Samwu: ‘Cosatu wys ons ʼn middelvinger’

Die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) sê hy betreur die feit dat Cosatu hom vir die eerste keer verbied het om dié vakverbond se nasionale kongres by te woon.

Cosatu se 13de nasionale kongres het Maandag by Gallagher Estate in Midrand begin en duur nog tot Donderdag. Samwu se sekretaris-generaal, Simon Mathe, sê Cosatu se taakspan het hulle ter elfder ure laat weet die vakbond is onwelkom by die kongres weens uitstaande affiliasiegeld.

Maar Samwu meen daar steek meer agter die uitsluiting. “Ons kort duidelikheid oor die verloop van gebeure wat daartoe gelei het dat ons ons in die huidige situasie bevind,” sê Mathe in ʼn verklaring. “Ons nasionale ampsbekleërs het meer as een keer met Cosatu gesprek gevoer oor die stand van sake van die eenheid in Cosatu.”

Samwu sê dis die eerste keer dat ʼn geaffilieerde vakbond wie se sake nie in orde is nie, verhoed word om ʼn Cosatu-kongres of -vergadering by te woon. “Volgens tradisie is ʼn filiaal wie se sake nie in orde is nie, nog altyd toegelaat om die vakverbond se vergaderings by te woon, maar dan net as waarnemer,” sê Mathe.

Hy sê Samwu is uit die veld geslaan toe lede aan die vooraand van die kongres in kennis gestel is dat hulle nie akkreditasie sou kry nie. “Ons erken ons sake is nie by Cosatu in orde nie, maar ons nasionale ampsbekleërs het reeds talle pogings aangewend om ons skuld by die vakverbond te delg.”

Mathe sê Samwu het sy woord gestand gedoen om ingevolge ʼn ooreenkoms R3 miljoen agterstallige skuld aan Cosatu te betaal. “Ons by Samwu het besluit om ons nie in te dwing in die kongres nie, want die vakverbond se nasionale ampsbekleërs het letterlik vir ons ʼn middelvinger gewys.”

Samwu het kennis geneem van berigte dat ons die kongres ontwrig het, sê Mathe, maar “ons wil dit duidelik stel dat ons afvaardiging nie ʼn voet op die kongresperseel geplaas het nie. Ons distansieer ons dus van Maandag se pogings om die kongres te ontwrig.”

Cosatu sê op sy beurt in sy organisatoriese verslag wat voor die kongres dien Samwu se leierskorps het meermale beloftes oor hul deelname verbreek, berig African News Agency. “Die besluite was onder meer dat alle skorsings, uitsettings en bedankings teruggetrek word,” sê die vakverbond in ʼn verklaring.

Cosatu se taakspan het volgens die vakverbond ʼn plan aanvaar waarvolgens Samwu-lede in verskeie provinsies toegespreek sou word.

“Ondanks hul voorneme om hieraan deel te neem, het Samwu se leierskorps geen sodanige vergaderings bygewoon nie, maar Cosatu verhoed om Samwu-lede toe spreek,” beweer die vakverbond. “Net in die Oos-Kaap kon ons ʼn vergadering belê en met Samwu-leiers praat en ʼn algemene vergadering in Gauteng hou.”

Maar sy werk kon nie voortgaan nie, sê Cosatu in sy verklaring, “weens die gebrek aan samewerking van Samwu”.

Cosatu beweer Samwu het reeds 30 000 lede verloor weens ʼn gebrek aan geloofwaardigheid en vertroue in sy leierskorps.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hannes ·

Astroniemiese bedrae geld betrokke by unies in ‘n land wat tans gebuk gaan onder resessie wasr armorde en werkloosheid floreer

PLP ·

Hoekom kan Samwu nie hulle affiliasie gelde betaal nie. Ondersoek Samwu, wat het geword van die lede geld wat elke maand deur sy lede betaal word

pienk ·

uiteindelik kry cosatu die boodskap. geen betaling, geen deelname. n mens betaal vir alles in die lewe. as jy nie betaal nie, kan jy nie dienste eis nie. as jy nie betaal nie vat hulle jou kar, jou huis, jou meubels terug. as jy nie betaal nie behoort jy niks te brand nie, jy besnoei en spaar tot jy kan betaal. ..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.