Sanef gaan nie appelleer teen gelykheidshof-uitspraak

EFF-leier Julius Malema. (Foto: EFF/Twitter)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het besluit om nie teen die gelykheidshof se beslissing oor ʼn intimidasiesaak, wat in die guns van Julius Malema en die EFF gemaak is, te appelleer nie.

Luidens ʼn verklaring het Sanef ná deeglike oorweging en regsadvies aanvaar dat die gelykheidshof nie die geskikte forum was om sy griewe te lug nie. “Ons neem kennis van die uitspraak dat haatspraak baie spesifiek gerig is op die inherente eienskappe van ʼn mens, soos voorgeskryf in die Grondwet,” lui die verklaring.

Maroela Media het vroeër berig regter Daisy Molefe het bevind die media word nie beskerm ingevolge die Wet op Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Diskriminasie, oftewel die Gelykheidswet, nie omdat joernalistiek ʼn loopbaankeuse is. Dit is dus anders as ras of geslag, waaroor mense nie ʼn keuse kan uitoefen nie.

Die regter het luidens die berig ook gesê ongewilde, beledigende of omstrede opvattings is nie noodwendig haatspraak nie.

Dít volg nadat Sanef die gelykheidshof namens vyf joernaliste genader het op aanklagte van intimidasie, teistering en aanranding, nadat hulle verbaal aangeval is deur mense wat gesê het hulle is ondersteuners van die EFF.

Die verslaggewers is Ranjeni Munusamy van die Tiso Blackstar Group, die ondersoekende joernalis Pauli van Wyk, Adriaan Basson, redakteur van News24, Vrye Weeblad-redakteur Max du Preez, asook Barry Bateman, ʼn senior verslaggewer van EWN.

Malema het in November verlede jaar ʼn beroep op sy ondersteuners gedoen om af te reken met spesifieke verslaggewers wat hy daarvan beskuldig het dat hulle ondersteuners van “wit monopoliekapitaal” is.

Die verslaggewers het daarna talle dreigboodskappe ontvang en het hulle tot die hof gewend in ʼn poging om die EFF, Malema en sy volgelinge te verbied om joernaliste in die openbaar en op sosiale media te intimideer.

Molefe het wel in haar uitspraak gesê alle staatsorgane is verplig om die veiligheid en onafhanklikheid van joernaliste te beskerm.

“Hoewel Sanef sekere aspekte van die uitspraak problematies vind, is ons bly dat die hof die belang van die beskerming van joernaliste erken het,” lui die verklaring.

“Dit is nie die einde van die pad vir Sanef in die beskerming van joernaliste teen haatlike kommentaar en intimidasie nie. Ons beoog om alle toepaslike regsmiddele wat ingevolge wetgewing beskikbaar is, te gebruik.”

Sanef het gesê hy gaan ook steeds met politieke partye vergader sodat ʼn ooreenkoms tussen die media en politici bereik kan word oor hoe om te kommunikeer.

“Ons gaan ook voort om met politieke partye te vergader in ons strewe om in te stem tot ʼn kode vir samewerking tussen joernaliste en politici in ʼn grondwetlike demokrasie,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Ons het gewen, ons het gewen!!! Die Chivas Regal is uit soe hoe kan ons feesvier? Bel gou vir die maatskappy Floyd dat hulle ‘n kas bring. Ons het gewen, ons het gewen!!

Die uwe, Realiteit ·

. . . en ek het gedink die VBS-buit is klaar by die gastehuis in die Kaap uitgedrink?
Moet ook nie die rassistiese H&M klere vergeet nie, moes seker ‘n gat in die begroting gemaak het of hoe? Sal papsak die ding kan doen?

Bietjie dom ·

Ek verstaan nie lekker nie. Kan politici nou maar enigiets vir enigiemand se wat op haatspraak neerkom maar hulle is nie skuldig nie. Of is hulle net geregtig om haatspraak teen joernaliste pleeg?
En as n joernalis haatspraak teen n politikus pleeg kan die joernalis dan vervolg word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.