Samewerking gevra om Knysna-probleme op te los

Skermgreep uit ‘n video wat op Facebook gedeel is oor die watergehalte van Knysna

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, is in kennis gestel dat die Knysna-munisipaliteit Vrydag sal vergader om ernstige diensleweringsprobleme te bespreek.

“Dit is ʼn belangrike stap in die herstel van die munisipaliteit en om die probleme te takel,” sê Winde. “Die munisipaliteit moet verantwoordelikheid aanvaar om die probleme op te los. Ons sal hulle ondersteun, maar die onus berus by hulle. Dit gaan ʼn lang proses wees en moet binne wetgewing geskied.”

Maroela Media het vroeër berig Knysna-inwoners kan nie meer staat maak op basiese dienslewering nie. “Hul daaglikse uitdagings grens aan menseregteskendings met ongereelde watertoevoer, rioolstortings en vullis wat in die strate opgaar.”

Winde sê indien die munisipaliteit nie die onlangse diagnostiese assessering deur die departement van plaaslike regering oorweeg of die ondersteuningsplan wat deur die provinsiale regering ontwerp is aanvaar nie, sal sy regering ingryping oorweeg kragtens artikel 139 van die Grondwet.

“Ons hoop dat die munisipaliteit met ons sal saamwerk. Ek is veral besorg oor die moontlike ramp wat ontwikkel rondom veiligheid drinkwater, riool en vullisbestuur.”

Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het die nasionale minister van samewerkende regering, Thembi Nkadimeng, genader om samewerking te verseker tussen die drie regeringsfere om die uitdagings in Knysna te takel.

Bredell het gesê hy is Dinsdag in kennis gestel van ʼn beplande besoek van ʼn afvaardiging van die nasionale regering aan Knysna en was besorg dat parallelprosesse tot nadeel kan wees van ʼn langdurige oplossing.

Volgens Bredell is die diagnostiese assessering en die artikel 154-ondersteuningsplan reeds ontwikkel en met die nasionale departement van samewerkende regering bespreek, asook beamptes van die munisipaliteit.

“Al wat ons nodig het, is dat die stadsraad die plan aanvaar en die dokumente goedkeur sodat ʼn omvattend ondersteuningsplan ingestel kan word,” het Bredell bygevoeg.

Winde sê om dié “gemors doeltreffend op te los”, moet almal op dieselfde bladsy wees – in die belang van die inwoners van die munisipaliteit.

“Ek verneem dat die nasionale regering van voornemens is om direkte ondersteuning te bied aan die munisipaliteit om die kwessies aan te roer asook die uitvoerende verpligtingsversuimings van die munisipaliteit. Bystand van enige aard word opreg waardeer en verwelkom, maar ek moet daarop aandring dat hierdie bystand eerder by die bestaande ondersteuningsplan ingevoeg kan word. Op só manier voorkom ons duplisering en voorkom ons verwarring wat betref prioriteite om dienslewering en bestuur van die munisipaliteit te verbeter,” het Bredell gesê.

Winde benadruk sy kommer oor die haglike toestand van die dorp. “Die situasie het vererger en samewerking is nou nodig om Knysna reg te ruk. Knysna-inwoners, net soos alle inwoners van die Wes-Kaap, verdien die beste moontlike diens.”

DA eis Knysna-leierskap se bedanking

Dion George, DA-kieshoof in Knysna, en plaaslike raadslede sal intussen Donderdag na die munisipale kantoor opruk om die onmiddellike bedanking te eis van die ANC/EFF/PA/PBI-koalisieraadslede.

“Knysna-inwoners is nie meer basiese dienslewering gewaarborg nie,” sê George.

Die optog begin om 09:00 by Springstraat 15.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Hierdie gemors is danksy ‘n spanpoging van ANC-kaders om die DA te troef en kiesers ongelukkig te maak en vir superman Cyril om weer sy vlerkies te kry in die verkiesing en die Kaap in ‘n behoorlike rommelhoop te groei soos elders in die land.

Kokerboom ·

Knysna: Onaanvaarbaar. Inwoners gooi die politieke gespuis uit en neem beheer van jul dorp asb!

Republikein in die Wes Kaap ·

Die koalisie se ondersteuners gee nie om hoe Knysna lyk nie. Sodra die plek in duie stort trek hulle na George. Neem daar oor en breek af en trek dan na Kaapstad om daar oor te neem en af te breek. Dit kan net gestop word met afstigting.

ES ·

Dis maar tyd dat die mense vir die regte partye begin stem – veral in die munisipale verkiesings, dan sal hulle nie hierdie gemors he nie. Dit wys jou maar net dat ‘n koalisieregering met die verkeerde party ‘n totale ramp is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.