Sanco vra ondersoek ná tender wat glo ANC-hoë bevoordeel

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes. Foto: ANA

Die burgerregtegroep Sanco (South African National Civic Organisation) in die Noordwes het ʼn beroep op die openbare beskermer gedoen om aantygings van bedrog wat verband hou met ʼn multimiljoenrand-betaling aan verskeie maatskappye en patente wat Mvest Trust verteenwoordig te ondersoek.

Pule Mabe, die ANC se nasionale woordvoerder, het glo belange in Mvest Trust.

Paul Sebegoe, Noordwes-voorsitter van Sanco, het in ʼn verklaring gesê die ondersoek wat glo deur die Noordwes-ontwikkelingskorporasie se raad uitgevoer is, kan nie objektief en geloofwaardig wees nie.

“Ten beste kan dit beskou word as ʼn tipe toesmeerdery.”

Die provinsiale regering het glo ʼn tender aan Mvest Trust toegestaan om ʼn app vir ʼn droogskoonmaakdiens toe te ken ter waarde van R49 miljoen.

Die Noordwes-Ontwikkelingskorporasie se raad het glo vir Mike Mthumunye, die voormalige waarnemende uitvoerende hoof, ondervra. Dit is glo hy wat die betaling van R49 miljoen aan Enviro Mobi en Karika Media gemaak het.

Sebegoe meen tensy die ondersoek onafhanklik uitgevoer is, sal die bevindings hoogs bedenklik wees omdat “niemand verwag het die korporasie sal met ʼn verslag vorendag kom wat sigself onder verdenking plaas nie”.

Sebegoe meen verder dié bewerings weerlê ʼn uitspraak van premier Supra Mahumapelo dat sy administrasie, anders as die voriges, plaaslike besighede gebaat het eerder as eksterne rolspelers.

Volgens Sebegoe het die tender, wat in Junie verlede jaar toegestaan is, die handtekeninge van Mabe se neef, Eulender Rakoma, en Mabe se voormalige sakevennoot, Tinyiko Mahuntsi, bevat.

Mabe ontken dat hy voordeel getrek het uit die tender, maar het toegegee dat hy geregtig is op betalings aangesien hy die patenteienaar van die idee is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hanna Hoekom ·

Die hele Noordwes provinsie is in sy kanon in! Ek dink nie daar is een eerlike staatsamptenaar oor nie. Moenie julle asem ophou vir die OB nie, want sy was ook n politieke aanstelling en hopeloos onbekwaam.

Jacobus ·

Daar is nog steeds eerlike en hardwerkende staatsamptenare in die Noordwes provinsie wat elke dag hulle beste gee en probeer om alles aanmekaar te hou.

Hulle word net gemarginaliseer en uitgeskuif deur die wat die mag het.

Oom Kalahari ·

@Hanna Hoekom, jou stelling is perfek en in die kol. Noordwes en Limpopo is die broeiplekke van bedrog, korrupte amptenate en geweld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.