Samwu ‘versigtig optimisties’ oor hulp aan munisipaliteite

(Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Dumisane Magagula, algemene sekretaris van Samwu, die vakbond vir munisipale werkers, het finansiesminister Enoch Godongwana se aankondiging oor ingryping in sukkelende munisipaliteite versigtig verwelkom.

Godongwana het Donderdag tydens sy eerste mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) gesê die nasionale tesourie sal 43 munisipaliteite bystaan wat ʼn finansiële krisis beleef en ʼn verdere 100 wat op die randjie van finansiële uitdagings staan.

“Die minister het verder aangedui dat provinsiale regerings spesifieke stappe sal moet doen waar daar munisipaliteite is wat finansieel swaarkry. Die minister is egter nie behoorlik deur die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) in kennis gestel van die omvang van uitdagings wat deur die land se munisipaliteite in die gesig gestaar word nie,” sê Magagula.

Volgens Cogta se barometer oor plaaslike regerings is 64 munisipaliteite tans heeltemal disfunksioneel, 111 is op die randjie van algehele ineenstorting en slegs 16 uit 257 is stabiel.

“Die uitdagings is finansieel van aard. In Kopanong- plaaslike munisipaliteit in die Vrystaat het werkers al drie maande lank nie salarisse ontvang nie. In verskeie munisipaliteite landswyd word geld vir derdepartye soos mediese fondse, pensioenfondse en begrafnispolisse van werkers se salarisse verhaal, maar die geld word nooit aan die derdepartye oorbetaal nie. Dit beteken dat die polisse verval.”

Magagula sê die uitdagings by munisipaliteite verg ingryping deur die nasionale en provinsiale regerings om seker te maak dat die munisipaliteite stabiliseer sodat voortgesette en verbeterde dienslewering verseker kan word. “Ons het vroeër gesien dat provinsiale regerings ingryp by munisipaliteite deur artikel 139, maar dit los nie die oorsake van die uitdagings op nie.”

Hy sê die inkortingsmaatreëls wat die nasionale tesourie toepas in alle sfere van die regering, insluitend munisipaliteite, is ʼn groot kommernis. “Ons het reeds aansoeke gesien vir kwytskelding van die onlangse kollektiewe salaris-ooreenkoms wat aangegaan is by die Bedingingsraad vir Suid-Afrikaanse Plaaslike Regerings (SALGBC). Sommige munisipaliteite voer aan dat hulle nie dié salaris- en loonooreenkomste sal kan implementeer nie, gebaseer op die finansiële herstelplanne wat hulle van die nasionale tesourie ontvang het.”

Samwu is dus besorg oor die aard van die stappe wat die nasionale tesourie in gedagte het vir die land se sukkelende munisipaliteite. “Ons kan nie net agteroorsit en toelaat dat die nasionale tesourie ons kollektiewe bedinging ondermyn en werkers ontneem van salarisverhogings wat hulle toekom nie.”

As die nasionale tesourie se onmiddellike opdrag is om bekwame plaaslike regerings te bou wat doeltreffend diens lewer, moes die nasionale tesourie die finansiering vir munisipaliteite geprioritiseer het, voeg hy by. “Dit kan nie reg wees dat die land se 257 munisipaliteite minder as 10% van regeringsuitgawes ontvang en daar dan van hulle verwag word om basiese dienste aan byna 60 miljoen inwoners te lewer nie.”

Samwu sal dus die stappe dophou wat die nasionale tesourie en provinsiale regerings in gedagte het. “Ons sal enige optrede teenstaan wat voordele aan werkers wil omkeer, veral wat betref salarisverhogings.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Yvonne ·

Miljoene der miljoene sal nie hulle bestuursvermoens verbeter nie….die hande gryp gulsig en gierig na elke sent

annie ·

… en nou dat nuwe motormodelle weer geadverteer word en die beursie is weer vol. Voor die paadjie nog nuwe duwweltjies groei tussen die rommel en riool moet ‘n man spring. En dan kan ons praat oor oortyd en die Kerspartytjie. En die Kaap se strande wag. Mammie wil hoeka weer soontoe vlieg?

Kokerboom ·

Staat probeer probleem oplos deur net ‘n pleister op wond te plaas sonder om wond te behandel.
Hoekom kan hul nie munisipaliteite regruk en ophou belastingbetalersgeld mors. Is dit so moeilik om te verstaan Minister?

Nico ·

Alles kan voor die deur van elke munisipaliteit gelê word. Baie sal gespaar word as elke raadslid sy eie voertuig koop, laat die amptenare wat vergaderings moet bywoon die pullcar gebruik, die pullcar moet deur die munisipalieit gekoop word, weereens sal hierdie voertuie misbruik word en lyk soos die polisie vangwaens. Daar munisipale amptenare wat ‘n groot salaris ontvang wat geen ondervinding of tersiêre onderrig gehad het nie, dit gaan hieroor ‘n tjommie, tjommie besigheid.

Shakespeare ·

Daar moet nie finansiële bystand of vergunnings aan Mun. gegee word nie. Hulle sorg goed genoeg vir hul eie sakke met korrupte planne.

Moedeloos ·

As jy n munisipale amptenaar is wat wel die werk doen en nie betaal word nie, sal jy ook nie gelukkig wees nie. Dis die topstruktuur wat verrot is maar die man wat op die grond werk ly die ergste. Raak eers ontslae van die vrot appels wat bo in die boom hang, dan sal die man op die grond sy geld kry wat hom toekom. Dit is nie sy skuld dat daar so baie korrupsie is nie.

KB ·

Met watter geld? Kom ons begin nou heelbo, en sny die president, sy ministers, LUR’e ens. se salaris-pakette met minstens 30%. Doen weg met al hulle veiligheids-/sekuriteits-wagte. Ons dank driekwart vd staatsdiens en munisipaliteite se vrothout af. Dan…eers dan, sal ek begin glo dat die minister ernstig is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.