Sanef besorg oor munisipaliteit se besluit

Die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) het Dinsdag die raad van eThekwini (Durban) versoek om die voorgestelde reëls te laat vaar, wat moontlik daartoe kan lei dat verslaggewers uit sekere vergaderings verbied kan word.

Sanef het in ʼn vergadering gesê hy is besorg oor die raad se planne om nuwe reëls in te stel wat toegang sal beperk vir verslaggewers tydens sekere vergaderings, asook om die gebruik van elektroniese toerusting te beperk.

Judy Sandison van Sanef in KwaZulu-Natal, het gesê alhoewel die bespreking van die voorgestelde veranderinge op die agenda van die volgende raadsvergadering geplaas is, is enige poging om die media se toegang te beperk tot enige belangrike besluite wat die inwoners van Durban raak, ʼn skending van mediavryheid.

“Daar kan geen twyfel bestaan dat die beperkings, wat oorweeg word, ongrondwetlik is nie, en dit beteken die raad sal onwettig optree,” het Sandison verduidelik. Sy het gesê die raad het reeds die reg om toegang te beperk in buitengewone omstandighede, en verdere beperkings sal daartoe lei dat die publiek se reg om kennis te dra van besluite en inligting wat hul lewens raak, verder verminder word.

Op die vraag wat Sanef sal doen indien die versoek geïgnoreer word, het sy gesê: “As Sanef wil ons nie iets vooruitloop nie, maar ons hoop die raad sal die regte ding doen en nie stem dat die deursigtigheid van raadsvergaderings vir die publiek verminder word nie. Maklike toegang oor raadsaktiwiteite is noodsaaklik vir die burgers in ons demokrasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

As hulle niks het om weg te steek nie hoekom mag dit nie gepubliseer word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.