SA’ner blink uit by Chileense ultramarathon

Armand du Plessis tydens Ultra Fiord 2016 Foto: Graciela Zanitti | iloverunn.com

Armand du Plessis tydens Ultra Fiord 2016 Foto: Graciela Zanitti | iloverunn.com

Armand du Plessis, ʼn ultramarathon-atleet van Kaapstad, het die land se naam hoog gehou toe hy die derde plek op die podium gehaal het tydens ʼn 160 km-wedloop onder uiterste omstandighede in Chileense Patagonië.

Du Plessis was die enigste Suid-Afrikaner wat al ooit die Ultra Fiord aangepak het en het die afstand in 20 uur en 41 minute afgelê. Hy was boonop eerste in sy kategorie 30 – 39 jaar.

Die Ultra Fiord is ʼn internasionale veldwedloop (“trail run”) in die verre suide van Chileense Patagonië, naby Puerto Natales. Dié deel van die wêreld is volop fjords wat deur reusagtige gletsers gevorm is. Atlete moet uitdagende weerstoestande oor ʼn tegniese terrein aandurf: deur riviere, modder en sneeu, deur woude en oor bergpieke. Die wedloop is tussen 14 en 16 April gehou en dit was die tweede keer wat dié wedren aangebied is.

Een van die deelnemers, die Mexikaan Arturo Héctor Martinez Rueda (57), is op die roete oorlede, vermoedelik weens verkluiming.

“Die weersomstandighede verander baie vinnig,” het Du Plessis aan Maroela Media verduidelik. “Dis baie belangrik om gefokus te bly deur die loop van die wedren. Wanneer mens uitgeput raak, dan kan ʼn rots soos ʼn lekker plek lyk om net vir ʼn oomblik te gaan sit en jou oë toe te maak. Dit sal egter lewensgevaarlik wees – dis wanneer mens verkluim.”

Maroela Media het vroeër berig oor Du Plessis wat in Augustus verlede jaar een van drie Suid-Afrikaners was wat die 170 km Ultratrail Mont Blanc in Chamonix, Frankryk, afgelê het.

Hy het intussen in Oktober die Grand Raid Réunion (167 km) en in Maart die Transgrancanaria (125 km) op een van Spanje se Kanariese Eilande afgelê.

Du Plessis moes boonop die goue reël, om nie enigiets nuut tydens ʼn wedloop te probeer nie, verbreek. Op pad terug van Transgrancanaria het Iberia-lugredery sy bagasie en ʼn groot deel van sy ultramarathon-toerusting, waaronder skoene en ʼn waterrugsak, verlê. Du Plessis het so byna weens dié verlies uit die Ultra Fiord-wedloop onttrek, maar vriende het hom oorreed om dit tog aan te pak en hy moes nuwe toerusting aankoop. “Ek het al begin hardloop toe ek besef die seël is nog nie gebreek op my nuwe waterpak nie!” Volgens hom is die grootste terugslag dat meeste van die toerusting boonop nie in Suid-Afrika te koop is nie.

Du Plessis, oorspronklik van Pretoria en wat tans in Kaapstad woon, is die hoof tegniese beampte van Hornet, ʼn afspraak-app. Ondanks lang werksure lê dié langasem weekliks ongeveer 70 km af en het vanjaar tot op datum reeds meer as 1 000 km kafgedraf. Sy voorbereiding was hoofsaaklik om afstand in sy bene te kry – en hy erken hy kon nie in voldoende koue toestande oefen nie.

Vir hom is musiek een van die belangrikste hulpmiddels op die pad en hy luister enigiets van Fleetwood Mac se “Go your own way” tot Iron Maiden, Metallica, “The Sound of Silence” (Disturbed) en ʼn nuwe toevoeging, Nach – ʼn kletsrymer van Spanje. Tydens die Ultra Fiord was dit met tye só koud dat sy iPod se skerm gevries het – die musiek het darem bly voortspeel.

Die water in sy rugsak het ook “soos ʼn slush-puppy” begin ys.

Du Plessis het met dié wedloop – deur die modder, sneeu en riviere – eers spesiale room aan sy voete gesmeer om skaafplekke en blase te verhoed en ook koperverweefde kouse gedra.

