SAMV-voorsitter in hospitaal ná aanval  

Dr. Mvuyisi Mzukwa

Dr. Mvuyisi Mzukwa, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV), sterk in ʼn hospitaal aan nadat hy aangeval en verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek is.

Die presiese omstandighede rondom die voorval is nog nie duidelik nie, maar volgens die departement van gesondheid, is Mzukwa oor die naweek aangeval terwyl hy van die King Shaka- internasionale lughawe na sy huis gery het.

Dr. Sibongiseni Dhlomo, adjunkminister van gesondheid, het Mzukwa Sondag in die hospitaal in Durban besoek waar hy aansterk.

“Ek was baie bemoedig om te vind dat hy op die herstelpad is en het hom geprys vir sy heldhaftige optrede nadat hy self, bebloed en in pyn, na die naaste hospitaal bestuur het om sy eie lewe te red.”

Dr. Kenneth Jacobs, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid, het intussen gesê hy het met skok van die voorval verneem.

Volgens berigte was Mzukwa op pad terug huis toe nadat hy ʼn SAMV-raadsvergadering bygewoon het. Hy het verskeie steekwonde in die bors opgedoen.

Die komitee het Mzukwa ʼn spoedige herstel toegewens. “Die komitee veroordeel hierdie daad van misdadigheid en barbaarsheid ten sterkste. Ons doen ook ʼn beroep op motoriste om ekstra waaksaam op die pad te wees aangesien misdadigers elke dag meer genadeloos word,” het Jacobs gesê.

Die komitee het ook ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ander relevante wetstoepassingsinstansies gedoen om geen steen onaangeroer te laat totdat die oortreder(s) aangekeer en vervolg word nie. “Wie ook al hierdie daad gepleeg het, verdien om in die tronk te vrot. Ons vertrou dat die polisie die oortreder(s) gaan opspoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Di ·

Misdaad het deel van ons daaglikse lewe geword in die land. Dis nie ‘n lewe om elke dag in vrees te leef, weet nie of jy veilig by die werk en terug gaan kom by jou huis nie. Die korrupte regering is heentemal uit voeling met die impak wat misdaad op ons as landburgers het, hulself word beskerm deur honderde veiligheidswagte en ons veg ‘n verbete stryd om aan die lewe te bly. Sterkte aan hierdie man, wens hom ‘n spoedige beterskap toe.

melaney ·

Baie jammer om van die aanval op hierdie man te hoor. Bly hy lewe nog. Wens hom vinnige beterskap toe. Daar word gevra dat die boosdoeners spoedig aangekeer word. Wat van die duisende ander wat daagliks deurloop? Wat van die boere wat sorg dat ons elke dag eet? Is hulle lewens minder werd?

Ansie ·

ALLE moordenaars verdien om in die tronk te vrot. Raak ontslae van Cele en stel ‘n minister aan wat regtig omgee en weet wat hy doen. Die SAPD is in ‘n patetiese toestand agv van onbevoegde, arrogante, swak leiers die afgelope twee dekades. ‘n Vis vrot van sy kop af.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die probleem begin by Ramaphosa en uitgediende ANC politieke beleid, inluitend BEE en regstellende aksie. Dit gaan nie gou verander nie.

domheks ·

cANCer is so besig om hulle eie probleme te hanteer, daar is nie nog tyd om na die land se probleme om te sien nie! Nou is dit maar elkeen vir homself en die duiwel vir die res!

Marcello ·

Defnitief nie, ontvang sekerlik die “beste” behandeling wat die ANC weet mos nou van hom. As hy hoof is van SAMV het hy sekerlik ‘n mediese fonds.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.