Vrugbare samesprekings tussen die Thabo Mbeki-stigting en Afrikaner-belangegroepe wat gehandel het oor ‘n verskeidenheid onderwerpe van belang vir Afrikaners, die Afrikaanse gemeenskap en die breër Suid-Afrikaanse toekoms, is Saterdag in Kaapstad afgesluit. Maroela Media het vroeër berig oor dié samesprekings wat op Vrydag, 26 en Saterdag, 27 Februarie plaasgevind het. Die samesprekings is bygewoon deur 20 senior verteenwoordigers van die Mbeki-stigting en 12 Afrikanerbelangegroepe, waaronder verskeie instansies wat deel vorm van die Solidariteit Beweging.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, strek die kommer oor die rigting waarin die land beweeg, veel verder as die Solidariteit Beweging, en is die terugdruk teen die huidige situasie in die land in verskeie samelewingskringe en politieke groeperinge – ook die ANC – teenwoordig.
“Dit is ons uitgangspunt dat Suid-Afrikaners van uiteenlopende oortuiginge eerder met mekaar as oor mekaar moet praat,” het Buys ná afloop van die samesprekings in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.
Elf kernkwessies is tydens die samesprekings onder die loep geneem, waaronder ʼn gevoel van vervreemding en ʼn vertrouensgaping tussen Afrikaners en die regering, die bevegting van diskriminasie in die onderwys, die uitbou van die kultuur en erfenis van alle gemeenskappe, die uitbou van veiligheid en sekuriteit, en die stem van die Afrikaner wat in die Suid-Afrikaanse politiek gehoor moet word. Die volledige lys kernkwessies kan hier gesien word.
Buys het uitgewys dat die Solidariteit Beweging by verskeie projekte en strategieë betrokke is wat verband hou met die “Ons sal self”-inisiatief. Dié inisiatief het reeds, sover dit fisiese konstruksie betref, tot die bou van onder meer ‘n tegniese kollege en die oprig van ‘n universiteitskampus gelei.
As onderdele van die inisiatief is daar ook ‘n veiligheidstrategie, ‘n beskermingstrategie (beskerming van regte en belange deur byvoorbeeld die howe), ‘n bedingingstrategie (onderhandelinge met verskillende belangegroepe om probleme op te los) en ‘n buitelandse strategie (wat in hierdie geval byvoorbeeld die Konrad Adenhauer Stiftung betrek het) geformuleer.
Die ontmoeting met die Thabo Mbeki-stigting is deel van die bedingingstrategie, wat ten doel het om uit te reik ter oplossing van kritiese probleme soos landboufinansiering (gegewe byvoorbeeld die swak posisie van die Landbank), beter dienslewering in munisipaliteite, en onderwyskwessies, insluitend moedertaalonderrig.
Volgens Buys is dit dus deel van ‘n steunwerwingsproses om regmatige belange soos byvoorbeeld Afrikaanse onderwys te bevorder.
“As ons Afrikaanse onderwys wil bevorder, help dit nie om net met Afrikaanse mense daaroor te praat en te onderhandel nie. Dit is ook belangrik om met invloedryke mense buite die Afrikaanse gemeenskap kontak te maak daaroor, om beleid te beïnvloed en dit aan ’n groter ideaal te koppel,” aldus Buys.
Volgens hom was die samesprekings ‘n goeie stap vorentoe met, onder meer, baie nuwe begrip vir die belang van moedertaalonderrig en Afrikaanse opleidingsinstellings, sowel as ‘n groter besef vir die dringendheid dat iets gedoen moet word om die huidige koers van die land te verander.
Buys het uitgewys dat onderhandelings ook met ander groepe en met die regering aan die gang is.
Van die projekte wat aangepak word, is die verbetering en opgradering van dienste in dorpe waar dit broekskeur gaan, asook onderhandeling en beïnvloeding teen kern-knelpunte soos onteiening sonder vergoeding.
Ander projekte sluit in om Suid-Afrikaanse instellings bloot te stel aan buitelandse voorbeelde waar federalisme suksesvol gedy, soos Switserland, Duitsland en België.
Voorts word organisasies se bewese bestuursvaardighede en vermoë om projekte suksesvol gedoen te kry, aangewend om te verseker dat Suid-Afrika nie die geldelike steun van buitelandse regerings en organisasies vir projekspesifieke finansiering verloor nie.
“Tydens die onderhandelings het ons nie weggeskram van reguit praat nie – ook nie van skerp kritiek op mislukte en mislukkende beleidsrigtings van die ANC-regering nie,” het Buys gesê.
Ek het baie respek vir Flip Buys, maar is Mbeki invloedryk? Gaan die gesprek dividende oplewer?
Ek was nog nog nooit ń voorstander van die ANC nie, maar, volgens bronne, is Mbeki ń baie belese mens wat nie net uit onkunde praat nie en op hoogte is van baie sake omdat hy baie lees. Dis blykbaar een rede waarom hy onttroon is omdat hy goed bietjie meer rasioneel probeer benader het, maar deur die oorgrote meerderheid onkundiges in die ANC in ń hoek gedruk is om ander besluite te neem, teen sy sin. Ongelukkig, omdat hy aan die ANC behoort, word hy maar beïnvloed deur hul identiteit, en volg hy maar die hoofstroom. Ek dink dis beter om met hom te onderhandel as met enigiemand anders in die ANC.
