Sambokmoord: Oud-ANC-jeugligaleier sit lank

Patrick Wisani (Foto; Lindi Masinga/ANA)

Patrick Wisani, die voormalige leier van die ANC-jeugliga, wat skuldig bevind is op aanklag dat hy sy meisie vermoor het, is Donderdag in die Johannesburgse hooggeregshof gevonnis.

Wisani (32) het sy 24-jarige meisie, Nosipho Mandleleni, in September 2015 in Yeoville met ‘n sambok vermoor. Hy is ook skuldig bevind op aanklag dat hy haar tweelingsussie, Siphokazi Mandleleni, en haar vriendin Zimbini Mathibe aangerand het in ʼn poging om hulle te verhoed om teen hom te getuig.

Regter Mohamed Ismail het Wisani tot 20 jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van moord, een jaar vir intimidasie en een jaar vir aanranding. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Hy het gesê hy het argumente ter verswaring en versagting van vonnisoplegging aangehoor. Die staat was van mening dat lewenslange tronkstraf gepas sou wees, en die verdediging het 12 jaar voorgestel. “Ek is van mening dat dit nie moord met voorbedagte rade is nie, maar dat jy [Wisani] uit woede opgetree het,” het Ismail gesê.

Die nadoodse ondersoek het gewys dat die oorledene haar doodgebloei het. Sy is aangerand en het meer as 40 houe gehad.

Ismail het gesê huishoudelike geweld kom gereeld in Suid-Afrika voor en Wisani se optrede is sorgeloos en dat hy arrogant opgetree het teenoor sy slagoffers en hy het geen berou getoon toe hy al die getuies “leuenaars” genoem het nie. “Al wat in jou guns tel is dat jy geen vorige skuldigbevindings het nie. Hierdie tipe gedrag het geen plek in ons Grondwetlike bedeling nie.”

Noxolo Mandleleni, die ma van die oorledene, het gesê: “Ek kan niks sê nie, want my kind kan nie uit die dood terugkom nie. Dis ʼn klein vonnis. Ek wou hê hy moes lewenslank sit.”

Phindi Mjonodwano, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê: “Die NVG verwelkom die vonnis en glo dit is behoorlik en die regter het ʼn besluit geneem uit die inligting voor hom.”

Dit was nie dadelik duidelik of die voormalige ANC-jeugligaleier appèl sal aanteken teen die vonnisoplegging nie.

Lees alle vorige berigte oor die sambok-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Ai, moordenaars en verkragters moet die doodstraf opgelê word. Hulle word telkens op parool uitgelaat, net om wéér te moor. Maar dit is in ons moderne samelewing te wreed om hulle te laat sterf – ons gee hulle eerder die kans om meer onskuldige mense dood te maak. Lekker absurd…

Petro ·

Spreek boekdele oor die tipe ouens wat as LEIERS verkies word in die ANC ..

Janet ·

20jaar vir n lewe. Hahaha dis n grap. Wat van haar familie wat deur al die trauma moes gaan en dit nog deurgaan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.