Samwu-lede geteister, met pepersproei gespuit

Samwu-lede buite Samwu House in Johannesburg op 3 September 2014 Foto: @POWER987News op Twitter.

Samwu-lede buite Samwu House in Johannesburg op 3 September 2014 Foto: @POWER987News op Twitter.

Lyfwagte van Samwu-leiers het Woensdag glo vakbondlede by sy kantoor in Johannesburg rondgestamp en met pepersproei gespuit om hulle te verhoed om die gebou te betree, het The Star Donderdag berig. Daar is glo ook skote gevuur.

“Ons het Woensdagoggend by die werk opgedaag, maar ons is uit die gebou gedwing,” het Nomfezo Mdingi, adjunk uitvoerende hoof van Gauteng, aan die koerant gesê. “Drie van hulle het my hardhandig hanteer en hulle het my met pepersproei gespuit.”

The Star het berig ampsdraers van die munisipalewerkersvakbond het vandeesweek aangekondig dat nóg lede, wat verdeeldheid in die vakbond saai, geskors sal word. Ongeveer 40 lede en leiers is reeds geskors.

ʼn Groep genaamd Save Our Samwu (SOS) eis ʼn forensiese oudit om te bewys dat R136 miljoen, wat glo weens “onderduimse onderhandelings” uit die koffers verdwyn het, is verkeerd aangewend.

Mdingi sê hulle moes Dinsdag duplikaatsleutels van hul kantoor oorhandig. “Dis wat hulle die heeltyd wou doen,” het sy gesê. “Dit was doelbewus. Hulle het mense gehuur om ons te kom aanrand. Die ampsdraers is aanspreeklik vir die miljoene wat vermis word.”

Walter Theledi, uitvoerende hoof van Samwu, het gesê Mdingi is geskors, maar die SOS het ʼn interdik bekom om die vakbond te verhoed om met die skorsings voort te gaan. Die saak sal op 15 September in die Johannesburgse hooggeregshof aangehoor word. Hy sê hy was by die kantoor, maar nie bewus van die bakleiery nie. “Hulle was nie hier om interne vakbondsake te bespreek nie. Hulle het gekom om ons te teister. Dit is onaanvaarbare gedrag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.