Vir hom is die Ultra Fiord ʼn “wilde resies” teenoor die Mont Blanc wat goed georganiseerd is. “Tydens hierdie wedloop is jy op jouself aangewese. Jy moet weet waarvoor jy jouself inlaat.”

Wedrenorganiseerders het intussen in ʼn verklaring bevestig, ná Rueda se afsterwe, dat hulle volgende jaar strenger maatreëls gaan toepas, maar voeg by “ons sal die geleentheid se ‘wilde gees’ behou”. “Ultra Fiord sal steeds ʼn egte en unieke resies bly, met die stempel van die fjords, in ʼn afgeleë, geïsoleerde plek – gebou vir berghardlopers. Om ʼn Ultra Fiord-hardloper te wees sal steeds ʼn uitdaging bly, iets wat beteken dat jy die geografie, isolasie en klimaat, en veeleisende en semi-onafhanklike resiesformaat moet aanvaar.”

Du Plessis sê die hardlopery bly vir hom net ʼn stokperdjie. “Mens kan ongelooflike plekke sien. Dis plekke waar mens nooit andersins sou kom nie. Ek wens net ek kon meer foto’s neem – maar [tydens dié wedren] my kamera het gevries.”

Die Ronda Dels Cims, die “wêreld se taaiste 100 myl-wedloop” wat in Andorra plaasvind, is in Julie op Du Plessis se kalender. Hy kan uitsien na 13 000 meter vertikale klim oor 15 kruine.

Hy hoop ook om ʼn inskrywing te kry vir die Tor de Geants – ʼn 330 km-wedloop in September in Italië. “Dit sal ʼn eenkeer-in-ʼn-leeftyd-ervaring wees.”

Atlete van 24 lande en ses kontinente het aan Ultra Fiord 2016 deelgeneem.

Die Switser Thomas Ernst was eerste oor die eindstreep in ʼn tyd van 17 uur en 41 minute. Die Japannees Tsuyoshi Kaburaki was tweede oor die wenstreep ná 18 uur en 53 minute.

Yitka Winn van Amerika was die eerste vrou oor die wenstreep in ʼn tyd van 23 uur en 24 minute.

*Baie dankie aan fotograaf Graciela Zanitti vir die foto’s. Besoek gerus haar Facebook-blad vir nog merkwaardige foto’s van Ultra Fiord 2016.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Eliza-beth ·

Mooi so, dit moet baie van mens se liggaam vat om so-iets te kan doen. Ek sal maar op tv na sulke goed kyk ; D. Maar ek bewonder diegene wat so-iets doen.

Reinhardt ·

Absoluut fantasties. Ek is vreeslik jaloers op hierdie ouens, my ITB laat my nie toe om sulke afstande af te le nie. Dalk eendag.

Mariette ·

Wow baie geluk Armand dis n groot prestasie!! Volg al jou hardloop avonture op Facebook. Jy maak jou mede hardlopers jaloers. Sterkte met al jou wedlope verder!

Armand du Plessis ·

Baie dankie vir die kommentaar :) Gevoel het uiteindelik na my tone teruggekeer! Was nogals ‘n ondervinding.

Aster ·

Baie baie geluk Armand! Jy maak ons SA harte warm klop met trots!!!

Coenraad ·

WOW!!!!!!!!! DIT KLINK SOOO COOOL!!!!!!!!! … vir eendag as ek ‘n bionic lyf het. NEE! Dis nooit te laat nie. Go go go!

Lourens ·

Ek het in comodore rivadavia gebly ken daai valley in chilli armand geluk dis koud en vat cuts

Mariette Hammann ·

Baie geluk, Armand! Suid-Afrika kan trots wees op so ‘n atleet met ‘guts’! Dit kos baie moed en deursettingsvermoë om hierdie wedloop te voltooi, wat nog te sê van so goed presteer! Sterkte vorentoe.

Richard la cock ·

Al die beste vir daai Andorra race! Min mense weet maar dis a tougher race as die Utmb, die Utmb kry net al die aandag omdat dit so oud is. Ek het Mitic 108km aan gepak in 2014. Glo nie ek sal die 100 myl kan aan vat nie!

Andrew Meyer ·

Baie geluk Armand! Ek het die voorreg gehad jare gelede om ook daai gedeeltes in Chile te sien en besef watter groot prestasie jy behaal het. Jou ouers is ook baie trots op jou. Doen so voort om SA trots te maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.