Samwu stel staking uit by Rand Water

water-kraan

(Argieffoto: pixabay)

Die munisipalewerkersvakbond Samwu het Maandag as ʼn respondent in die arbeidshof verskyn ná pogings deur Rand Water om ʼn beskermde staking deur die vakbond te verhoed.

Bafana Zungu, Gautengse sekretaris van Samwu, het gesê die vakbond het die “moeilike besluit” geneem om die staking uit te stel ná die werkgewer die diensvoorwaardes vir werkers verander het – spesifiek wat betref aansporingsbonusse wat werkers al die afgelope 17 jaar lank ontvang.

“Ná verskeie pogings deur die vakbond om met die werkgewer te vergader om die besluit om te keer, het die werkgewer arrogant gebly en wou hom nooit verbind tot ʼn vriendskaplike oplossing vir die probleem nie.”

Zungu sê die regter het vandag die werkgewer gekap omdat hy versuim het om met die vakbond te vergader om die saak dringend op te los. “Die regter het die partye aangemoedig om te vergader en ʼn skikkingsooreenkoms aan te gaan.”

Volgens die skikkingsooreenkoms, wat ʼn hofbevel geword het, het die werkgewer ingestem om die memorandum terug te trek. “As ʼn vakbond het ons, as ʼn teken ter goedertrou, ons staking tot 28 April 2021 uitgestel.”

Die uitstel bied die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie kans om die saak te arbitreer. “Ons bly optimisties dat die KVBA in ons guns sal beslis.”

Zungu sê Samwu wil hê die werkgewer moet dringend aandag gee aan die kwessie, in die belang van sy lede.

“Vandag se demonstrasie was bloot ʼn waarskuwing indien die werkgewer versuim om aan ons eise te voldoen. Ons bly oop vir verdere gesprekke met die werkgewer in die belang van voortgesette en ononderbroke waterdienste aan inwoners wat deur Rand Water bedien word. As die werkgewer versuim om aan die eise van werkers te voldoen, kan ons ongelukkig nie waarborg dat inwoners en bedrywe, wat deur Rand Water in Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes bedien word, lopende water sal hê nie. Ons kan net hoop en bid vir reën – aangesien dit die enigste bron van water sal wees wat vir dié gebiede beskikbaar sal wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Persheks Adri ·

Demand nog demands en nog demands! Dis teen die wet om ons water af te sny. Ons het eintlik grondwetlike regte of besef die klomp dit nie? Moet ek nou in my swembad bad in die koue?

SomeOne ·

‘n prestasie bonus is nie ‘n maandelikse bonus nie en is nie noodsaaklik nie, net as jy PRESTEER, wat in elk geval nie plaasvind nie

Jack ·

Aansporingbonusse ?? Dit klink bietjie verdag.Moet jy nou aangespoor word om jou werk te doen en sommer met ‘n lekker bonus so nou en dan??

Hennie J ·

Dit is hoog tyd dat hierdie kripvreters van terrorisme/sabotasie aangekla word. Waar het jy al gesien ,behalwe in piesangland, dat n regering bang is vir vakbonde want hulle kan die ekonomie saboteer. Jaag hulle almal weg en stel mense aan wat wil werk!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.