Sanco verwelkom premierskandidaat vir Noordwes

Job Mokgoro (Foto: ANA)

Die burgerregtegroep Sanco (South African National Civic Organisation) in Noordwes het Donderdag die ANC se nominasie van prof. Job Mokgoro (70) as premier van die provinsie verwelkom.

Paul Sebegoe, provinsiale voorsitter van Sanco, het gesê die manier waarop Mokgoro die provinsiale uitvoerende raad herstruktureer, sal ʼn aanduiding wees of hy beslissend gaan optree met die uitdagings wat deur die provinsie in die gesig gestaar word.

“Ons kan nie ignoreer dat Mokgoro deur die huidige provinsiale uitvoerende komitee van die ANC genomineer is, wat deel was van die Mahumapelo-administrasie nie. Ons vertrou dat die nasionale werkkomitee al hierdie faktore in ag geneem het toe die besluit geneem is,” het Sebegoe gesê.

Volgens hom is Mokgoro ʼn betroubare administrateur met baie ondervinding. “Die verantwoordelikheid om die huidige administrasie te stabiliseer, terwyl die aanbevelings van die inter-ministeriële taakspan vir goeie bestuur en doeltreffende stelsels geïmplementeer word, sal goed by hom pas.”

Hy het gesê Sanco sal Mokgoro ondersteun as hy nie betrokke raak by enige korrupsie of wanadministrasie nie en die behoeftes van die gemeenskap prioritiseer. “Die bal is nou in sy hande om sy patriotisme te demonstreer asook sy lojaliteit aan die mense van die Noordwes-provinsie wat na hom sal opkyk met die verwagting dat hy nie korrup is nie.”

Die DA het gesê Mokgoro se eerste 100 dae van Mokgoro se kort termyn as premier sal kritiek wees, gegewe die algehele ineenstorting van die provinsie. “Mokgoro se werk word gekniehalter deur die feit dat die provinsie verdeeld is en nog steeds deur Supra Mahumapelo gelei word, die ANC se provinsiale voorsitter in die provinsie. Kortom, Mahumapelo is steeds in beheer van die provinsie se sake,” het Jo McGluwa, die DA se provinsiale leier, gesê. “Wat die provinsie nodig het, is ware verandering wat werk skep, gehalte diens lewer en teen korrupsie optree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theo ·

Ai die gewese ou Wes Transvaal wat so agteruit gegaan het, hardseer om te sien hoe die dorpies verval het, en nou kry die Noordwes weer n ou wat volgens ANC die job kan doen,sal maar sien dalk supraise ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.