Sanco eis ingryping ná nóg ʼn klipgooi-voorval

‘n Foto van die motor (Foto: ANA)

Die Suid-Afrikaanse burgerlike organisasie Sanco het die KwaZulu-Natalse pad- en verkeersbestuursowerhede en munisipaliteite Sondag versoek om maatreëls in te stel om klipgooi-voorvalle op die N2 stop te sit en dié wat verantwoordelik is vir die gepaardgaande lewensverlies aan die pen te laat ry.

Sanco het die voorval waarin ʼn 30-jarige man Saterdagaand ernstig beseer is toe ʼn klip na sy motor op die N2 in die Tongaat-omgewing in Durban gegooi is, veroordeel.

Dit is die vyfde soortgelyke voorval in dié provinsie, met uitsluiting van ander provinsies, in minder as ʼn maand en twee mense het al gesterf.

Jabu Mahlangu, woordvoerder van Sanco, meen die ontplooiing van beamptes om beweging op brûe en moontlike kwaaddoeners te identifiseer sowel as die installering van spreiligte en kameras kan lewens red.

Mahlangu het ook medelye met die Haffejee-gesin betuig. Maroela Media het vroeër berig Aamina Haffejee (16) en Abdur Haffejee (7) is dood toe ʼn reuseklip van ʼn brug in die Umhlali-gebied in KwaZulu-Natal op hul voertuig op die N2-snelweg onder die brug geval het.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval waarin die 30-jarige man beseer is, het Saterdag omstreeks 22:00 gebeur.

Volgens Mbele het die man verskeie beserings opgedoen en is na ʼn hospitaal gehaas. “ʼn Saak van poging tot moord word tans deur die Tongaat-polisie ondersoek,” het sy gesê.

Volgens Mahlangu vereis die “veragtelike voorvalle” onmiddellike en drastiese ingryping wat ʼn duidelike boodskap aan die oortreders sal stuur.

“ʼn Taakspan moet saamgestel word om te verseker dat alles moontlik gedoen word om motoriste wie se lewe deur hartelose anargiste met geen agting vir lewe bedreig word, te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

WAAROM ·

Hoekom moet SANCO vra vir ingryping? Sien die MINISTERS en President en persone wat verantwoordelik is vir die veiligheid van hulle inwoners nie SELF hier is ‘n probleem nie? Eerstens moes ons hulle gewys het op die PLAASMOORDE en Bendegeweld wat hulle net ongesiens wil laat verbygaan, nou moet ons hulle wys op die KINDERS wat sterf wanneer boulders van brue af gegooi word. Hoe lank kan die regering en ministers nog SLAAP terwyl hulle van ONS belastinggeld leef? En asb tog . moenie enigiets anders hiervan probeer maak nie , dit is WETTELOOSHEID, dit is kriminele wat WEET hulle gaan niks oorkom nie. Eerstens word hulle nooit gevang nie, en as hulle gevang word word hulle binne 2 ure weer vrygelaat.. CAGE DIE BRUE, dan is die probleem opgelos want duidelik wil julle nie die OORTREDERS vervolg nie, maak dit dan onmoontlik om misdaad te pleeg. Span alles toe, sit diefwering aan, sit cages om, sweis hoër relings aan of bou hoër relings, doen wat julle moet doen om die wetsgehoorsame burgers van die land EN HULLE KINDERS te beskerm.

Ditto ·

Sowaar ek kon dit nie beter stel nie, tyd die regering bykom. Hou op vakansie hou en niks doen,

marous ·

Want die Polisie het hulle seker gesmeek om iets te doen…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.