Sanco eis dat koppe rol oor Mediosa-kliniekfinansiering

Dr. Aaron Motsoaledi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die Suid-Afrikaanse burgerlike organisasie Sanco het Sondag geëis dat Thabo Lekalakala, die hoof van die gesondheidsdepartement, in hegtenis geneem word te midde van bewerings van korrupsie in dié departement.

Sanco het ook gevra dat Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, se rol in dié korrupsie-bewerings ondersoek word.

Jabu Mahlangu, Sanco se nasionale woordvoerder, sê die liggaam eis dat ondersoek ingestel word aangesien Lekalakala erken het dat hy en sy vrou en ʼn ander egpaar, familievriende van hulle, ʼn vakansie na Indië aanvaar het wat deur die Mediosa-kliniek betaal is.

Mahlangu het ook gesê Mahumapelo se verhouding met die omstrede Gupta-familie word “deeglik ondersoek” omdat hy “skynbaar misbruik maak van sy openbare amp om die Guptas se belange te beskerm – nes hy gedoen het tydens die omstrede landing by die Waterkloof- militêre basis waarby hulle betrokke was”.

Mahlangu het Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, geprys vir sy ondersoek na die kliniek. Motsoaledi het Vrydag die mobiele Mediosa-kliniek besoek wat glo vooraf R30 miljoen finansiering van die Noordwes- departement van gesondheid ontvang het om dienste te verskaf. Die kliniek het glo ook finansiering van R180 miljoen ontvang vir die aankoop van ʼn enkele mobiele kliniek terwyl ander diensverskaffers nié geld ontvang het nie.

Hy het onder meer geëis dat die regering sy kontrak met die kliniek kanselleer. Oor die Gupta-bande met die kliniek het hy gesê: “Ek dink nie dit sal verkeerd wees om die kliniek as ʼn kitsbankkaart te beskryf wat die Guptas gebruik het om geld van die departement van gesondheid te onttrek nie. Ek kan dit ongelukkig op geen ander wyse beskryf nie.”

Mahlangu het gesê Motsoaledi moet hom nie steur aan Mahumapelo se uitlatings nie. Mahumapelo het in sý reaksie gesê Motsoaledi het baie “betreurenswaardige uitlatings” gemaak. “As die minister eers met ons gepraat het, sou ons hom nie gekeer het om te doen wat ook al hy graag wou doen nie. Ons sou hom ingelig het oor die vordering wat ons in hierdie verband maak,” het hy gesê.

Mahlangu het ʼn beroep op die regering gedoen om die departement van gesondheid in Noordwes onder administrasie te plaas.

Hy het voorgestel dat vooruitbetalings van miljoene rande aan diensverskaffers oor alle regeringsfere ondersoek moet word as deel van die staatskaping-ondersoek. “Dit is niks anders nie as die plundering van staatshulpbronne wat reeds aan ons bekend geword het by staatsbeheerde organisasies soos Eskom,” het hy gesê.

Motsoaledi het Vrydag aangekondig dat die gesondheidsdepartement se ooreenkoms met die Mediosa-kliniek gekanselleer gaan word omdat dit geen doel vir die departement in die provinsie dien nie.

Mahlangu sê diegene wat die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die tesourieregulasies oortree het, sal deur middel van dié ondersoek boet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

mense ·

R180miljoen vir n mobile kliniek? waarkan ek my cv stuur? ek maak onder andere trapreelings. ek kan doen met so n staatskontrakkie.

Alida ·

O aarde en hulle kom nou eers agter daar is fout NA al die miljoene geblaas is. Dank die hele spul af ASB.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.