Die self doen deel is reeds aan die gang. Ons sal probeer om ander groepe ook te betrek maar sal nog steeds kan aangaan sonder hulle. Afrikaners gaan sit nie en ween as dinge rof word nie. Ja, miskien word alles weer afgevat maar dan moet mens maar net weer terugdruk.
Het julle gesien hoe die Senekal gemeenskap bymekaar gekom het om die dorp op te knap? Alle rasse.
Flip Buys wat jy doen en sê om die regte van Afrikaners te beskerm en te bevorder in Suid Afrika gaan nie ongesiens verby nie.
Opregte dank van ons almal wat bewus is daarvan. Jy is ons Afrikaners se baken van hoop in Suid Afrika. Ek is opreg trots op jou.
Nee wat mors van tyd.
Afrikaner inbors, kundigheid, leierskap, eerlikheid en saamstaan SAL toenemend wonderlike vrugte lewer. Ons is trots op ons mense, herkoms en toekoms!! Baie dankie.
Met Piet Retief se onderhandelings is ons bedrieg.
Met die Britse koningkryk onderhandelings is ons bedrieg.
Met Codesa onderhandelings is ons bedrieg.
Kom ons hou aan onderhandel want ‘n donkie stamp sy kop meer as net drie keer…
Om met die Mbeki stigting te praat gaan nie help nie, want die Mbeki stigting regeer nie SA nie. Afriforum het dieselfde fout gemaak deur by die Heritage Foundation in Amerika oor plaasmoorde te kla. Dit het niks gehelp nie, want die Heritage Foundation regeer nie Amerika nie.
Welgedaan Flip en jou span. Ons planne moet net nie opraak. Ons sal self..dis verseker!Ons kan NIE verder toelaat dat die verrotte anc regime ons verder aan ons neuse rondlei!!
Interessante samesprekings.Eerwaarde Allan Hendrikse het jare gelede ‘n konfederasie van state voorgestel en niemand het hom ernstig opgeneem nie.Geskiedenis het nogal ‘n neiging om herhaal te word.Dankie mnr Buys vir wat julle vermag.Die dividende sal verseker nog volg.
Piet retief het ook probeer onderhandel sterkte.
Beslis ‘n Pluspunt ..ney ‘ n vraag wst is die stigting se bande met die ..ANC. Bekend dst die ANC organisasies
Insypel en onmin veroorsaak.
Weereens…..”a pie in the sky”…..
En jou oplossing is ?
Die hede is goed voorspel deur baie in die verlede. Die mense stel nie belang in wat reg is en om saam te werk nie. Dis net n mors van tyd. Selfbeskikking is al wat hier kan werk met miskien handelsooreenkomste.
Toe Mbeki president was het hy gehelp om die Boere -Afrikaner te onderkruip, met hulle agendas, en dien hulle die meesters in geheime organisasies. Hulle het nou ook weer vir Roelf Meyer gaan haal om te help om die laaste spyker in die kis te slaan. Ja ons is bewus watter goeie werke Flip doen en waardeer dit baie. Die probleem watter organisasies is besig om Flip se beeld te bou, sy maatjies in die Afrikanerbond en hulle maatjies die Vrymesselaars. Ongelukkig is die leiers wat voorgee dat hulle dien baie verdag, en boesem hulle geen vertroue in onder baie Boere – Afrikaners. Ons ou volkie word gestraf deur swakke en onbevoegde leiers. Wag maar vir die dag wanneerdie loutering vpltooi sal wees, en die een wat se wil vas sal staan, sonder om te wyk.
My opinie is dat in elke Afrikaans skool en engelse skool n verpligte swart taal moet. Wees. Dit sal vertroue bou as mense mekaar kan verstaan. En respek as jy met 7emand in sy raal kan komunikeer. Waarom dit nie van 1994 gedoen is nie wys my die plan van die nuwe regime was om nie te wil he ons moet hul taal kan praat nie sodat 8emand langs jou jou kan beledig of jou ondergang kan beplan sonder dat jy weet nie. Dit sou baie problems en misverstande en agterdog uit die weg ruim
Jammer Flip, maar om steun onder Thabo Mbeki en sy kamerade te probeer werf is verregaande!
Ek beskou jou as ‘n nugter, oop-kop patriot, maar hierdie uitreik na Mbeki en sy bende was onnodig en gaan Solidariteit en haar langtermyn doelstellings skaad. Mooi-klinkende gebare en vriendelike praatjies met Afrika se Renaissance dromer gaan julle spoed laat verloor en verstrengel raak in die moeras van Afrika politiek.
Het Jan Bosman en sy Afrikanerbond ook nie onlangs met Ramaphosa koeksisters in die Paarl gedeel nie? Dit was ook bestempel as ‘n waterskeidingsoomblik.
Soek God op wanneer jy ‘n Planmaker nodig het; nie ‘n ontsetelde politikus wat verbind word met 365 000 voorkombare VIGS sterftes nie.