dat dokters mekaar in situasies soos dié beskerm nie. Dokters sal inteendeel strenger wees as daar ʼn fout was. As ʼn aanvanklike ingryping moet prosesse en riglyne ingestel word om te verseker dat ondersoekers, nadoodse ondersoekers en aanklaers gelei word deur onafhanklike mediese kenners om te bepaal wanneer verdere ondersoek of vervolging nodig is.”

Sama sê die howe kan funksioneer soortgelyk aan die manier waarop arbeidshowe in Suid-Afrika werk.

“Spoedige ingryping is nodig en die minister moet die oproep vir verandering dringend oorweeg,” sê Coetzee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

WAT? toegelaat word om foute te maak en daaruit te leer…medisie is nie kop en een mis om mekaar se gwarre te beskerm nie…Drs se belsuite en prosesse is verhewe bo ander werk??????? SHAME ON YOU!!!!!!!

Riaan ·

As die regering gaan aanhou om die slaagsyfer af te bring, dan gaan die mediese graad seker afkom tot en met matriek biologie op hoërgraad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.