SA’ner al vroeg uit Ope

Lloyd Harris is in die eerste ronde van die Australiese Ope deur Aleksandar Vukic uitgeskakel. Foto: Joe Klamar/AFP/Argieffoto.

Die nuwe jaar het glad nie so goed vir Suid-Afrika se Lloyd Harris op die baan begin as wat dit verlede jaar geëindig het nie.

Die jong Suid-Afrikaner is in die eerste ronde van die Australiese Ope in Melbourne deur Aleksandar Vukic uitgeskakel; ’n speler wat 144ste op die wêreldranglys is.

Die eindtelling was 4-6, 6-3, 7-5 en 7-6 in die 25-jarige Australiër se guns.

“Dit is ’n droom wat waar geword het. Ek onthou hoe ek as kind na hierdie baan gekom het om al my helde in aksie te sien. Om nou self die geleentheid te kry om hier te speel én boonop te wen, is ’n onbeskryflike gevoel,” het Vukic gesê.

Harris het die openingstel op ’n drafstap gewen, maar met sy tuisskare wat hom aangespoor het, het Vukic goed terugbaklei om uiteindelik in vier stelle te seëvier.

Die Suid-Afrikaner is tans 33ste op die wêreldranglys, maar ’n positiewe Covid-19-toets in Desember het sy voorbereidingswerk vir die Australiese Ope in die wiele gery.

Hy het egter verlede jaar uitstekende tennis gespeel om onder meer met Rafael Nadal, Kei Nishikori, Stan Wawrinka en Denis Shapovalov af te reken en hy sal graag op sy sukses wil voortbou.

Intussen het die einste Nadal minder as twee uur nodig gehad om met die VSA se Marcos Giron af te reken. Die eindtelling was 6-1, 6-4 en 6-2 in sy guns.

’n Voetbesering het die veglustige Spanjaard in 2021 vir ’n hele paar maande langs die baan gehou en hy het ná die afloop van die Giron-wedstryd gesê dat hy bly is om weer terug te wees.

“Dit was ’n baie moeilike tyd in my lewe en die twyfel het maar aan ’n mens begin knaag. Ek is egter so dankbaar om weer tennis in hierdie ongelooflike stadion te kan speel,” het die 35-jarige speler gesê.

Dan is Cameron Norrie ook in die eerste ronde uitgeskakel.

Die Britse speler, wat in Johannesburg gebore is en verlede jaar die Indian Wells-toernooi in Kalifornië gewen het, is deur Sebastian Korda geklop.

Die eindtelling was 6-3, 6-0 en 6-4 in die jong Amerikaner se guns.

  • Ander uitslae:

Maria Sakkari (5) klop Tatjana Maria met 6-4 en 7-6

Naomi Osaka (13) klop Camila Osorio met 6-3 en 6-3

Matteo Berrettini (7) klop Brandon Nakashima met 4-6, 6-2, 7-6 en 6-3

Denis Shapovalov (14) klop Laslo Djere met 7-6, 6-4, 6-3 en 7-6

Victoria Azarenka (24) klop Panna Udvardy met 6-3 en 6-1

Gael Monfils (17) klop Federico Coria met 6-1, 6-1 en 6-3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MrMagic ·

Aangesien een van die wêreld se bestes nie toegelaat was om te speel nie gaan dit seker na dese die “Australiese Toe” toernooi heet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.