Sandra Prinsloo, ander deur US vereer

Argieffoto

Die humanitêre aktivis Imtiaz Sooliman en die veelbekroonde aktrise Sandra Prinsloo tel onder ʼn groep denkleiers wat in Maart vanjaar deur die Universiteit Stellenbosch met ʼn eregraad vereer gaan word.

Volgens die universiteit sal dié eregrade toegeken word as deel van die instelling se herdenking van sy eeufees.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die universiteit, sê al 14 ontvangers van die eregraad is “gerespekteerde plaaslike en internasionale denkleiers”.

“Die ontvangers vergestalt nie net die graduandi-kenmerke waarmee ons graag ons studente wil toerus nie, maar ook die eienskappe waarmee ons die toekoms wil aanpak noudat ons die tweede eeu van ons bestaan as ʼn toonaangewende universiteit binnegaan,” sê De Villiers.

Die gradeplegtigheidseremonies vind in Maart plaas.

Hier is die ontvangers:
Sandra Prinsloo
Prinsloo word vereer vir haar blywende impak op plaaslike kuns en kultuur as teater-, rolprent- en televisie-ikoon, haar bydrae tot die vestiging van die Suid-Afrikaanse kultuurskat, en die benutting van haar vaardighede om waarde toe te voeg tot die lewens van kwesbare groepe in die samelewing.

Dr. Imtiaz Sooliman
Sooliman word vereer vir die stigting van Gift of the Givers as ’n uitnemende werktuig vir noodleniging en hoop, die behendige toepassing van sy mediese opleiding om rampgeteisterde en kwesbare mense se lot te verbeter, en sy leierskap om ander te inspireer om ook die samelewing te dien.

Prof. Glynis Breakwell (sielkundige en visekanselier van die Universiteit van Bath in die Verenigde Koninkryk)
Breakwell word vereer vir die ontwikkeling van identiteitsprosesteorie, ’n invloedryke bydrae tot die sosiale sielkunde wêreldwyd, wat sy weg gevind het tot by die suidelikste punt van Afrika, waar dit ons steeds die veranderinge en bedreigings van die realiteit ná apartheid help hanteer en aan voorheen gemarginaliseerdes ’n stem gee.

Max du Preez (joernalis en onafhanklike kommentator)
Du Preez word vereer vir die inlui van ʼn nuwe era in die Afrikaanse joernalistiek deur sy beginselvaste en waagmoedige ondersoekende joernalistiek, sy onwrikbaarheid as kritiese stem vir geregtigheid in die Suid-Afrikaanse samelewing, en sy voortgesette geloofwaardigheid as morele kompas op ons reis om ons demokrasie te beskerm.

Prof. Musa Dube (akademikus en sosiaal-maatskaplike aktivis)
Dube word vereer vir die bekendstelling van ’n nuwe manier van Bybellees in die soeke na geregtigheid vir almal, waaronder Afrika-vroue en nasies wat steeds die gevolge van kolonisasie dra, en die innoverende ontginning van haar vakrigting om MIV en vigs in Afrika te bestry, synde ’n treffende voorbeeld van sosiaal betrokke vakkundigheid.

Trueman Goba (kampvegter vir transformasie)
Goba word vereer vir sy voortreflike bydrae om nasionale sleutelinfrastruktuur te voorsien, sy kernrol in die ontwikkeling en transformasie van Suid-Afrikaanse siviele ingenieurswese, sy diens as ’n denkleier wat nasionale nywerheid bevorder, en sy belegging in die samelewing deur jong aspirant-ingenieurs die pad na sukses te wys.

Prof. Peter Jones (kankernavorser en mediese wetenskaplike op die gebied van epigenetika)
Jones word vereer vir sy internasionale baanbrekerswerk ter bevordering van die mediese wetenskap en tegnologie, sy ontdekking van epigenetika en vernuftige omskakeling van sy uitvindings in kliniese behandelings wat miljoene kankerpasiënte wêreldwyd nuwe hoop bied, en sy voorbeeld van die innoverende gees waarna elke US-student moet streef.

Prof. Mervyn King (voormalige regter van die Hooggeregshof van Suid-Afrika)
King word vereer vir sy uitsonderlike strewe na meer verantwoordelike, inklusiewe korporatiewe bestuur, sy bydrae tot die verbetering van korporatiewe deursigtigheid en openbaarmaking, sy klem op ondernemings se sosiale impak en langtermynvolhoubaarheid, en vir sy navolgenswaardige voorbeeld van betrokke burgerskap en verantwoordelike leierskap.

Aartsbiskop Thabo Cecil Makgoba (kampvegter vir gelyke toegang tot onderwys en Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad)
Makgoba word vereer as die samelewing se morele kompas wat die waardes van menswaardigheid, wedersydse respek, geregtigheid en blywende vrede prakties uitleef, vir sy opregte verbintenis tot onderwys van gehalte vir almal, en sy bydrae om as nugter stem die samelewing sy weg deur onstuimige tye te help baan.

Patrice Motsepe (pionier vir verantwoordelike korporatiewe burgerskap)
Motsepe word vereer vir sy besondere entrepreneursvernuf en innoverende sakepraktyke, sy voorbeeld van verantwoordelike korporatiewe burgerskap, etiek en verantwoordbaarheid, en sy onbaatsugtige steun vir lewensbelangrike sake in Suid-Afrika, Afrika én die wêreld om armoede, werkloosheid, ongeletterdheid en siekte te bestry.

Andre Nel (mediese wetenskaplike navorser op die gebied van die nanogeneeskunde)
Nel word vereer vir sy veelvuldige hoëvlak- en immer uitnemende bydraes tot die wetenskap van nanogeneeskunde, allergie en immunologie, wat nie net die mediese wetenskap en tegnologie wêreldwyd bevorder nie, maar ’n voortgesette tasbare impak het om die wêreld veilig, gesond en omgewingsvriendelik te maak.

Prof. Brian O’Connell (onderwyskundige en voormalige Visekanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland)
O’Connell word vereer vir sy onvermoeide werk om sy instelling as een van die bestes in Afrika te vestig, sy toewyding aan die volle spektrum van Suid-Afrikaanse onderwys, en sy visionêre leierskap in die sektor in die geheel om te sorg dat onderwys nooit weer net ’n bevoorregte paar beskore is nie.

Barones Christine van den Wyngaert (Belgiese juris en akademikus)
Van den Wyngaert word vereer vir haar voortreflike bydraes tot menseregte en internasionale strafreg as ’n regter in internasionale howe en tribunale, haar akademiese stiptheid in die publikasie van invloedryke naslaanwerke oor die straf- en vergelykende reg, en waardetoevoeging tot die Universiteit Stellenbosch se regsaanbod deur haar jare lange verhouding met die instelling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Estelle ·

Baie geluk aan AL die benoemdes. Ek wil graag ‘n paar uitsonder wat vir my meer bekend is omdat ons julle en julle uitmuntende werk in uiteenlopende velde al goed leer ken deur die media oor baie jare:- Sandra Prinsloo, Max du Preez, Dr Andre Nel, dr. Imtiaz Sooliman. Wel gedaan. En waardeering vir Universiteit Stellenbosch vir die inisiatief om hierdie individue se werk te erken.’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.