ʼn Klag van opsetlike saakbeskadiging is teen die munisipalewerkersvakbond Samwu en sy provinsiale sekretaris, Thabang Tseoua, aanhangig gemaak nadat die Bloemfonteinse stadsaal Woensdagaand in ʼn brand verwoes is.
Devar Smit, VF Plus-raadslid in die Mangaung-metro-munisipaliteit, het in ʼn verklaring gesê die klag is Donderdag by die Parkweg-polisiestasie aanhangig gemaak.
Maroela Media het vroeër berig die stadsaal is heeltemal verwoes in ʼn brand wat ontstaan het kort nadat Samwu-lede by die gebou vergader het. Samwu-lede by die Mangaung-metro-munisipaliteit staak al weke lank weens ontevredenheid oor salarisse.
Simon Mathe, Samwu se algemene sekretaris, het egter Donderdag ontken dat enige van Samwu se lede by die brandstigting betrokke was en beweer Samwu se lede was reeds weg uit die omgewing toe die gebou vlamgevat het.
Smit het in ʼn verklaring gesê die VF Plus het vroeër by monde van raadslid dr. Elizabeth Snyman-Van Deventer vir Samwu gemaan om sy lede in toom te hou nadat stakers ook onder meer elektrisiteitsdrade in woonbuurte soos Botshabelo en Dan Pienaar geknip het. “Tseoua het op die aanmaning gereageer deur enige bewerings van geweld deur Samwu-lede ten sterkste te ontken en te sê die VF Plus suig hierdie aantygings uit hul duim,” het Smit gesê.
Volgens Smit het Tseoua ook aan ʼn plaaslike koerant gesê indien die VF Plus glo dat Samwu by die brandstigting betrokke was, moet hulle die saak by die polisie aanmeld. “Dit is dan presies wat ons vandag gedoen het. Dit was mnr. Tseoua en sy organisasie se plig om hul lede gedurende hierdie uitgerekte staking in toom te hou en hulle is aandadig aan die verwoesting van ʼn besonderse erfenisbate en ander eiendom en moet strafregtelik aangekla word,” het Smit gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
19 Kommentare
Maar Rome brand nie aldus stortkop
Daar brand die Stadsaal ook geheimsinnig dalk is dit ” fopnuus”
Dit het lankal nodig geword dat die organiseer der van “oproer” aanspreeklik gehou word vir skade aan.openbare of privaat eiendom tydens be tog Ing geweldadige of te not
Hulle kry vir ten minste 10 jaar geen verhogings nie. Die geld wat so gespaar word, kan gebruik word vir die herstel van die stadsaal.
Nou dink hulle vir een oomblik dat die vakbond vir die skade gaan betaal. Wat n groot grap!