Sambok-moord: Man pleit vir genade

Argieffoto

Die verdediging in die saak teen Patrick Wisani, ʼn voormalige ANC-jeugligaleier wat in 2015 sy vriendin met ʼn sambok doodgeslaan het, het Maandag by die hof gepleit om Wisani ʼn vonnis van 15 jaar tronkstraf waarvan drie jaar opgeskort is, op te lê.

Wisani (32) het weer in die hooggeregshof in Johannesburg verskyn nadat hy einde verlede jaar skuldig bevind is aan aanklagte van moord en aanranding. Dit kom nadat hy in September 2015 sy vriendin, Nosipho Mandleleni (24), met ʼn sambok en besemstok in die paartjie se huis in Yeoville doodgeslaan het.

Wisani het ook Mandleleni se tweelingsuster, Siphokazi Mandleleni, en haar vriendin, Zimbini Mathibe, aangerand in ʼn poging om hulle te verhoed om teen hom te getuig.

Wisani was ten tyde van die aanranding uit op borgtog. Sy borgtog is gevolglik in Junie 2016 teruggetrek nadat hy die twee vroue aangerand het.

Adv. Cronje Kriel, Wisani se regsverteenwoordiger, het Maandag die hof versoek om sy kliënt genadig te wees en Wisani se persoonlike omstandighede in ag te neem. “Hy is ʼn eerste oortreder en op 32-jarige ouderdom is hy in die fleur van sy lewe. Hy het verskeie mense in sy diens geneem en is die pa van twee kinders. Hy het in nederige omstandighede grootgeword wat nie kon gelei het tot die voorval wat gebeur het nie,” het Kriel gesê.

Kriel het ook aangevoer ʼn toegeeflike vonnis is gepas weens “dwingende omstandighede”. “Hy kan gerehabiliteer word en kan ʼn aanwins wees vir die samelewing. Vyftien jaar tronkstraf waarvan drie jaar opgeskort is, sal gepas wees,” het Kriel gesê.

Regter Mohamed Ismail het egter gereageer deur te sê die aanrandingsaak het ʼn impak op die persoonlikheid van die beskuldigde. “Hy het ʼn gevaar ingehou en staatsgetuies geïntimideer nadat hy moord gepleeg het,” het hy gesê.

Ismail het vroeër in die hof gesê: “Die bewyse in die saak is dat die oorledene verskeie kere geslaan is, soos ʼn slaaf se meester ʼn slaaf sou slaan. Die klere van die oorledene is geruil en ander klere is vir die oorledene aangetrek.”

Wisani het vroeër vanuit die getuiebank aan die hof gesê hy is die eienaar van ʼn konstruksiemaatskappy en verdien ongeveer R20 000 per maand. Hy het ook twee dogters van onderskeidelik vier en 11 jaar oud. Wisani het gesê hy is besig met sy studies in die tronk en sal na verwagting in 2017 sy graad voltooi.

Hy het sy verhouding met Mandleleni as liefdevol en dinamies beskryf. “Daar gaan nie ʼn dag verby wat ek nie aan haar dink nie. My ma sê ek moet nie toelaat dat dit my gees breek nie. Hierdie hof moet oor ʼn vonnis besluit en my pleidooi is dat die hof genade aan my sal betoon,” het Wisani gesê.

Adv. Faghre Mohamed, die staatsaanklaer, het Wisani gevra of hy berou het vir wat hy gedoen het. “Ek voel haar ouers se pyn. Ek hou steeds vol dat ek nie hierdie misdaad gepleeg het nie. Die ANC leer ons dat vroue nie mishandel moet word nie en toegelaat moet word om uit te blink.”

Mohamed het later Mandleleni se ma, Noxolo, na die getuiebank geroep en sy het emosioneel geraak toe sy oor haar oorlede dogter gepraat het. Sy het gesê haar dogter se dood is pynlik en iets wat sy nooit kan vergeet nie. “Dit is ʼn wond in my hart wat nooit kan genees nie,” het sy gesê.

“Ek is stomgeslaan dat iemand, nadat hulle skuldig bevind is, steeds nie kan erken wat hulle gedoen het nie. As hy hierdie misdaad gepleeg het, moet hy dit erken en dan kan ek hom vergewe. Maar om hom te vergewe beteken nie hy moet nie sy straf uitdien nie. Ek wil hê hy moet lewenslange tronkstraf opgelê word,” het sy gesê.

Ismail sal Wisani na verwagting op 11 Mei vonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jan maak n plan ·

Rlnverwys na die inhoud van die derde paragraaf in hierdie berig. Nou berig MM gister dat die ANC kwansuis besorg is oor die intemidasie in die politiek. Daar is hulle bewyse nou – hulle eie mens se maniertjies.

