Sanef: ‘Bring bewyse teen joernaliste’

Winnie Madikizela-Mandela. Foto: Dumisani Sibeko/ANA

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het Vrydag diegene wat konkrete bewyse teen verslaggewers het wat na bewering die apartheidsregering ondersteun het, om dit in te dien en hul bewerings te staaf.

Dit kom ná bewerings deur wyle Winnie Madikizela-Mandela in Pascale Lamche se bekroonde dokumentêr, Winnie, dat verslaggewers deur die apartheidsregering betaal is om stories te fabriseer om haar beeld en nalatenskap te beskadig.

Vic McPherson, voormalige direkteur van die apartheidsregering se klandestiene strategiese kommunikasie-eenheid (StratCom), het in die dokumentêr besonderhede van Operasie Romulus aan die lig gebring – ʼn teenrewolusionêre strategie wat Madikizela-Mandela as sy primêre teiken in die oog gehad het.

StratCom was die apartheidsregering se vierjaarplan om die ANC te ondermyn en te verswak in die aanloop tot die eerste demokratiese verkiesing in 1994.

Sanef het in ʼn verklaring gesê hy neem kennis van die debat oor die rol van die media om valshede te versprei en sekere anti-apartheidsaktiviste te diskrediteer.

“Tydens die debat oor haar nalatenskap en ervaring as vryheidsvegter, word sommige verslaggewers daarvan beskuldig dat hulle spioene was, of operateurs wat probeer het om haar naam in oneer te bring deur stories te publiseer wat die apartheidsregering verskaf het,” lui die verklaring.

“Sanef erken ten volle die gewelddadigheid van die apartheidsregering en veldtogte waartydens valse inligting versprei is. Gegewe die konteks van hierdie leuens en propaganda, glo ons dit is kritiek dat konkrete bewyse ingedien word om dié bewerings te staaf dat spesifieke joernaliste die apartheidsregering se staatsekuriteit ondersteun het.”

Sanef het gesê sonder dié bewyse, is dit onverantwoordelik, gevaarlik en baie skadelik wat mediavryheid en die media-omgewing in sy geheel betref om sulke onbevestigde gerugte te versprei.

“Ons glo ook verslaggewers kan fisies in gevaar wees en hul geloofwaardigheid kan onnodig bevraagteken word. Diegene wat konkrete bewyse het van enige misstappe deur verslaggewers wat in daardie stadium gewerk het, moet na vore kom. Ons versoek ook dat gemoedere rustig sal wees, sodat ons ʼn sober debat kan hê oor die maniere hoe Mama Winnie se nalatenskap gekoester kan word en ons ʼn werklik demokratiese land kan bou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Christene ·

Ek kan dit glo. Dit gebeur in elke land, elke regering. Dit gebeur steeds. Kyk maar hoe lank het die media stil gebly oor die Guptas. Geld praat harder as waardes as dit by politiek kom.

Willem ·

Daar is ook beweer dat die NMFC, wat Winnie se lyfwagte was, almal lede van die destydse NI was om haar dop te hou. Ek het die verwysing na die berig geplaas, asook die naam van die persoon van NI wat die bewering gemaak het, dit is oral in die media berig vir almal om te sien, maar Meroela het dit raadsaam geag om hy kommentaar te sensor, en nou plaas hulle dié!

Antjie ·

Vic McPherson word in die berig genoem as die direkteur in daardie tyd, en die fluitjieblaser.

As dit SANEF meer pla as wat hulle net punte probeer verdien, kla die man aan vir bedreiging van joernaliste se lewens en geloofwaardigheid! Moenie kamtig dreig nie, doen dit! Ons as lesers wil graag die kaf van die koring geskei hê!

Andre ·

Daar is soveel leë woorde wat die wêreld ingestuur word oor Winnie Mandela … alles warm lug!

Fake News om koerante te verkoop!

Die arme omstrede vrou se dood word ‘gemelk’ vir goedkoop publisiteit deur ALMAL, en veral Julius Malema.

As Julius Malema eg bedroef voel oor Winnie se dood behoort hy hom in sy ‘binnekamer’ af te sonder om in privaatheid te treur.

Maar nee! Hy skree waansinnig ten hemele op publieke verhoë waar hy maksimum media blootstelling kan genereer.

Ek soek nog na iets substansieël waaraan Winnie Mandela se nalatenskap beoordeel kan word … iets meer as ‘warm lug’ … soos byvoorbeeld haar belastingbydrae tot die staatskas!

Het sy haar deel van die belastinglas bygedra tot die staatskas waaruit die armes, oues en weeskinders versorg word?

Ek sal graag wil weet hoeveel belasting sy betaal het aangesien dìt die enigste betroubare maatstaf sal wees waaraan haar nalatenskap beoordeel kan word.

Die res is warm lug!

CHRISTA ·

Andre, ek wonder net wie het hulle gebruik om die rol van Winnie te speel wat deur die strate geloop het met haar vuiste in die lug en geskree het “KILL THE BOER, KILL THE FARMER!!!” gevolg deur duisende!! VANDAG NOG dra ons die gevolge daarvan!! Seker ook net “WARM LUG”!! Dit behoort ons seker lekker warm te hou hierdie winter.

Gerhard ·

Is dit dalk die ANC se manier om van sy vyande ontslae te raak. Die ANC se Operasie Romulus.

Boerseun ·

Wag maar, hulle gaan nog die waarheids kommisie se besluite heroep en al die ja broers wat deel geneem het vervolg.

Jerry ·

Daar was Joernaliste vir apartheid en teen apartheid net soos daar vandag vir die ANC en teen die ANC is. Daar was n strategie teen alle anti-apartheidsaktiviste wat opruiende haat uitsprake gemaak het en daar was valshede opgedig nie net om hulle in oneer te bring, maar om hulle teen mekaar af te speel en net so vind dit vandag ook plaas. Mense staan nie almal aan dieselfde kant van die draad nie, nie tydens apartheid nie, nie nou nie en ook nie in die toekoms nie. Mama Winnie se gehate uitsprake en optredes teen haar eie mense het haar in onguns by ander ANC leiers gebring en na regte het sy haarself in oneer gebring. Wanneer jy slegte goed doen, dan volg dit jou en Mama Winnie se slegte goed het haar gevolg en dit is saam met haar na waar sy ookal heengegaan het. Haar sogenaamde “legacy” sal haar haat vir witmense, haar eie mense en joernaliste laat voortleef in haar nageslag, volgelinge en die EFF. Om n debat te voer is niks anders as n hekse jag en sal reg in die kraal van die EFF pas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.