Sanef verwelkom uitspraak teen seinblokkeerder

Grafika: Clker-Free-Vector-Images, Pixabay

Grafika: Clker-Free-Vector-Images, Pixabay

Die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) het Donderdag die appèlhof se uitspraak verwelkom dat die seinblokkeerder, wat tydens verlede jaar se staatsrede by die parlement gebruik is, onwettig was.

“Die uitspraak is beduidend, want dit verteenwoordig ʼn oorwinning vir mediavryheid in ons land en die regte van verslaggewers om onverhinderd hul werk te doen,” het Katy Katapodis, adjunkvoorsitter van Sanef, gesê. “Ons beskou dit as ʼn oorwinning vir ons demokrasie, waarvoor ons hard baklei het, en ʼn oorwinning vir ons land se Grondwet.”

Die uitspraak deur die appèlhof volg nadat Sanef en Primedia Broadcasting appèl aangeteken het ná ʼn uitspraak in die Wes-Kaapse hooggeregshof in Mei vanjaar oor die gebruik van ʼn seinblokkeerder tydens verlede jaar se staatsrede en dat die regstreekse uitsending gesny is wat daartoe gelei het dat die publiek nie die chaotiese tonele kon sien tydens pres. Jacob Zuma se toespraak nie.

Die hooggeregshof het bepaal dat die kansellasie van die regstreekse uitsending nie op sensuur neerkom nie, aangesien die wetgewer die reg het om sy waardigheid te beskerm. Dit was ʼn terugslag vir mediahuise wat die hof genader het nadat die parlement sy kameras op die voorsittende beamptes gerig het, terwyl polisiebeamptes LP’s van die Ekonomiese Vryheidsvegters op 12 Februarie uit die kamer gesleep het.

Die hof het ook beslis dat die parlement nie verantwoordelik gehou kan word dat die selfoonsein in die huis op dieselfde dag geblokkeer is nie.

Die appèlhof het eenparig die hooggeregshofuitspraak omgekeer.

“Ek hoop dit stuur ʼn baie duidelike boodskap aan die owerhede, nie net in die parlement nie maar ook oor die land heen, dat ons in ʼn oop demokrasie bly en dat Suid-Afrikaners wel die reg het om te sien wat in ons instansies gebeur, veral in die Nasionale Vergadering,” het Katapodis bygevoeg.

Die parlement het ná die uitspraak in ʼn kort verklaring gesê hy neem kennis van die uitspraak. “Die parlement sal nou die uitspraak bestudeer,” het die wetgewer gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

humor ·

“Die parlement sal nou die uitspraak bestudeer” Ag nou vir wat? Of enige iets daaraan gedoen kan word. Hul voortdurende pogings tot toesmeerdery is die opsigtelikste van alles.

Cherokee ·

Daardie sin het my ook opgeval en ek sou daaroor gereageer het maar sien toe dat jy dit gedoen het. Dit word gebruik as soort van verleentheid wegsteek.

Pieta ·

Hulle gaan dit seker buitemuurs moet ‘bestudeer’, want die universiteite maak toe. Hehehe.

jaco ·

wonderlike uitspraak deur die hof, maar dit se niks van wie is skuldig nie. gaan iemand vervolg en gestraf word, of gaan dit maar net bly by mooi woorde deur die hof?

Sê net ·

Hulle “bestudeer” altyd alles. Net om weer appél aan te teken en weer ‘n bloutjie te loop.

Maria van Dieweeck ·

SO niks van zuma, wat agter alles sit? Hy het geweet daar gaan probleme wees daai dag en het die instruksies gegee.

Johann ·

En al die tyd en moeite en MASSAS geld aan regskostes om wat te DOEN? Want “bestudeer” beteken hulle gatte daaraan afvee en prep vir n volgende verleentheid. Sidder om te dink wat die Regering/ANC aan regskostes betaal. Ons belasting geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.