Sanco eis leefstyloudits van Eskom-hoofde

Argieffoto: GCIS

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie (Sanco) in Noordwes het Vrydag versoek dat leefstyloudits van voormalige Eskom-hoofde gedoen moet word.

Dit volg ná twee senior bestuurders van die kragvoorsiener en twee sakemanne in hegtenis geneem is en in die hof verskyn het op aanklag van geldwassery, bedrog en korrupsie wat met die konstruksie van die Kusile-kragstasie in Mpumalanga verband hou.

“Diegene wat hulself aanbied as ʼn moontlike oplossing tot die huidige krisis, soos voormalige uitvoerende lede Brian Molefe en Matshela Koko, moet ook hulself aan dié proses onderwerp,” het Paul Sebegoe, provinsiale voorsitter van Sanco, gesê. “Hulle moet wetstoepassers bystaan met hul ondersoek terwyl hulle hul beurt afwag by die staatskapingskommissie om te verduidelik waarom Suid-Afrikaners hul opportunisme moet aanvaar.”

France Hlakudi, voormalige kontrakbestuurder by Kusile, Abram Masango, Eskom se voormalige uitvoerende lid van groepskapitaal, Antonio Jose da Costa Trindade, uitvoerende hoof van Tubular Construction, en Maphoko Kgomoeswana, eienaar en bestuurder van Babinatlou CC, is Donderdag in hegtenis geneem in verband met beweerde bedrieglike kontrakte en korrupsie ter waarde van R745 miljoen.

Hulle het in die Johannesburgse streekhof verskyn en is vrygelaat op borgtog van R300 000 elk met ʼn verdere voorwaarde dat hulle hul paspoorte aan die ondersoekbeampte moet oorhandig. Die saak is tot 25 Mei 2020 uitgestel. Hulle staan tereg op aanklag van bedrog, korrupsie en geldwassery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.