Sandton-skietery: Verdagtes dalk by rooftogte betrokke

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Die polisie het Donderdag gesê die drie verdagtes wat Woensdag ná ʼn skietgeveg by die Grayston-afrit op die M1-hoofweg in Sandton, Johannesburg, in hegtenis geneem is, kan vermoedelik met rooftogte in die gebied verbind word.

Maroela Media het vroeër berig ʼn verdagte is in ʼn kritieke toestand na die hospitaal gehaas nadat hy in ʼn skietgeveg met die polisie betrokke geraak het.

Brig. Vish Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê die skietgeveg het ontstaan toe die polisie ʼn verdagte voertuig agternagesit het en vir die bestuurder aangedui het om stil te hou. Die verdagtes in die motor het op die polisiebeamptes losgebrand en die polisie het teruggeskiet. “Een van die verdagtes is ernstig gewond en twee ander is op die toneel in hegtenis geneem,” het Naidoo gesê.

Naidoo kon nie bewerings dat die mans deel is van ʼn sogenaamde “hamerbende” bevestig nie, maar het gesê die polisie ondersoek tans of die verdagtes dalk ook by ander misdade betrokke was. “Daar word vermoed dat die motor waarin die verdagtes gery het ʼn ruk gelede in die stad gekaap is. ʼn Vuurwapen wat in die motor gevind is, is vir ballistiese toetse gestuur om te kyk of dit met ander misdade verbind kan word,” het hy gesê.

Die verdagtes sal teregstaan op aanklagte van poging tot moord, die besit van ʼn gesteelde voertuig en die onwettige besit van ʼn vuurwapen.

Naidoo kon nie onmiddellik bevestig wanneer die verdagtes in die hof sal verskyn nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karma ·

Dit is seker hoekom hulle Sondagaand vir ou Mallemannetjie ook by die Grayston afrit afgetrek het (met die wit-vangwa en die hordes polisiemanne, tot die tande toe gewapen) – hulle het dalk ‘n “tip-off” gekry en hom aangesien vir een van die rowers! :-)))

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.