Anoniem ·

Watter tipe pa is hierdie man vir sy dogters? Is hulle veilig by hom??

Ronel ·

So die feit dat hy in die fleur van sy lewe is moet dien as versagtende omstandighede never mind dat hy n vrou in die fleur van haar lewe geweldadig doodgeslaan het….

Jip ·

Jip en getuies ook in die fleur van hul lewe aangerand is om nie te getuig. Eerste oortreder se voet, hy doen dieselfde na hy uit is op borg. Kriel ek weet dit is jou werk, maar regtig dit is siel verkoop om vir so geweldadige persoon vir korter tronkstraf te vra.

GR ·

Stem saam met jou maksimum straf,alles waarmee sy regsverteenwoordiger nou vir hom argumenteer was absoluut vir haar van toepassing,soos jy tereg se hy was regter en laksman. Lewenslank agter tralies

LS ·

Gooi hom in die tronk en gooi die sleutels weg, hy is glad nie ‘n aanwins vir die samelewing nie!!! Wat van die Nasipho en die ander wat hy aangerand het? Hy het haar lewe geneem !!! Ag nee wat, dan wil hy nie eens erken wat hy gedoen het nie !!! Haar arme moeder, familie en vriende moet nou elke dag sit met die verlies, die pyn.
Sterkte aan haar ma, familie en vriende, ek hoop geregtigheid geskied alhoewel dit haar nie kan terugbring nie, kan julle dalk ‘n mate van berusting vind. Dis so HARTSEER !!!

Chris Ws ·

Ag nee Adv.Kriel,jy kan regtig nie net 12 jaar tronkstraf vir ‘n koelbloedige moord vra nie!Die man verdien die doodstraf!Ek hoop die regter vonnis hom lewenslank sonder parool.Hy verdien dit

Stem 100% ·

Stem 100% saam en nog skoon klere vir haar aangetrek om weer die bloed te sien deurkom. Hy is onrehabiliteerbaar. Regter mag jy ook nie ondersteunend van iets so boos word nie. 2 keer lewenslank dieekte tronkstraf

Gesinsgeweld ·

Dit is binne gesinsverband gepleeg, hoekom moet ons ‘n oog knip as niemand anders ‘n oog knip oor plaasmoorde en oumense wat in hulle rolstoele op klein dorpies doodgeslaan word nie? Hierdie ou het sy eie vriendin doodgeslaan, dit is GESINSGEWELD en kom elke dag voor. RIV.

Wessel ·

Ek stem saam met Jip en ander. Ek wonder of Adv Kriel ook sy siel sal verkoop, sou hy n plaasmoordenaar moes verteenwoordig in die hof. Indien wel, is hy nie die naam Kriel waardig nie. Absoluut skokkend!!

Scalla ·

Hy moes veskriklik kwaad vir haar gewees het, wonder wat was die oorsaak?

Anoniem ·

Scalla, my (ex) buurman het sy vrou gewurg omdat sy vir hom vis gemaak het vir aandete, en hy wou vleis gehad het. Hy was in ‘n proffesionele beroep – veronderstel om ‘n opgevoede mens te wees. As ek nie toevallig die wurggeluide gehoor het, en my man nie oor die muur gespring het om sy hande van haar nek los te maak nie, was sy seker ook dood.

Daar is GEEN, maar GEEN verskoning vir huishoudelike geweld nie.

Pop ·

ANC se opleiding wat hulle kry. En alles wat daarmee saamgaan.

Yolandi ·

Besig met sy studies en sal in 2017 sy Graad kry???????? Waarvoor ons belastingbetalers betaal…
Maar hier buite die tronk kan ek nie eers studeer nie omdat ek dit nie kan bekostig nie!!!

Se maar net ·

Volgens die informasie wat gegee is in die berig het hy haar van tevore al geslaan. Dis dan logies dat dit nie hier gaan oor n man wat die arme ek kaart kan speel nie. Maak nie saak hoe sleg jou verlede was nie jou toekoms hoef nie dieselfde te wees nie. Die lewe is bol keuses en iewers lang die pad van die verhouding waarin hulle was het hy besluit hy het die reg om haar te misbruik. En ook om n einde te maak an haar lewe. My vraag is hoekom is sy lewe belangriker as hare. Hoekom mag hy n toekoms he en hy het haar lewe/toekoms weg geneem?

Ann Esterhuizen ·

Jy saai wat jy maai! Hy het twee kinders ontneem van hulle ma! Hy verdien niks versagting nie!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.