Samsa ondersoek oliestorting by Algoabaai

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) het ʼn ondersoek van stapel gestuur om vas te stel waarom sowat 400 liter skeepsbrandstof hierdie naweek in die see by Algoabaai se Ngqura-hawe in die Oos-Kaap gestort is.

Die owerheid het Maandag in ʼn verklaring gesê dié storting wat Saterdag in die vroeë oggendure plaasgevind het, is sedertdien onder beheer gebring en sal na verwagting geen omliggende strande of eilande bereik nie.

Luidens die verklaring is ʼn maatskappy sedertdien gekontrakteer om die situasie te evalueer. Die maatskappy het vasgestel daar is geen olie meer in die water te bespeur nie.

Maroela Media het vroeër berig die oliestorting het plaasgevind tydens die hervul van ’n Liberiese skip ter see, sowat 20 km vanaf Port Elizabeth.

Volgens Samsa het die skeepsbrandstof tydens die hervul oorgeloop.

Die olie-opruimingsmaatskappy SA Marine Fuels is die naweek inderhaas ontbied om die oliestorting te probeer beperk.

Sobantu Tilayi, uitvoerende hoof van Samsa, het gesê die owerheid sou na verwagting ook vanoggend verskeie strande en eilande aan die Baaise kus besoek om seker te maak dat die olie nie die kus bereik het nie.

“Samsa sal ’n deeglike ondersoek na hierdie ongelukkige voorval doen. Terwyl die verantwoordelikheid van die voorkoming van besoedeling deur skepe op die see nie meer by Samsa berus nie, maar by die departement van omgewingsake, neem ons steeds ons rol as die bewaarder van die land se maritieme sake asook die bevordering van die Suid-Afrikaanse maritieme ekonomie ernstig op,” het Tilayi in die verklaring gesê.

Luidens die verklaring is Samsa deeglik bewus van die gevolge wat ʼn oliestorting op die seelewe asook die ekonomie het.

Tilayi het gesê Samsa sal alles in sy vermoë doen om seker te maak dat ʼn soortgelyke geval nie weer gebeur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jacques ·

Net 400 liter? Dis nie baie nie. Daar kort ‘n paar nulle. Dis maar twee dromme

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.