Sanco prys Hettema vir optrede ná haar pa se dood

Helena Hettema (Foto: Facebook)

Helena Hettema (Foto: Facebook)

Die burgerorganisasie Sanco het Saterdag Helena Hettema geloof vir haar dapperheid voor haar aandkonsert as ʼn huldeblyk aan haar pa wat die afgelope week op sy kleinhoewe vermoor is.

Helena, aktrise, sangeres, bekroonde kaberetster en liedjieskrywer, het Saterdagaand by die Sir Herbert-restaurant in Brooklyn, Pretoria, opgetree.

Maroela Media het vroeër berig haar pa, Jan Hettema, is Woensdagoggend op sy kleinhoewe in Tweedrag naby Boschkop in Gauteng vermoor.

“Ons veroordeel die misdaad ten sterkste en doen ʼn beroep op die gemeenskap om die polisie by te staan om die oortreders agter tralies te kry,” het Jabu Mahlangu, woordvoerder van Sanco, gesê. Hy het sy meegevoel met die Hettema-familie betuig.

Mahlangu het gesê die 83-jarige Hettema was ʼn “legende” en ʼn “nasionale held” wat nie verdien het om só gewelddadig vermoor te word deur “hartelose misdadigers” nie. “Geen steen moet onaangeraak bly totdat diegene wat die weerlose egpaar en hul werker aangeval het, in hegtenis geneem is nie.”

Volgens Mahlangu was Helena se besluit om met die konsert voort te gaan, wat aanvanklik as ʼn Franse aand by die deftige restaurant beplan is, ʼn triomf oor tragedie en behoort dit die gemeenskap aan te moedig om saam te staan teen gewelddadige misdaad. “Misdaad ken nie kleur nie. Dit gaan kulture te bowe en raak elke gemeenskap.”

Kapt. Marissa van der Merwe, woordvoerder van die polisie, het gesê die aanval het omstreeks 08:00 plaasgevind toe twee gewapende mans Hettema en sy vrou Elsa, en ʼn werker, by hul huis oorval het. “Jan is doodgeskiet en sy vrou is vasgebind. Die werker is in ʼn kas gedruk,” het Van der Merwe gesê.

Die aanvallers het glo ʼn skootrekenaar, selfone en juwele gesteel. Hettema se vrou en die werker het die aanval oorleef.

Die vyfjarige Helena saam met haar pa (Foto: Helena Hettema, Facebook)

Die vyfjarige Helena saam met haar pa (Foto: Helena Hettema, Facebook)

Helena het meegaande foto op Facebook gedeel met die woorde: “Ek wil almal bedank vir hul liefde in hierdie hartseer tyd. En dankie vir al die mooiste boodskappe op Facebook en Whatsapp – jammer ek kan nie almal antwoord nie. Die boodskappe is ‘n groot troos en genesing – baie dankie. Ek voel julle liefde.
This is one of my favourite photos with my dad when I was about 5 years old. He was on his way to the Monte Carlo rally
.”

Hettema het in 1955 Suid-Afrika by die Wêreldfietsrykampioenskap in Rome verteenwoordig en met sy terugkeer sy Springbok-kleure verwerf. In 1956 is hy gekies om aan drie fietsrygeleenthede as deel van die Olimpiese Spele in Australië deel te neem. Hy was ook ʼn uiters vaardige tydrenjaer en het meer as 100 tydrenne gewen, onder meer vyf keer die Suid-Afrikaanse nasionale tydrenkampioenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Helena, jy en jou familie maak ‘n groot indruk op ons. Mag julle vrede vind in hierdie moeilike tyd.

DANIE ·

Ek herrinner julle net daaraan dat Sanco ineen gestrengel is met die street committees in die townships en is n voedingsbron en werwings agentskap is vir die ANC lede en kiesers.
Die ANC het die kommando stelsel afgeskaf wat die boere gemeenskappe beskerm het. Die ANC wou nie plaasmoorde n preoriteits misdaad verklaar nie. Palo Jordan van Die ANC het destyds gelag terwyl hy gese het dat die blankes nie moet kla nie, want die misdaad het net van die townships na die blanke dele verskuif het.
Daar is nog vele ander dade van die ANC wat bewys dat jy hulle en hulle frontorganisasies nie kan vertou nie.
Vra Mahlangu bietjie oor hierdie punte uit en hy slaan n heel ander deuntjie in.

maroela ·

Niemand verdien om so geweldadig dood gemaak te word nie . Al is so n persoon arm , behoeftig ens . Waarom word daar gese hierdie man was n legende en n nasionale held daarom verdien hy nie om so dood gemaak te word nie ???. Jan Hettema was ook een van my helde en ek het hom bewonder , maar moord is onaanvaarbaar vir enige mens , ryk, beroemd of nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.