Samewerking laat landbouontwikkelingsprojek blom

Kgosatsana Gabo Moroka op die gemeenskap se plaas in die Vrystaat. (Foto: AfriForum)

Dit is ʼn projek wat bewys dat jy met min hulpbronne steeds kan floreer.

Die Boiphitlhelelo Koöperatief wat in 2017 op die been gebring is om voordeel te trek uit die een-huishouding-een-hektaar-program van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, is besig om danksy die samewerking van verskeie groot instellings van krag tot krag te gaan.

AfriForum, Pioneer, Saai, Agri All Africa (AaA), Purposely Ignited, Boschveld Free Range Chickens, Agrico en Laeveld Agrochem het reeds met die koöperatief hande gevat om ’n gesamentlike landbouontwikkelingsprojek by die Noga’s Post-nedersetting van Thaba ’Nchu naby Bloemfontein aan te pak.

Die groep steun die Noga’s Post-gemeenskap se ontwikkelingsprojek nadat hulle self reeds suksesvol mielies en ander groente tydens die vorige plantseisoen geproduseer het.

Altesaam 36 gesinne het oorspronklik by die koöperatief aangesluit en onder leiding van Kgosatsana (Prinses) Gabo Moroka, tradisionele leier van Noga’s Post en woordvoerder van die Boiphitlhelelo Koöperatief, kon hulle – afgesien van die 36 ha wat deur die regering aangeplant is – self ʼn verdere 20 ha mielies en groente tydens die 2019-’20-plantseisoen aanplant.

(Foto: AfriForum)

Verskeie lede van die gemeenskap het ook kos in hul eie tuine geproduseer en die groente en mielies wat só verbou is, het verseker dat die Noga’s Post-gemeenskap tydens die afsonderingstydperk genoeg kos het om te eet.

“Ons het baie hard saamgewerk om lede van die gemeenskap van Noga’s Post se ingesteldheid aan te pas om weer hoop te hê en te werk om voedselsekerheid en ’n beter toekoms te verseker,” sê Moroka.

Kgosatsana Gabo Moroka. (Foto: AfriForum)

“Ek is baie trots op die prestasie van die gemeenskap en is dankbaar dat ander rolspelers besluit het om betrokke te raak om van ons projek ’n nog groter sukses te maak. Hierdie inisiatief is ’n voorbeeld van wat ons bedoel met vreedsame naasbestaan en samewerking.

“Ek beskou dié samewerking as ’n voortsetting van die goeie verhoudinge wat ontstaan het in die tyd van my voorvader Kgosi Moroka II in 1836.”

Moroka sê die meeste Trekkers het jare gelede deur dié gebied getrek en soos haar voorvaders hulle tóé verwelkom het, doen sy dit vandag steeds.

Barend Uys, hoof van interkulturele samewerking by die burgerregtegroep AfriForum, sê die gemeenskap het bewys dat hulle selfstandig wil wees en daartoe werk om ʼn beter toekoms vir hul kinders moontlik te maak.

“’n Toekoms waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan lê in wedersydse erkenning en respek en samewerking tussen verskillende kulturele gemeenskappe en rolspelers, waarvan dié projek ’n uitstekende voorbeeld is,” het Uys gesê.

(Foto: AfriForum)

Dirk Hanekom, uitvoerende hoof van Agri All Africa, sê die rol van kleinboere is geweldig belangrik en dat die vennootskap wys hoe wit en swart boere kan hande vat.

Agri All Africa koördineer die bydrae van die kommersiële boere van die omgewing wat by die projek betrokke is. Dié boere tree as mentors vir die gemeenskapslede op en help ook met die verskaffing en aanwending van toerusting.

“Met werklikwaar baie min hulpbronne aan die begin maar met baie geloof kan jy berge versit,” sê Hanekom.

Charles Matlou, kleinboerontwikkelingsbestuurder by Pioneer Hi-Bred RSA, sê dit is inspirerend om saam met dié gemeenskap te werk. “Dit is vir Pioneer ’n voorreg om by dié projek betrokke te wees en deur, onder meer, die skenking van die beste gehalte saad by te dra om van die projek ’n nog groter sukses te maak.”

(Foto: AfriForum)

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê as familieboernetwerk wil die organisasie mense steun wat graag kommersiële boere wil wees sodat hulle nie net vir hulself welvaart kan skep nie, maar ook kan bydra tot voedselsekerheid in die land.

Gerda Kotzé van Purposely Ignited verleen bystand met die koördinering van insette deur die verskillende rolspelers, terwyl Mike Bosch van Boschveld Free Range Chickens ook hoenders aan die koöperatief geskenk het.

Laeveld Agrochem het saadpakke geskenk vir die aanplant van groentetuine in lede vandie gemeenskaps se erwe en steun ook die groter landbouprojek met ander middele.

Die plaaslike Agrico-tak in Bloemfontein dra by tot die projek deur die ontwerp van die waterverspreiding- en besproeiingstelsel met die doel om die optimale besproeiing vir elke gewas en area te spesifiseer en sodoende opbrengs en wins te maksimaliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaco ·

Een huishouding een hektaar. En wanneer onteiening sonder vergoeding begin is die slagspreuk, met die klem op slag, seker “one settler one bullet”.

annie ·

Jaco en ek is op dieselfde bladsy of hooimied… dit kan net gly… ooh te lekker, tot die son sak en die bene brand in die badwater… te laat. In 1994 het die geagte onderhandelaars ook visioene van grootse samerwerking en ewigdurende voorspoed in die wolkemassa gelees.. soos destyds die Adamastorfiguur, die matrose op die seilskippie by die Kaap van Storms… the same result.

Sanet ·

Ja annie… Sy verklaar alles net hier “in die tyd van my voorvader Kgosi Moroka 11 in 1836.” Hoekom kom my Oupa se waarskuwing van vertroue so skielik by my op? Iemand noem net vanoggend weer in n berig “we are involved in a spiritual war worldwide the moment.”

Jaco ·

Pragtig. Afriforum en Saai werk saam met die ANC regering aan ‘n grondhervormingsprojek. Onthou net, hierdie hulp en samewerking word nie regtig waardeer nie. Môre oormôre begin onteiening sonder vergoeding en dan het die ANC klaar al die besonderhede van die wit boere wat so mooi “saamgewerk” en kan hulle plase eerste afgevat word. Asseblief boere, word wakker. Hoe minder julle met dié anti-wit regering te doen het hoe beter.

Barend Petrus ·

Môre Jaco. AfriForum (en die ander rolspelers) werk saam met die gemeenskap (hul koöperatief). Die projek het begin as ‘n regeringsprojek, maar die regering is tans nie betrokke nie.
Goeie verhoudinge tussen verskillende kultuurgemeenskappe is noodsaaklik vir ‘n toekoms sonder konflik. AfriForum is nie hier met iets nuuts besig nie. Sedert die Groot Trek het Afrikaners goeie betrekkeninge met ander kultuurgemeenskappe probeer handhaaf.
Ek kan jou verseker dat die gemeenskap die samewerking waardeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.