ʼn Man van Johannesburg is met ʼn strykyster in sy gesig gebrand en van geld beroof toe hy ʼn vrou tydens ʼn beweerde voorval van huishoudelike geweld probeer help het.
Kapt. Xoli Mbele, polisiewoordvoerder, het Maandag gesê die voorval het Saterdag by ʼn gebou op die hoek van Wanderers- en De Villiersstraat in die middestad plaasgevind.
“Die 36-jarige slagoffer het sy vriend gaan besoek wat in die gebou bly. Toe hy daar aankom, het hy sy vriend in die teenwoordigheid van ʼn 26-jarige man en dié se meisie gevind,” het Mbele gesê.
“Terwyl hulle daar was, het die 26-jarige man begin om sy meisie voor hulle aan te rand. Die slagoffer en sy vriend het tussenbeide getree, waarna die man sy meisie na sy kamer gevat en verder aangerand het.”
Die slagoffer en sy vriend het die vrou hoor skree en haar uit die kamer gaan haal. “Die 26-jarige man het toe die slagoffer met ʼn skerp voorwerp gesteek, hom met ʼn warm strykyster in sy gesig gebrand en sy beursie met R4 000 in gesteel.”
Die slagoffer kon daarin slaag om te ontsnap. Hy is na ʼn hospitaal geneem waar hy behandel en later ontslaan is. Die 26-jarige man is Sondag in hegtenis geneem nadat ʼn klag aanhangig gemaak is.
Die Johannesburg-Sentraal-polisie ondersoek ʼn saak van gewapende roof en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die verdagte moet Dinsdag in die Johannesburg-landdroshof verskyn.
Jammer om te hoor dat jy aangerand en beroof is. Jy Meneer, moet n medalje kry! Jy is n hedendaagse “Hero”! Ons het meer MANS soos jy nodig, veral in SA. 10 uit 10 vir jou ouers wat jou so goed opgevoed het. n MAN kyk nie ander pad terwyl n vrou aangerand word nie, en laat hom ook nie afsit deur n boelie nie. Hy het aanhou baklei vir die veiligheid vd vrou, selfs toe sy eie lewe in gevaar was.
Ek stem saam
R4000 in sy beursie?
Wern dit is vir sy rugby kaartjies vir die sprinbokke…..hulle betaal hom om te gaan kyk…….
En die meisie se oë het ook hopelik oopgegaan . . . ?
Bravo vir die dapper man! Hoop egter die sot wat mense slaan, mense met skerp goed steek en met ysters brand kry ‘n vonnis om hom te laat dink oor sy banale optrede.
Sterkte vir genesing Meneer Dapper!