Sanef wil SAUK8-skenkings ondersoek

SAUK-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het Vrydag ʼn onafhanklike ouditeur aangestel om ʼn beweerde skenking van R100 000 te ondersoek wat Bosasa Operations glo betaal het om ʼn veldtog te finansier vir ʼn groep van agt joernaliste wat by die openbare uitsaaier geskors is.

TimesLive het Dinsdag berig dat dit wil voorkom of Bosasa, nou bekend as African Global Operations, die geld oorbetaal het aan ʼn skarefinansieringsveldtog om die joernaliste in 2016 met hul regskoste te help.

Bosasa is onthul as ʼn sleutelspeler in staatskaping en dat staatsamptenare omgekoop is om winsgewende tenders te bekom.

Die SAUK8 was verslaggewers wat geskors is toe hulle hulself uitgespreek het teen sensuur van beeldmateriaal oor betogings by die SAUK.

TimesLive het gesê hy het ʼn e-pos gesien waarin die voormalige uitvoerende hoof van Bosasa, Angelo Agrizzi, ander amptenare opdrag gegee het om die skenking van R100 000 te maak, en gesê dit sal die “beste opbrengs op die belegging wees”.

Agrizzi getuig tans teen die maatskappy by die Zondo-kommissie van ondersoek na bewerings van staatskaping. Hy het gesê Bosasa het omkoopgeld aan sommige verslaggewers betaal om nie sekere stories te publiseer nie.

Alhoewel Sanef Woensdag enige skenking van Bosasa aan die SAUK8 ontken het, en hy nie enige bewyse kon vind in sy eie ondersoek nie, het die organisasie nou gesê hy dink dit is nodig om die feite en sy posisie in groter besonderhede bekend te maak. “Ons het ʼn onafhanklike ouditeursfirma (die naam sal later bekend gemaak word) aangestel om volledig ondersoek in te stel ter wille van deursigtigheid. Ons sal die bevindings ten volle publiseer sodra dit afgehandel is,” het Sanef in ʼn verklaring gesê.

“Lede van die publiek het die etiese verbintenisse van Sanef in twyfel getrek toe die beweerde e-pos van Bosasa aan die lig gekom het. Ons benadruk dat ons nooit geld van Bosasa versoek het nie.”

Sanef het gesê alhoewel redaksionele foute tot ʼn gebrek aan vertroue lei, maan hy die publiek om nie georganiseerde pogings te onderskat wat die geloofwaardigheid van verslaggewers en hul pogings om die publiek in kennis te stel, in twyfel probeer trek nie.

“Ons sal egter nie swak joernalistiek goedkeur nie en sal ʼn onafhanklike kommissie van ondersoek aanstel om geloofwaardigheid en etiek in die media te ondersoek. Lede van die publiek sal aangemoedig word om deel te neem en klagtes aan te meld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.