Sanco hoogs ontevrede ná onnie bedank oor rassistiese uitlatings

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse burgerlike organisasie Sanco het Sondag gesê hy aanvaar nie die onderwyser van St. John’s College in Johannesburg se bedanking nadat hy rassistiese en neerhalende uitlatings gemaak het nie.

Sanco het in ʼn verklaring gesê die onderwyser moes afgedank gewees het, veral omdat hy tydens ʼn dissiplinêre verhoor skuldig bevind is.

Maroela Media het vroeër berig die man is skuldig bevind aan rassistiese en neerhalende uitlatings, dat hy die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders se gedragskode oortree het asook dat hy die skool se beeld skade berokken het.

Die St. John’s College het aanvanklik eers besluit om die onderwyser skriftelik te waarsku, maar hy het later sy bedanking ingedien.

“Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, moet onmiddellik ʼn ondersoek na die skool van stapel stuur om uit te pluis waarom sy bedanking aanvaar is. Dié besluit beskerm die oortreder en laat hom skotvry van die voorval afkom,” het Jabu Mahlangu, nasionale woordvoerder van Sanco, gesê.

Mahlangu het gesê die onderskeid tussen ʼn afdanking en bedanking is groot, aangesien ʼn bedanking nié ʼn skuldige aan die pen laat ry nie.

Hy het op die Menseregtekommissie (MRK) ʼn beroep gedoen om die voorval te ondersoek.

Mahlangu het ook gesê privaat skole word beskou as “basisse vir rassisme” omdat die skole “dikwels versuim om rassisme op die regte manier te hanteer”.

Hy het gesê die onderwyser moet voortaan verhoed word om weer in die onderwys te dien. “Rassisme moet uitgewis word by skole, en oortreders moet weet dat verdraagsaamheid daarvan ons demokrasie ondermyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Marisa ·

Hoekom so wraaksugtig? Hy is uit sy werk uit – of hy bedank of afgedank is, maak nie saak nie. In Suid-Afrika is afgedank en bedank al dieselfde ding.

Mielie ·

SANCO….dan is daar baie mense wat afgedank moes wees maar wat nogsteeds hulle werk het veral in staats departemente. Het hoop die MiWay man kom ook sy moses tee by sy werkgewer.

Hester ·

As dit swart op wit rassisme was dan sou hulle dit toesmeer!! Hemel laar die ou darem sy dignity behou!!!

vytjie ·

kom ons sien die prentjie so? U mnr die onderwyser die HERE sien U NIE eens in so `n plek nie. u TYD het aangebreek vir BETER geleenthede waar U GELUKKIGER sal wees. Tussen mense wat U VERSTAAN en aanvaar nes U IS!!!

Eish ·

Die klomp moet maar ontvrede wees. Die skool blyk een van die bestes in die land te wees. Sou jy jou kind daarheen stuur en hy gaan in die koshuis bly, gaan dit jou R201000.00 per jaar kos. Sou hy net n dagskolier wees steeds n allemintige R125 000.00 per jaar. Die skool is deur die Anglikaanse kerk gestig, 12 jaar na goud ontdek is aan die Witwatersrand. Die godsdienstige etiek is diep verweef in die skool se missie. As privaatskool, dus buite ogod(Ek skryf die organisasie se naam met kleinletters, waar dit hoort) se tentakels. Dit is logies dat die onderwyser nog n kans gegee gaan word, op sterkte van die godsdienstige etos, en het niks uit te waaie met Sanco nie. Dit is juis, myns insiens, net hier,waar skole wat Christelike etos uitleef, gaan bots met wetgewing. Dis uit en uit n Christelike beginsel om te vergewe en dis sekerlik ook in die skool se disiplinêre beleid ingebou. Dus heeltemal korrek opgetree soos hul aanvanklik gedoen het. Sanco soek nog bloed, in die geval, die skoolhoof sin.

Anoniem ·

Praat van skotvry, wat van die swart man wat ‘n epos gefabriseer het in die “my- way” versekeringshuis skandaal waar dit moes voorkom of dit van ‘n blanke persoon af kom. By gaan nie aangekla of vervolg word nie. Hy is meer besorg gewees van hoe die situasie deur spesiale media ontvangs is as oor die inhoud en omvang van die boodskap in die epos.

René Erwee ·

Die vet weet, alles maar alles is deesdae selektief rassisties – net na een kant toe. Dié arme koei word droog gemelk.

vytjie ·

Rene Erwee. EK sal U graag wil korigeer. DAAI koei gee laaaaankal poeiermelk.

Drikus ·

Konteks. Dit is seker nie iets wat Sanco lekker verstaan nie. Rassisties wraak ja dit verstaan hul goed. Of siek sensasie. Min, indien enige van die leerders wat in die onderwyser se geselskap was, het die praatjies as rassisties ervaar. O ja, die leerders het gewoonweg saam gesels en in die gees van Ubuntu mekaar speels geterg. Die onderwyser verdien nie die blatante heksejag teen hom nie. So ook nie die skool nie.

AL ·

Sanco shame! Wat van baie kriminele wat nog in hul regeringsposte is?? Ja nê!

Sputnik ·

Wraaksugtig verby! Die man het bedank, is nou sonder werk en julle wil hom steeds jag? Ek hoop regtig julle kan hom nie aanraak nie!

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek het op News 24 gelees waarvan die onderwyser (Mnr Arlow) beskuldig word en vir my klink dit nie na redes om hom af te dank nie. Dis ‘n goeie skool en onderwysers is met die hand uitgesoek, m.a.w dis ‘n goeie onderwyser met geen geraamtes in sy kas nie. Miskien was sy velkleur nie na wense nie , miskien dat hy moes plek maak vir ‘n minder suksesvolle onderwyser met die regte kleur? Miskien ‘n familielid wat met minder sukses nie ‘n ander pos kon bekom nie? Enigiets om van die witman ontslae te raak. Ons wittes moet so versigtig wees met wat ons se dat ons net wegbly van hulle vir ingeval ons ‘n volgende mev Sparrow word. My innige simpatie aan mnr Arlow wat nou met ander oe na mense van ‘n ander kleur kyk. Wie neem hom kwalik?

Patrys ·

Miway vergewe en hierdie lot ry die perd holrug. Daar is fout met hierdie prentjie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.